Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Suid-Afrikaanse Gebaretaal – Beginner Vlak 1A
Begin: 28/03/2024, 14:00
Einde: 30/05/2024, 16:00
Kontak:Michelle Pieters - 021 808 2812
Plek: Seminar Room of the Language Centre, Kleine Bosch, 44 Banhoek Road, Stellenbosch

Hierdie praktiese kortkursus sal jou bekendstel aan Suid-Afrikaanse Gebaretaal (SASL). Die kursus bestaan uit interaktiewe sessies wat van aangesig tot aangesig plaasvind. Die aanbieder behandel inleidende aspekte van SASL, wat praktiese oefeninge en verduidelikings oor taalgebruik insluit. Dit sal jou in staat stel om aan basiese alledaagse gesprekke deel te neem.

Ons sal van jou verwag om vaardighede in die taal te oefen met behulp van videomateriaal wat aanlyn beskikbaar is en om in pare of klein groepies te werk waar julle mekaar kan reghelp en aanspoor. Van die sessies sal met Suid-Afrikaanse Gebaretaaltolking gefasiliteer word, en kursusmateriaal is in Engels beskikbaar.

Die kursus sal jou help om:

  • basiese, alledaagse SASL-woordeskat te gebruik
  • eenvoudige frases en sinne te gebruik om alledaagse onderwerpe en dinge wat jy dalk dadelik nodig het of wil gebruik te beskryf, en daaroor te gesels of vrae daaroor te vra
  • visuele insette te herken en die strekking daarvan te verstaan wanneer dit gaan om bekende woorde en basiese frases oor dinge wat jy of jou gespreksgenoot dalk nodig het of dadelik wil gebruik
  • van Dowe kultuur bewus te wees en te respekteer wanneer jy SASL in verskeie alledaagse sosiale kontekste gebruik.

'n Sertifikaat van bevoegdheid sal ná die suksesvolle voltooiing van die kursus uitgereik word.

Wie kan die kursus bywoon?

Indien jy meer van Suid-Afrikaanse Gebaretaal wil leer, dan is hierdie kursus vir jou.

Ons beperk die aantal deelnemers om optimale leer te verseker. Die kontaksessies word deur 'n aanlyn komponent aangevul, en sekere aspekte van die kursus word geassesseer.

Is daar enige voorvereistes?

Jy sal 'n rekenaar en betroubare webblaaier benodig wat ons aanlyn platform (SUNOnline) kan hanteer. Jy sal ook elektroniese dokumente moet kan skep.

Waar en wanneer vind hierdie kursus plaas?

Ons hibriede kursusse kombineer kontaksessies, wat deur die aanbieder gefasiliteer word, met aanlyn leer wat jy op eie stoom doen.

Die kursus open voordat die eerste kontaksessie plaasvind en sluit lank ná die laaste kontaksessie. Dit gee jou genoeg tyd om jou SUNOnline-teenwoordigheid te aktiveer voordat die kontaksessie plaasvind.

Die 10 kontaksessies vind plaas van 14:00 tot 16:00 in die Taalsentrum se Seminaarkamer in Kleine Bosch, Banhoekweg 44, Stellenbosch op die volgende datums:

 

Kontakdae

(14:00 tot 16:00)

Duur van die kursus

(openings- en sluitingsdatums)

Skryf in voor
Kursus 1:28 Maart, 4, 11, 18, 25 April, 2, 9, 16, 23 en 30 Mei
7 Maart tot 13 Junie
7 Maart

Kursus 2:
22, 29 Augustus, 5, 12, 19, 26 September, 3, 10, 17 en 24 Oktober
​1 Augutus tot 24 Oktober
​1 Augustus

Tydens die kursus sal jy jou tyd as volg bestee:

  • een kontaksessie per week van twee uur elk
  • ongeveer ses uur per week vir leeswerk, of om take, aktiwiteite en opdragte op eie stoom te voltooi

Wat kos die kursus?

Die kortkursusfooi is R6 810 per deelnemer wat kursusmateriaal, assesserings, kontaksessies met jou aanbieder en ligte verversings insluit.

Alle kursusfooie moet asseblief vóór die begin van die kursus betaal wees. Let ook daarop dat ons hierdie kursus net sal aanbied wanneer die minimum kandidate wat klaar betaal het, bywoning bevestig.

Stel jy belang?

Klik hier en voltooi die vorm indien jy belangstel om hierdie kursus by te woon. Ons sal jou kontak met die skakel om in te skryf.

Enige verdere vrae?

Skakel met Michelle Pieters vir meer besonderhede by michellep@sun.ac.za of 021 808 2812.

Jy kan ook jou spesifieke kortkursus- en ontwikkelingsbehoeftes met ons bespreek. Doen gerus navraag oor beskikbare kortkursusse, datums en die moontlikheid van pasgemaakte kursusse.