Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Innoverende aanlyn kortkursus bring studente in aanraking met werklike volhoubaarheidskwessies
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking
Gepubliseer: 08/08/2023

Die Universiteit Stellenbosch (US) bied weer binnekort sy innoverende Future 17 Doelwitte vir Volhoubare Ontwikkeling (DVO) Uitdaging-kortkursus aan waarby internasionale studente en vennote van regoor die wêreld betrokke is.

Studente wat daarin belangstel om die belangrikste aspekte van die Verenigde Nasies se Doelwitte vir Volhoubare Ontwikkeling (DVO'e) te leer ten en einde 'n sigbare verskil in hulle gemeenskappe te maak, het tot 13 Augustus om vir die kursus aansoek te doen. Die kursus duur van September tot Desember vanjaar. US-personeellede wat reeds 'n PhD behaal het, kan ook aansoek doen om as akademiese mentors op te tree.

Dit sal die vierde Future 17 Doelwitte vir Volhoubare Ontwikkeling (DVO'e) Uitdaging-geletterdheidsprogram wees wat die Hub vir Volhoubare Ontwikkelingsimpak (SDG/2063-impakhub) by die US aanbied. Die eerste kohort het in Julie verlede jaar die kursus voltooi, gevolg deur 'n tweede aanbieding in September 2022 en nog een in Januarie vanjaar. Die kursus moedig studente uit verskillende vakgebiede aan om saam met bedryfsvennote aan werklike volhoubaarheidsuitdagings deel te neem terwyl hulle die DVO'e as 'n raamwerk gebruik om oplossings te vind.

Die unieke kenmerk van hierdie drie maande lange aanlyn kursus is dat dit universiteite in verskeie lande betrek, sê Corina du Toit, programbestuurder by die SDG/2063-impakhub en akademiese leier van die kursus. “Die Internasionale aspek van die program voeg 'n bykomende dimensie by die kursus en stel studente aan 'n ware multikulturele, kruisdissiplinêre kohort en leerervaring bloot."​

Die kursus word aanbied deur die Universiteit van Exeter in die Verenigde Koninkryk, die Quacquarelli Symonds (QS) -wêreldranglys vir universiteite en 'n konsortium universiteite wat die US, die Chinese Universiteit van Hongkong, die Universiteit van São Paulo (Brasilië), Auckland-Universiteit (Nieu-Seeland), die Amerikaanse Universiteit in Kaïro (Egipte), en die LUISS-Universiteit in Rome (Italië) insluit.

Die bedryfsuitdagingsvennote sluit nieregeringsorganisasies, instellings en maatskappye in wat reeds verskeie volhoubaalheidsuitdagings gekonseptualiseer het. Dit kan strek van die skep van 'n digitale strategie om die DVO'e onder universiteitstudente te bevorder en marknavorsing vir stedelike plase tot by die herwinning van seep van hotelkettinggroepe om werk vir gemeenskappe te skep.

Vorige deelnemers aan die kursus het gevind dat hulle nie net volhoubaarheidsverwante vaardige aangeleer het nie, maar ook interkulturele kommunikasie en kruissnydende vaardighede wat hulle meer geskik maak vir indiensneming. Studente wat reeds die kortkursus voltooi het, het onder meer die volgende opgemerk:

  • Dit was wonderlik om oplossings aan 'n maatskappy te verskaf wat met vroue werk wat van mensehandel gered is. Dit het vir my laat voel ek het 'n doel en asof ek self daagliks direk met hierdie vroue werk.
  • Om die projekgebied te verken was vir my die fassinerendste deel. Ek het dit geniet om navorsing te doen oor hoe ons dit kan gebruik om ongelykhede in gesondheidsorg te verminder en gelyke toegang en uitkomste aan veral gemarginaliseerde gemeenskap te bied. Ek het dit geniet om deel te wees van positiewe agente van verandering. Ek het geleer hoe om skeppend te dink en wat veral belangrik is, om uitgesproke te wees en my stem te laat opklink. Ek het dit ook geniet om saam met mense van regoor die wêreld te werk – dit was 'n wonderlik ervaring.
  • Dit was vir my waardevol om te leer om afstand te doen van dít wat ek gedink het die regte manier van doen is en om 'n goue middeweg tussen al die ander idees in die groep te vind. Ek het wye blootstelling aan opvoedkundige tegnologie-innovasies, veral in Afrika, gekry en dit was baie inspirerend.
  • Die deelname van en samewerking met spanlede uit uiteenlopende agtergronde en lande om 'n oplossing te ontwikkel in die stryd teen cholera in Malawi was ontsaglik bevredigend. Dit het verskillende idees, kundigheid en perspektiewe byeengebring om te verseker dat die oplossing voorsiening maak vir die spesifieke behoeftes van Malawiërs.
  • Ek het die hele kursus baie geniet. Ek het die opleiding voor die kursus baie nuttig gevind, want dit het my met handige kennis toegerus was noodsaaklik was in die groepsprojekfase. Ek het regtig die groep geniet waarin ek was en ons projek was baie interessant. Dit het my gehelp om my kennis oor verskillende stelle vaardighede uit te brei wat ek nie voor die Future 17-DVO-uitdaging gehad het nie.