Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Navorsing oor riviermond maanskynwurms besorg toptoekennings aan PhD-studente
Outeur: Faculty of Science (media & communication)
Gepubliseer: 24/08/2023

​Phd-studente in mariene biologie aan die Universiteit Stellenbosch het onderskeidelik die eerste en derde prys ontvang vir hulle mondelinge voordragte oor die riviermond  maanskynwurm, ('n gewilde aasspesie in die Wes-Kaap) tydens die onlangse International Polychaete Conference.

Stephanie Schoeman het die eerste prys ontvang vir haar voordrag getiteld: “The reproductive strategies of Diopatra aciculata (Annelida) in the Knysna Estuary", terwyl  Hendré van Rensburg die derde prys gekry het vir sy mondelinge voordrag getiteld: “Expanding our understanding of the diet and trophic role of the cryptogenic estuarine moonshine worm (Diopatra aciculata) in warm temperature estuaries of South Africa". Hulle albei het hul navorsing gedoen onder die studieleiding van Prof. Carol Simon, 'n kundige op die gebied van “polychaetes", in die US se Departement Plant- en Dierkunde.

Mariene wurms (met die wetenskaplike naam Polychaetes) dien as kos vir voëls of vis, hulle herwin mariene kompos én hul tonnelgrawery hou die sand suurstofryk. Hulle ekologiese rol is dus soortgelyk aan die van erdwurms op land. Die meer as 11 500 spesies vertoon ontsaglike diversiteit, wat hulle in staat stel om elke mariene habitat denkbaar te bewoon.

Marinewormbanner2.png

Van Rensburg het tydens sy MSc-studies vir die eerste keer gewerk op hierdie groot wurms − wat in buise woon − in die sand van die  Knysnariviermond. Voorheen is hierdie spesifieke wurm verwar met ander spesies van die Mediterreense gebiede. Voordat hiérdie verwarring opgeklaar is, is gedink dat die wurm 'n onbeskryfde spesie, endemies aan Suid-Afrika is. Na DNS-analise het dit egter geblyk dat dié spesie ook in Australië gevind word: “Dus, totdat verdere werk gedoen is, weet ons steeds nie of dit 'n inheemse of uitheemse spesie is  nie," verduidelik hy.

Die uitdaging lê egter in die feit dat die spesiepopulasiegetalle oor die afgelope 25 jaar ontplof het: “Gegewe die populasiegrootte en die feit dat dit die onmiddellike omgewing verander, verwag ons dat dit 'n omvangryke impak op die bentiese gemeenskap en ekosisteem sal hê," voeg hy by.

Vir sy PhD-navorsing ondersoek Van Rensburg die verbruikersrol van hierdie spesie in die Knysna- en Keurboomsriviermondings. In hierdie verband kombineer hy sy kennis in fisika, chemie, biologie en wiskunde om spesiale koolstof- en stikstofatome, sogenaamde stabiele isotope, deur die bentiese voedselweb na te volg. Met dié inligting kan hy vasstel wat die diere eet en waar die riviermond maanskynworm in die bentiese voedselketting inpas.

“Ek is ook besig om DNA uit die spysverteringstelsel van dié spesies te analiseer, ten einde vas te stel watter spesies deur hulle gevreet word," voeg hy by.

Schoeman se navorsing ondersoek die oorsprong van die wurms en hul verspreidingspatrone in Suid-Afrika: "Ons wil verstaan hoekom die riviermond maanskynwurm in sulke hoë digthede voorkom, ondanks die feit dat vissermanne hulle op groot skaal as aas gebruik. Om dit reg te kry, fokus ek op die regenerasie- en voortplantingsstrategieë van hierdie wurms ten einde lig te werp op hoe hulle in staat is om te oorleef," verduidelik sy.

Tot dusver het haar navorsing agtien maande se veldwerk in die Knysnakusgebied vereis. Sy hoop dat haar navorsing 'n bydrae sal lewer in bewaringspogings om hierdie diverse ekosisteem te bewaar en dit as 'n belangrike sosio-ekonomiese hulpbron te beskerm.  

Van Rensburg benadruk hoe belangrik dit is dat bioloë en ekoloë die interaksies en verbande tussen organismes in die bentiese gemeenskappe van Suid-Afrika se riviermondings moet verstaan, veral hoe die kleinste verandering in 'n parameter, 'n groot ekosisteemwye verandering kan veroorsaak.

“Uiteindelik gaan dit oor die beskerming van hierdie ekosisteme en hulle gemeenskappe," sluit hy af.

Die 14de International Polychaete Conference is van 3 tot 7 Julie 2023 deur die Universiteit Stellenbosch en Iziko Museums Suid-Afrika aangebied – die eerste keer dat die konferensie in Afrika aangebied is. Prof Simon is die onmiddelike vorige president van die International Polychaete Association en was ook die voorsitter van die reëlingskomitee. Die 119 deelnemers afkomstig van 25 lande, was verantwoordelik vir 70 mondelinge en 70 plakkaatvoordragte. Meer as 20% van die afgevaardigdes het van vyf Afrikalande gekom (Suid-Afrika, Kenia, Ghana, Tunisië, Namibië en Etiopië) en het ag mondelinge en 13 plakkaatvoordragte gelewer.

“Die konferensie was suksesvol met die bevordering van samewerking tussen Afrika en internasionale navorsers, en ons is vol vertroue dat dit sal lei tot baie meer navorsing oor see wurms op die kontinent," sê Prof Simon.

Die konferensie is voorafgegaan deur 'n indentifikasiewerkswinkel (29 Junie tot 1 Julie) wat gefasiliteer is deur internasionale kundiges van Spanje, Rusland, Brasilië, Frankryk, Australië, Wallis, Noorweë en Suid-Afrika. Die 25 deelnemers was hoofsaaklik van Suid-Afrika afkomstig, maar het ook deelnemers van Namibië, Ghana, Japan, en Ysland ingesluit. Die meeste plaaslike deelnemers was professionele omgewingskonsultante of amptenare van die Departement Bosbou, Visserye en die Omgewing. Die werkswinkel het gefokus op die identifisering van seewurms wat behoort aan sewe families wat die meeste in bentiese monsters voorkom.  

Fotos ​van die riviermond maanskynwurm: Hendré van Rensburg & Stephanie Schoeman.

Op die fotos bo: Hendré van Rensburg en Stephanie Schoeman besig in die laboratorium in Prof. Carol Simon se navorsingsgroep in die Departement Plant- en Dierkunde. Fotos: Wiida Basson