'n Nuwe era het vir die teoretiese en berekeningswetenskappe in Suid-Afrika en verder aangebreek met die Departement van Wetenskap en Innovasie (DWI) en die Nasionale Navorsingstigting (NNS) wat die aansoek van die Universiteit Stellenbosch (US) en sy konsortiumvennote aanvaar het om die tuiste van US se Nasionale Instituut vir Teoretiese en Berekeningswetenskappe (National Institute for Theoretical and Computational Sciences - NITheCS) te wees.
Die konsortium bestaan uit 25 Suid-Afrikaanse universiteite en institute* wat vyf nodusse sal uitmaak met elke nodus wat 'n hoof of klusterleier het.
Die nodushoofde is prof Will Horowitz (UK – Wes-Kaap), prof Joao Rodrigues (Wits – Gauteng); prof Sunil Maharaj (UKZN – KwaZulu-Natal), prof Azwinndini Muronga (NMU – Oos-Kaap en Vrystaat) en prof Du Toit Strauss (NWU – Noordelike streek), met prof Francesco Petruccione (US) as die tussentydse direkteur van NITheCS.
NITheCS dien as 'n dinamiese platform waar 'n menigte wetenskaplike temas binne 'n stimulerende omgewing saamvloei. Dit word gewy aan die strewe na uitnemendheid in 'n reeks vakgebiede wat Teoretiese Fisika, Wiskunde, Sterrekunde en Astrofisika, Statistiek, Datawetenskap, Kwantitatiewe Finansies, Bioinformatika en Kwantitatiewe Biologie, Aardstelselmodellering en Klimaatsveranderingmodellering insluit. Deur op hierdie uiteenlopende, dog onderlingverbonde gebiede te fokus, is die Instituut uniek geposisioneer om tot die ontwikkeling van voorpuntnavorsing by te dra wat Suid-Afrika se dringendste ekonomiese en maatskaplike uitdagings aanspreek.
Die US-konsortium het onder leiding van prof Sibusiso Moyo, Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studies by die US, met die ondersteuning van die ander viserektore in die konsortium – insluitend met die ondersteuning van Moyo se voorganger, prof Eugene Cloete - 'n multi-tematiese aansoek ingedien wat 'n streng beoordelingsproses deur 'n onafhanklike paneel bestaande uit internasionale kundiges deurloop het.
“Dit is vir die Universiteit Stellenbosch 'n groot eer om NITheCS te kan huisves. Ons Universiteit is 'n nasionale bate wat deel uitmaak van die Suid-Afrikaanse nasionale stelsel van hoëronderwysinstellings en lewer deurgaans 'n beduidende bydrae tot vaardigheidsopleiding, navorsing en innovasie. Die Universiteit en sy vennote het baie ervaring in die huisvesting van van die land se voorste sentrums van uitnemendheid. Ons glo ons kan saam met ons konsortiumvennote ons vaardigheidsbasis versterk, veral in die basiese wetenskappe, en ons kan tot kennisproduksie en uitnemendheid in navorsing bydra op die gebiede waarop NITheCS sal fokus. Ons sien daarna uit om voort te gaan om 'n leidende rol in die uitbreiding van die basiese wetenskappe in Suid-Afrika en Afrika te speel."
“NITheCS verwelkom die goeie nuus wat ons van die DWI/NNS ontvang het en ons het groot waardering vir die bydraes wat die 25 vennootinstellings gelewer het om die konsortiumaansoek saam te stel," sê Petruccione, wat ook die samestelling van die 279-bladsy lange konsortiumvoorstel gekoördineer het. “Ons moet ook erkenning gee aan prof Moyo vir die groot rol wat sy in die suksesvolle uitkoms van hierdie konsortiumaansoek gespeel het."
“'n Tussentydse fase het in 2020/2021 begin toe die Nasionale Instituut vir Teoretiese Fisika (NITheP) in NITheCS begin verander het. Daar is reeds baie bereik, maar hierdie nuus sal NITheCS in staat stel om nog meer te doen. Die Instituut het reeds talle colloquia, mini-skole, seminare, wiskundeskole, onderwysersopleidingsessies, openbare lesings, mentorskap- en internskap-programme, asook 'n NNS-geadministreerde NITheCS-beursprogram gereël," voeg Réne Kotzé, bestuurder van die Instituut, by.
Lewendige wetenskaplike ekostelsel
“NITheCS het en sal voortgaan om die behoeftes en uitdagings wat voortspruit uit die Vierde Industriële Revolusie en die opkoms van kunsmatige intelligensie (KI) aan te spreek," verduidelik Petruccione. “NITheCS omarm 'n 'nie-dissiplinêre' benadering deur die probleem voorop te stel en dan met die hulp van kundigheid van regoor Suid-Afrika, Afrika en die wêreld ingewikkelde vrae op te los, ten einde invloedryke en toepaslike navorsing te verseker, transformerende verandering aan te dryf en 'n lewendige wetenskaplike ekostelsel te kweek."
NITheCS se strategiese doelwitte sluit die skep van nuwe kennis in fundamentele wetenskappe, die ondersteuning van invloedryke navorsing, die vestiging van studentepyplyne van voorgraadse tot nagraadse tot postdoktorale en vroeëloopbaaninnovasie en die aanspreek van sosio-ekonomiese ontwikkeling deur opleiding en navorsing in.
Huidige navorsingsprogramme behels masjienleer, genomika en bioinformatika, kwantumtegnologieë vir volhoubare ontwikkeling, berekeningsmodellering van materiale, biodiversiteitsinformatika en ekologiese modellering, ruimteagtige wiskundige strukture, kwantitatiewe finansies en klimaatsveranderingmodellering.
* Die Afrika-instituut vir Wiskundige Wetenskappe (AIMS), Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (KSUT), Universiteit Stellenbosch (US), Universiteit van Kaapstad (UK), Universiteit van Wes-Kaapland (UWK), Universiteit van die Witwatersrand (Wits), Universiteit van Johannesburg (UJ), Universiteit van Suid-Afrika (UNISA), Universiteit van Pretoria (UP), Tshwane Universiteit van Tegnologie (TUT), Vaal Universiteit van Tegnologie (VUT), Universiteit van KwaZulu-Natal (UKZN), Durban Universiteit van Tegnologie (DUT), Mangosuthu Universiteit van Tegnologie (MUT), Universiteit van Zoeloeland (UNIZUL), Nelson Mandela Universiteit (NMU), Sentrale Universiteit van Tegnologie (CUT), Rhodes Universiteit (RU), Universiteit van Fort Hare (UFH), Universiteit van die Vrystaat (UV), Walter Sisulu Universiteit (WSU), Noordwes-Universiteit (NWU), Universiteit van Limpopo (UL), Universiteit van Mpumalanga (UMP) en die Universiteit van Venda (UV).