Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Besoekende Brasiliaanse akademici opgewonde oor vooruitsigte van groter samewerking
Outeur: Corporate Communications and Marketing
Gepubliseer: 29/08/2023

​ʼn Afvaardiging van Brasiliaanse akademici, wat sowat 20 hoëronderwysinstellings verteenwoordig en deur die Brasiliaanse Vereniging van Rektore van Staats- en Munisipale Universiteite (Abruem) gereël is, het die Universiteit Stellenbosch (US) op 24 Augustus besoek.

Die besoek, wat ten doel gehad het om internasionale samewerking en kennisuitruiling te bevorder, het sowat 50 rektore, viserektore en senior amptenare van verskeie Brasiliaanse staatsuniversiteite byeengebring.

Abruem, ʼn prominente organisasie in Brasiliaanse en Latyns-Amerikaanse hoër onderwys, dien as ʼn forum vir die bespreking van sleutelkwessies wat verband hou met hoër onderwys, belyning van pedagogie, navorsing, gemeenskapsbetrokkenheid, innovasie en globale vennootskappe. Met ʼn netwerk wat oor 22 Brasiliaanse state strek en wat uit 47 vennootuniversiteite bestaan, speel Abruem ʼn deurslaggewende rol in die bepaling van nasionale onderwysbeleide en die fasilitering van samewerking met federale instellings en die regering.

Die buitelandse afvaardiging se reisprogram het ʼn toer ingesluit van die US-kampus, gelei deur Randall Adams, (Senior Koördineerder van die US se Internasionale Kantoor), en ʼn onthaal by die US Museum. Die formele deel van die program het afgeskop met ʼn hartlike verwelkoming deur dr Nico Elema, Direkteur van die Sentrum vir Samewerking in Afrika (CCA) by die US se Internasionale Kantoor. Besoekende rektore en kanseliers is voorsien van inligtingspakkies met besonderhede oor verskeie aspekte van die US.

ʼn Hoogtepunt was ʼn aanbieding deur die US se Rektor en Visekanselier, prof Wim De Villiers, wat ʼn oorsig van die Universiteit se akademiese landskap gebied het, met ʼn spesifieke klem op die verbintenis tot internasionalisering. Die aanbieding het moontlikhede uitgestippel vir die sluit van vennootskappe tussen die US en die Brasiliaanse instellings wat deur die afvaardiging verteenwoordig is.

De Villiers het gesê al het hy Brasilië nog nooit besoek nie, is hy as ʼn dokter bewus van ooreenkomste tussen die twee lande. “Ons deel baie mediese probleme wat aansteeklike én nie-oordraagbare siektes betref. Daar is ook verskeie areas van moontlike navorsingsamewerking tussen ons lande op die gebied van biomediese wetenskappe, asook klimaatstudies, datawetenskap en landbouwetenskappe."

Hy het melding gemaak van die baanbrekerswerk wat prof Tulio De Oliveira en sy spanne by die US tydens die Covid-pandemie gedoen het en die gevorderde wetenskaplike navorsing wat by die US se Sentrum vir Epidemiese Reaksie en Innovasie gedoen word. Hy het ook verwys na sosio-ekonomiese ooreenkomste, ontwikkelingskwessies en die nalatenskap van kolonialisme en slawerny wat die geskiedenis van sowel Suid-Afrika as Brasilië bevlek het.

Prof Odilon Maximo De Morais, Rektor van die Staatsuniversiteit van Alagoas en President van Abruem, het uitgewei oor die Brasiliaanse hoëronderwyslandskap en Abruem se doelwitte om akademiese vordering en ontwikkeling te fasiliteer.

Die besoek het geëindig met slotopmerkings waarin die belangrikheid van globale akademiese samewerking om hedendaagse uitdagings aan te pak weer eens benadruk is.

Luiz Felipe Pereira, Adjunk-konsul van die Brasiliaanse konsulaat in Kaapstad, het sy dankbaarheid namens die afvaardiging uitgespreek. “Ons is baie opgewonde oor hierdie besoek, want dit het die lede van die vereniging van Brasiliaanse universiteite in staat gestel om eerstehands te sien wat ʼn top-universiteit in Suid-Afrika kan bied."

Pereira het gesê Suid-Afrika en Brasilië is beide toenemend op soek na lande in die suidelike halfrond om mee saam te werk. In die konteks van die onlangse Brics-vergadering in Suid-Afrika lyk die toekoms blink vir wedersyds voordelige akademiese projekte en studente-uitruiling, het hy afgesluit.

Prof Ticiana Grecco Zanon Moura van die Staatsuniversiteit van Santa Cruz het gesê die lede van die Brasiliaanse afvaardiging was baie beïndruk met wat hulle in Stellenbosch gesien het. “Dit was ʼn groot plesier om jul pragtige kampus te ervaar en om te hoor hoe omvangryk die Universiteit se impak wêreldwyd en in Afrika is. Ons stel veral daarin belang om kragte saam te snoer met Suid-Afrikaanse akademici in velde soos geneeskunde, landbou, klimaat en biodiversiteitstudies." Sy het bygevoeg die besoek beklemtoon die verbintenis van beide partye om kennis op ʼn globale skaal te bevorder.

ʼn Onthaal- en netwerksessie het gevolg, waar die Brasiliaanse besoekers op plaaslike kultuur, insluitend Stellenbosse wyne en lekkernye, getrakteer is.