Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
‘Open Repositories’-konferensie 2023

​Oor net minder as ʼn maand sal die Biblioteek- en Inligtingsdiens as gasheer vir die 18de internasionale 'Open Repositories'-konferensie (OR2023) optree. Die konferensie sal van 12 tot 15 Junie by die Lord Charles Hotel in Somerset-Wes aangebied word. Dit is die eerste keer dat hierdie geleentheid in Afrika aangebied word en slegs die tweede keer dat dit in die suidelike halfrond plaasvind, aangesien dit gewoonlik in Noord-Amerika of Europa gebaseer is. Die konferensie sal in persoon geskied, met 270 afgevaardigdes uit 41 verskillende lande wat dit sal bywoon.

Die jaarlikse 'Open Repositories'-konferensie bring navorsers, bibliotekarisse, ontwikkelaars en beroepslui van regoor die wêreld byeen om die jongste tendense en vooruitgang in oop wetenskap en digitale bronne te bespreek. Dit is ʼn baken van innovasie en medewerking wat ʼn platform bied aan praktisyns en beleidmakers om die toekoms van oop bronne te rig en positiewe verandering in vakkundige kommunikasie aan te dryf.

Vanjaar se tema is “Repositories unlocked for discovery and interoperability" (“Bronne ontsluit vir opsporing en interbedryfbaarheid") en sal geleentheid bied vir die verkenning van en besinning oor die maniere waarop bronne die opspoorbaarheid en interbedryfbaarheid van inligting en data binne die gestruktureerde web van data moontlik kan maak. Die tema sluit ʼn aantal subtemas in, waarvan twee veral vir Afrika van belang is, naamlik “Unbiased discovery of knowledge: Open repositories facilitating the unbiased discovery of indigenous knowledge" (“Onbevooroordeelde ontdekking van kennis: Oop bronne wat die onbevooroordeelde ontdekking van inheemse kennis fasiliteer") en “Sustainable development: Linking open repositories content to the UNESCO Sustainable Development Goals (SDGs)" (“Volhoubare ontwikkeling: Die koppeling van die inhoud van oop bronne aan UNESCO se volhoubare ontwikklingsdoelwitte [VOD's])".

Die konferensie sal op die eerste dag deur prof Sibusiso Moyo, Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studies, geopen word en die afgevaardigdes sal ook by ʼn verwelkomingsgeleentheid in die Endlersaal deur die Rektor en Visekanselier, prof Wim de Villiers, welkom geheet word. Vanjaar se verrigtinge sal ʼn openingsprogramredepaneel insluit, wat gedagtes sal uitruil oor hoe bronne databillikheid wêreldwyd kan verbeter en hoe hierdie bronne beter aangewend kan word om data met mense en masjiene te deel. Die paneellede sal dr Tshiamo Motshegwa, Direkteur van die Afrika Oop Wetenskapsplatform, prof Willem Fourie, stigter van die Suid-Afrikaanse VOD-hub, me Joy Owango, Stigtersdirekteur van die Opleidingsentrum in Kommunikasie (TCC Africa), en me Ellen Tise, Senior Direkteur van die Universiteit Stellenbosch se Biblioteek- en Inligtingsdiens, wees.

Die afsluitingsprogramrede sal op Donderdag 15 Junie 2023 gelewer word deur prof Hussein Suleman, wie se navorsing in die Digitale Biblioteke-laboratorium in die Departement Rekenaarwetenskap aan die Universiteit van Kaapstad plaasvind. Hierdie sessie beloof om ons deelnemers te besiel en uit te daag – om hulle aan te moedig om wyer te dink oor die maniere waarop bronne die opspoorbaarheid en interbedryfbaarheid van inligting en data binne die gestruktureerde web van data moontlik kan maak.

Die aanbied van geleenthede van hierdie formaat was nog altyd ʼn hoogtepunt op die Biblioteek se kalender, van ons eie Simposium (sedert 2003) tot internasionale geleenthede soos die IFLA (Internasionale Federasie van Biblioteekverenigings) se presidentsvergaderings in 2010 en die Berlynse 10 Oop Toegang-konferensie in 2012. Volgende jaar sal ons die tradisie voortsit deur as gasheer op te tree vir die IAML (Internasionale Vereniging van Musiekbiblioteke, Argiewe en Dokumentasiesentrums) se kongres.

Mimi Seyffert-Wirth