Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Matieland Konsert is hoogtepunt van Tuiskoms 2023
Outeur: Development & Alumni Relations
Gepubliseer: 05/09/2023
Is jou kaartjies al bespreek?

Die Universiteit Stellenbosch (US) skyn die kollig op talentvolle alumni in die vermaakbedryf by sy heel eerste Matieland Konsert wat op Saterdag 16 September in Stellenbosch plaasvind. Die konsert beloof uitsonderlike optredes deur die vioolspeler Kirsty Bows, bekende sanger en liedjieskrywer, Koos Kombuis, RAAF, die sanger-liedjieskrywerspaartjie wat die treffers inryg en voorheen as Bottomless Coffee Band bekendgestaan het, en die wenners van die Universiteit se a capella-sangkompetisie (Sêr).

Hierdie Konsert is deel van die Universiteit se jaarlikse Tuiskomsnaweek vir alumni wat vanaf Donderdag 14 September tot Saterdag 16 September op sy Stellenbosch- en Tygerbergkampusse plaasvind. Verskeie geleenthede is regdeur die naweek vir alumni beplan.

Hierdie geleethede sluit in 'n Gholfdag by die gesogte Stellenbosch Gholfklub; die gewilde Maties Soirée wat Matie-wynmakers en makers van alkoholvrye drankies bymekaarbring; vooraanstaande sakekenners wat hulle insigte by 'n Sakeontbyt gaan deel; asook verskeie bestaansjaarvierings en reünies.

Die Matieland Konsert vind plaas by die Endlersaal, Konservatorium en begin om 18:30. Kaartjies kos R200 per persoon en kan aanlyn by Quicket bespreek word (KLIK HIER).

Die volledige program v​ir die naweek se gebeure is HIER beskikbaar. Indien jy enige navrae het, stuur asseblief 'n e-pos aan homecoming@sun.ac.za of skakel +27 21 808 2710.