SUNStudent se Registrasie-funksionaliteit, asook die verwante funksionaliteite vir kurrikulumbestuur, studentegelde, diensgelde, koshuisbestuur en finansiële bystand, sal eers teen die einde van 2023 en verder in 2024 geaktiveer word. Die Legacy-studenteinligtingstelsel sal soos in die verlede vir al hierdie funksionaliteite gedurende die 2023-registrasietydperk gebruik word.
Die SUNStudent-stuurkomitee het besluit om die aktivering van SUNStudent se Registrasie-funksionaliteit en die verwante funksionaliteite vir die 2023 akademiese
jaar na die volgende registrasie-siklus uit te stel nadat die gereedheidstatus van die stelsel ondersoek is.
Dr Ronel Retief, Registreur en SUNStudent-projekeienaar, het gesê dat, hoewel daar nog ‘n maand oor is voor die beplande aktiveringsdatum, die institusionele risiko vir
gebruiker- en kliëntefrustrasie weens ‘n sub-optimale ervaring, of selfs ‘n algehele
stelsel-onderbreking, met die potensiële reputasie-skade, eenvoudig te groot is.
Gedurende die jaareind-tydperk is die werksdruk reeds hoog vanweë die sikliese dag-tot-dag take, onder meer voorbereidings vir die Desember-gradeplegtighede en die 2023-registrasie, selfs sonder die addisionele SUNStudent-werkslading.
Hoewel die SUNStudent-stelsel reeds in hierdie stadium studente-registrasie kan behartig, vereis dit ‘n deeglike toetsfase om te verseker dat die stelsel en die prosesse die dag-tot-dag besigheidsaktiwiteite kan ondersteun. Nog ‘n vereiste is genoeg opleidingstyd wat noodsaaklik is vir eindgebruikers se gereedheid en vertroue.
Dié besluit om die aktivering van die Registrasie- en die ander funksionaliteite uit te stel,
beteken egter nie ‘n tydelike onderbreking van die SUNStudent-projek nie. Twee prosesse sal parallel loop. Die 2023-registrasie en die ander funksionaliteite sal werk soos in die verlede, terwyl werk aan SUNStudent momentum moet behou, en volgens ‘n aangepaste projekplan voortgesit sal word.