Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Goeie regering is die grondslag van ’n suksesvolle nasie, sê Ouditeur-generaal
Outeur: Tendani Tshauambea
Gepubliseer: 31/08/2023

“Goeie regering is die grondslag waarop 'n suksesvolle nasie gebou word. Dit is nie net 'n gonswoord nie."

Dit was die woorde van die Ouditeur-generaal (OG) van Suid-Afrika, me. Tsakani Maluleke, die genooide spreker by die 11de jaarlikse Frederik Van Zyl Slabbert (FVZS) gedenk-lesing, wat aangebied is by STIAS en aanlyn via YouTube.  Maluleke is 'n geregistreerde geoktrooieerde rekenmeester (OG, in Engels CA) met meer as 20 jaar ondervinding van ouditering, konsultasie en ontwikkelingsfinansiering en die eerste swart vrou om die pos van OG te beklee in die instelling se 109-jarige geskiedenis.

Die FVZS lesing word jaarlikse aangebied deur die Sentrum vir Studenteleierskap, Ervaringsopvoeding en Burgerskap (SSLEOB), en vier die werk en lewe van wyle dr. Frederik Van Zyl Slabbert, wat 'n politieke analis, sakeman, politikus en anti-apartheid aktivis was.

Die lesing is bygewoon deur vriende en familielede van dr. Van Zyl Slabbert, studente, professionele, administratiewe en ondersteuningspersoneel en akademici van die Universiteit Stellenbosch (US).

Die tema van die lesing was 'Goeie regering, goeie burgerskap? Wat vereis Suid-Afrikaners van betrokke burgerskap?'. Om kontekstuele agtergrond te verskaf vir die jaarlikse lening het prof Deresh Ramjugernath, die US se Viserektor: Leer en Onderrig, die voortgesette relevansie van dr. Van Zyl Slabbert se nalatenskap uitgewys as deel van Suid-Afrika se missie van demokratisering deur sy toegewydheid tot etiese leierskap, inklusiewe en demokratiese waardes.

“In 'n jong demokrasie soos Suid-Afrika waar die uitdagings om 'n stabiele en billike politieke stelsel te bou, voortduur, dien sy [Frederik Van Zyl Slabbert se] toewyding tot demokratiese waardes as 'n riglyn vir leiers en burgers," het Ramjugernath gesê.

Tot eer van die bydrae gemaak deur dr. Van Zyl Slabbert as 'n burger betrokke by die samelewing het die OG gedeel hoe die kantoor van die Ouditeur-generaal van Suid -Afrika (OGSA) bydra tot goeie regering deur hul mandaat van “bevordering van oorsig, aanspreeklikheid en goeie regering in openbare instellings deur oudit."

Deel van die OGSA mandaat sluit in die strewe om te verseker dat die ondervinding van demokrasie 'n werklikheid is vir alle Suid-Afrikaners in hul daaglikse lewens. Sterk leierskap en etiese regering, sê Maluleke, kan 'n positiewe impak hê op burgers se ervaring van demokrasie.

“Heeltemal te veel hulpbronne en fondse word nie aangewend vir die voorgenome doel nie, wat burgers blootstel aan geweldige swaarkry. Paaie en ander infrastruktuur word nie ordentlik onderhou nie, en burgers word benadeel deur ontoereikende toegang tot kwaliteit gesondheidsorg. Hulle word benadeel deur onvoorspelbare toegang tot skoon water, sowel as toenemende besoedelde omgewings," het sy bygevoeg.

“Ouditkunde en rekeningkunde vir ons as professionele mense gaan nie net oor die aanbied van 'n opinie nie [want] dit is die maklike deel; ons grondwetlike mandaat strek verder as net die syfers," sê sy.

As 'n Hoofstuk 9 instelling is die OGSA onderworpe aan die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996 en verseker dat sy funksie as 'n  hoogste oudit-instelling (SAI) onafhanklik en effektief vervul word in nastrewing van sy mandaat. Deur gebruik van die onafhanklikheid, aansien en sukses van OGSA as 'n publieke sektor instelling het sy die waarde van sterk openbare instellings in die lewens van burgers van Suid-Afrika beklemtoon.

“Goeie regering," het Maluleke gesê, “is 'n verbintenis tot deursigtigheid, aanspreeklikheid en verantwoordelike leierskap in alle seisoene, goed of sleg."

Volgens Maluleke vereis dit ook aanspreeklikheid van staatsamptenare, instellings en die magte aan hulle verleen, en groter betrokkenheid van burgers by die taak om Suid-Afrika te bou.

Maluleke het die behoefte aan groter burgerlike betrokkenheid beklemtoon, en dr. Van Zyl Slabbert se opmerking in sy biografie aangehaal dat “in Suid-Afrika het ons probleme om op te los waarvoor die res van die wêreld geen oplossings kon vind nie. Dit op sigself is 'n groot uitdaging maar veel meer kommerwekkend is die verwagtings wat mense het van wat demokrasie kan oplewer, en wat navorsing toon dit nie in staat is om te lewer nie. Dit is, in die Suid-Afrikaanse konteks, die ware las van demokrasie."

Met die finansiële ondersteuning van die Konrad-Adenauer Stiftung (KAS), 'n stigting wat toegewy is om vrede, vryheid en geregtigheid te bewerkstellig en te handhaaf deur politieke opvoeding, het CSLEEC ten doel gehad om die lesing as 'n platform vir kritiese betrokkenheid by huidige Suid-Afrikaanse politieke en bestuurskwessies te gebruik.

Die program vir die aand het ook 'n voordrag ingesluit deur MfundiThePoet, wat beelde gebruik om kwessies van leierskap, 'n gebrek aan aanspreeklikheid en hopeloosheid onder die jeug aan te spreek.

Maluleke het die aanwesiges herinner dat ten spyte van die uitdagings van die openbare sektor dit steeds beman word deur staatsamptenare wat probeer werk vir die algemene beswil van die samelewing.

“Beskerming van instellings is die enige wyse waarop ons verbetering kan volhou om uiteindelik aan almal 'n beter lewe te verseker.

“Die pad na 'n sterker Suid-Afrika lê in die samevoeging van goeie regering en goeie burgerskap. Saam kan ons 'n pad inslaan wat verseker dat ons die waardes van deursigtigheid, aanspreeklikheid en respek vir die oppergesag van die reg handhaaf en dit terwyl ons ons edele ambisies vir die bou van 'n demokrasie verwesenlik wat 'n beter en meer waardige lewe vir almal verseker," het Maluleke afgesluit.​​