Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Biodiversiteit van natuurlike woude buffer felheid van uitheemse boomindringing
Outeur: Wiida Basson (Media: Faculty of Science)
Gepubliseer: 24/08/2023

'n Nuwe studie wat hierdie week in Nature gepubliseer is, het gevind dat die inheemse biodiversiteit van natuurlike woude, grootliks die felheid van uitheemse boomindringing teenwerk.

Die slegte nuus is egter dat die méns steeds meestal verantwoordelik is vir die aanvanklike inbring en bekendstelling van uitheemse boomspesies in 'n gebied – hetsy opsetlik of per abuis.   

Dít is twee van die hoof bevindings van 'n globale studie wat gedoen is om die relatiewe belangrikheid van menslike aktiwiteit, omgewingstoestande, en biologiese diversiteit as drywers van boomindringing wêreldwyd te bepaal. Die studie, getiteld “Native diversity buffers against severity of non-native tree invasions" is op 23 Augustus 2023 in die vaktydskrif Nature gepubliseer.

Prof Cang Hui, wat die Suid-Afrikaanse navorsingsleerstoel in wiskundige en teoretiese fisiese biowetenskappe by die Universteit Stellenbosch (US) beklee, en een van die mede-outeurs van die studie as deel van die Global Forest Biodiversity Initiative (GFBI), sê bome word aan 'n wye verskeidenheid ekologiese en menslike faktore blootgestel. Hy voeg by dat boomindringing aan die een kant 'n drywer van globale omgewingsveranderinge is, maar terselfdertyd ook 'n “passasier" in die proses is.

Bogenoemde is 'n gevolg van hul grootte, hul lang lewensduur en die belangrike rol wat hul speel in bosboubedrywighede, as voedselbron, in stadstuinaanplantings en herbebossing, asook in koolstofsekwestrasie en klimaatsregulering. Dog sukkel indringingsbioloë al lank om die ekologiese meganismes te identifiseer wat die indringingsukses van 'n klein gedeelte van uitheemse boomspesies aandryf.

Hulle bevindings ondersteun die biotiese weerstandhipotese, wat van mening is dat groter diversiteit in die inheemse gemeenskap die ekologiese nisse sal vul en beskikbare hulpbronne sal verminder, en sodoende uitheemse spesies sal verhinder om nisspasies in te neem.

Die prominente rol wat menslike aktiwitieite speel was egter 'n verrassing: “Ons bevindings dui daarop dat menslike aktiwiteit ekologiese drywers van indringing kan oorweldig, en selfs die invloed van ekologiese prosesse kan verminder," waarsku hy.

Herhaaldelike menslike bekendstelling van plantspesies, veral naby hawens en lughawens, speel 'n belangrike rol in die aanvanklike bekendstellingsproses. Die  felheid van die indringing is egter hoofsaaklik afhanklik van die intrinsieke diversiteit van die inheemse gemeenskap.

Daarom is dit belangrik om natuurlike woude te bewaar ten einde 'n hoë vlak van  inheemse boomdiversiteit te behou, skryf hulle in die artikel.

Verder, omdat baie boomspesies opsetlik bekendgestel word vir bosboudoeleindes of om plaaslike lewensbestaan te ondersteun, beveel hulle aan dat plaaslike belanghebbendes ingesluit word in die beluitneming oor hoe om die beste voordeel te trek uit hierdie bestuurde woude.

Van die ander bevindings:

  • Die mees algemene uitheemse bome in die GFBI se databasis is Witakasia (Robinia pseudoacacia), Skotse den (Pinus sylvestris), Indiaanse soetlemoen (Maclura pomifera), Fynspar (Picea Abies) en Hemelboom (Ailanthus altissima).
  • Noord-Amerika, Europa en Oos-Asië is die streke met die hoogste waarskynlikheid vir indringing.
  • In omgewings wat ekstreme koue of hitte beleef het, is die uitheemse bome soortgelyk aan die inheemse gemeenskap.
  • Gematigde omgewings stel 'n groter verskeidenheid spesies in staat om te oorleef.

Lees die artikel:

Delavaux et al. (2023) Native diversity buffers against severity of non-native tree invasions. Nature, https://www.nature.com/articles/s41586-023-06440-7

Photo by Michael Michelovski on Unsplash