Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Hoe sê? Konke kulungile! Taalwerksessie lei tot fassinerende insigte
Outeur: Corporate Communications and Marketing (Hannelie Booyens)
Gepubliseer: 12/09/2023

​In watter taal maak jy jou inkopielys? Watter uitdrukking in 'n ander taal behalwe jou moedertaal gebruik jy gereeld? Beïnvloed taal jou daaglikse funksionering? Dit was van die vrae wat deelnemers aan 'n werksessie oor meertaligheid moes beantwoord. Die werksessie, getiteld Building Communities through Multilingualism: A look at academic spaces (“Bou gemeenskappe deur meertaligheid: 'n Kykie na akademiese ruimtes"), is deur 'n uiteenlopende groep van sowat 80 personeellede van al tien fakulteite bygewoon. Die Taaldag-geleentheid is onder die vaandel van die Eenheid vir Leer- en Onderrigverryking van die Universiteit Stellenbosch (US) deur Taalsentrum aangebied. Dit was deel van die Universiteit se tweejaarlikse Taaldag-aktiwiteite om positiewe gesprekke oor taal by die instelling aan die gang te sit.

Prof Deresh Ramjugernath, Viserektor: Leer en Onderrig, het in sy verwelkomingstoespraak die konteks vir die US se nuwe taalbeleid gegee wat die US Raad in 2021 goedgekeur het. Die hersiene beleid gee uitvoering aan die Taalbeleidsraamwerk vir Openbare Hoëronderwysinstellings wat betref taalgebruik in die Universiteit se akademiese, administratiewe, professionele en sosiale kontekste.

Ramjugernath het gesê die US is verbind tot meertaligheid aangesien taal 'n meganisme is wat kan verenig en kohesie kan skep. “Ons is almal op 'n taalreis. Vandag se werksessie is n geleentheid om na te dink oor ons taalreis en die rol wat taal in ons persoonlike groei en ontwikkeling gespeel het. Eerder as om ons te verdeel, kan taal aangewend word om verhoudings te bou en onderlinge begrip te kweek."

Die werksessie is deur Marisca Coetzee en Sanet de Jager gefasiliteer en hulle is bygestaan deur ander lede van die US Taalsentrum se personeel. Die sessie was daarop gemik om maniere te vind om doserende personeel te help om taalverwante scenario's in die lesingsaak holisties te bestuur met die fokus op waardes wat deur 'n meertalige ingesteldheid gestuur word.

'n Meertalige ingesteldheid is as die bereidwilligheid gedefinieer om jouself met die idee te vereenselwig dat meertaligheid belangrik en voordelig vir die bevordering van inklusiwiteit en diversiteit is, en om bewustelik ruimtes vir individuele en institusionele meertaligheid te skep.

Deelnemers het gedurende die interaktiewe sessies die geleentheid gekry om te besin oor 'n verskeidenheid aspekte van hulle persoonlike taalreis en -identiteit. Hulle is gevra om om na te dink oor hoe hulle eie en studente se identiteit by die lesingsaalgemeenskap inpas. Die groepe het ook besin oor die waardes wat onderrig-leer-assesseringspraktyke dryf en oor die ooreenstemming tussen meertaligheid en hierdie waardes beraadslaag.

Dr Naina Ralaivaosaone van die Departement Wiskunde het in sy oorweging van die waarde van die werksessie gesê hy waardeer sy kollegas se uiteenlopende perspektiewe. “Hoewel dit moeilik is om in wiskunde 'n groot verandering ten opsigte van tale te maak, het daar baie praktiese oplossings na vore gekom. Een van die insigte wat ek saam met my sal neem, is om geleenthede in die klas te skep om 'n stem aan studente te gee wat verskillende tale praat. Ek het vóór die werksessie geweet taal kan 'n hindernis vir leer wees, maar die besprekings vandag het my maniere laat raaksien om struikelblokke te oorkom."

Prof Catherine du Toit van die Departement Moderne Vreemde Tale het gesê dit is bemoedigend om te sien hoeveel mense nog steeds waarde aan meertaligheid heg. “Terwyl die meeste universiteite meestal talle dringende kwessies soos finansiële probleme moet hanteer, is dit bemoedigend dat tyd en geld nog steeds op die waarde daarvan om meer as een taal te verstaan, gespandeer word. Ek glo vas eentaligheid is die ongeletterdheid van die 21ste eeu," het Du Toit bygevoeg. 

Dr Zelda Barends van die Departement Kurrikulumstudie het gesê sy het dit geniet om indrukke met kollegas oor meertaligheid te wissel. “Die taalbeleid kan soms as blote wensdenkery voorkom. Om die uitdagings aan te pak soos ons vandag gedoen het, sal help met die dag-tot-dag-implementering daarvan."

Die Taaldagwerksessie het daarin geslaag om te beklemtoon wat 'n meertalige ingesteldheid behels, meen dr Antoinette van der Merwe, Senior Direkteur: Leer- en Onderrigverryking. “Die deelnemers se bydraes was baie waardevol om die weg te baan vir 'n bestepraktykplan vir ons oor hoe om ons pad deur meertaligheid in die lesingsaal te vind."​