Welcome
Welkom by Universiteit Stellenbosch

Neem jou veiligheid ernstig op

Studente behoort op Stellenbosch dieselfde voorsorg vir hul veiligheid te tref as elders in Suid-Afrika. Duisende slimfone, rekenaars en motors lok misdadigers.

Volg hierdie wenke:
Moet nooit alleen loop nie, veral nie saans nie. Maak planne om in groepe te loop, gebruik die pendeldiens of vra dat 
​sekuriteit jou vergesel.
Hou jou selfoon en waardevolle artikels buite sig van ander mense.
Dra te alle tye ’n fluitjie en pepersproei om aandag te trek, indien nodig. Misdadigers haat aandag.
Kies die veiligste roete, al is dit nie die kortste een nie. Victoriastraat en Bosmanstraat behoort die kern van jou roete wees.
Vermy afgeleë gebiede, veral as jy vroeg in die oggend of laatmiddag oefen.
Wees bewus van jou omgewing, want misdadigers hou daarvan om iemand te teiken wat nie bewus van sy/haar onmiddellike omgewing is nie.
Bly op ’n veilige afstand as ’n motoris jou vir aanwysings vra.
As jy vermoed dat iemand jou volg, verander van rigting.
Wees ’n omgee-Matie: vergesel ’n vriend.
Eiendom op ’n motorsitplek is aanloklik vir ’n dief. Sluit dit toe in die kattebak.

Saamstapdiens: As jy ná donker (20:00 – 05:00) op die kampus tussen geboue of van ʼn gebou na jou motor moet stap, sal ’n sekuriteitsbeampte jou vergesel. Skakel 021 808 2333 of alternatiewelik 021 808 4202. Jy kan ook die sekuriteitskantoor by 082 808 2333 WhatsApp, maar ongelukkig is stemoproepe na hierdie nommer nie moontlik nie.

Veiligste roetes: Bosmanstraat en Victoriastraat met ’n mobiele sekuriteitskantoor wat snags beman word.

Pendelbussies: Die pendeldiens loop weeksdae tussen 07:00 en 17:30 op ’n vasgestelde skedule van die algemene parkeerarea op die rand van die kampus na die sentrale kampus (verwys na www.sun.ac.za/mobiliteit-bussies). Saans loop dit op die uur tussen 18:00 en 02:00 van die Neelsie-parkeergebied by die hoofingang van die Neelsie (oostekant). Die busse ry tot ’n 6 km-radius vanaf die sentrale kampus. Hierdie diens is van Maandae tot Sondae tydens klas- en eksamentye beskikbaar. Jy sal jou studentekaart nodig hê om van hierdie diens gebruik te maak. Besoek die webblad oor veiligheid vir die jongste inligting.

NOODNOMMERS (bêre hierdie nommers op jou selfoon)
Stellenbosch-kampus 24-uur noodnommer:
021 808 2333

Navrae / aanmelding / saamstapdiens:
021 808 2333 of alternatiewelik 021 808 4202

Tygerberg-kampus 24-uur noodnommer:
021 938 9507

Whatsapp:
082 808 2333 

www.sun.ac.za/veiligheid