Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch

Ontdek die Universiteit Stellenbosch


rounded_corners-1.png 

Die Universiteit Stellenbosch (US) ​is die tuiste van 'n akademiese gemeenskap van bykans 32 5​35​ studente (insluitend 2 900 internasionale studente van meer as 64 lande) asook ongeveer 3000 permanente personeellede (insluitend 1 377​ akademiese personeel) op vyf verskillende kampusse.

​Ons hoofkampus in die historiese universiteitsdorp, Stellenbosch, met sy eikeboomlanings tussen die Bolandse berge in die Wes-Kaapse wynland skep 'n besonderse kampusatmosfeer – 'n groot trekpleister vir plaaslike en die meer as 3 000 buitelandse studente. Op die kernkampus kronkel geplaveide roetes tussen kampusgeboue –  sommiges uit vorige eeue en ander skaars 'n paar jaar oud. Verskillende argitektoniese eras simboliseer die akademiese onderbou en vestiging van 'n uitnemende instelling. Daarmee saam bou die natuurskoon, moderne, omgewingsvriendelike fasiliteite en tegnologie, en visionêre denke rondom die skep van 'n volhoubare instelling van die 21ste eeu die karakter van die Universiteit Stellenbosch

Akademiese uitnemendheid en innovasie


Learning Centre.jpg

Die US is een van Suid-Afrika se beste tersiêre instellings gemeet aan navorsingsuitsette, studente-slaagsyfers en geëvalueerde wetenskaplikes, en geniet internasionaal erkenning as 'n uitnemende akademiese instelling. Die instelling spog met die hoogste geweegde navorsingsuitset per voltydse akademiese personeellid in die land​ en die tweedegrootste aantal wetenskaplikes in Suid-Afrika wat deur die Nasionale Navorsingstigting (NNS - National Research Foundation) geëvalueer is. 

Die US is besig om sy reputasie as 'n wêreldklas-instelling te bevestig. Volgens die Times Higher Education World University Rankings is die US een van die beste 300 universiteite in die wêreld en een van die top20 universiteite in BRICS-lande. Die US tel nou onder die wêreld se elite instellings in 10 van die 36 vakke soos wat dit in die QS World University Rankings by Subject vir 2015 verskyn. Die US is ook in die 2014 CWTS Leiden-ranglys ingesluit, wat die wetenskaplike werkverrigting van 750 groot universiteit wêreldwyd meet.

Met 18 navorsingsleerstoele van die NNS se South African Research Chairs Initiative (SARChi)  word die universiteit as 'n leier beskou in onder meer biomediese tuberkulose, wynbiotegnologie, veekundige wetenskappe en wiskundige biowetenskappe. Nog 'n SARChi-leerstoel is gesamentlik aan die US en die Universiteit van Venda toegeken op die terrein van indringerbiologie. Dit is een van die US se talle Suid-Afrikaanse en internasionale vennootskappe, en as voorkeur-navorsingsgenoot is die US deel van talle internasionale akademiese netwerke.​​​

Fakulteite and Kampusse ​


SU Campus.jpg

Die US het 10 fakulteite: AgriWetenskappe, Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, Ingenieurswese, Krygskunde, Lettere en Sosiale Wetenskappe, Natuur-wetenskappe, Opvoedkunde, Regsgeleerdheid en Teologie.

Die hoofkampus op die skilderagtige universiteitsdorp, Stellenbosch, in die hart van die Wes-Kaapse wynlande, is 'n groot trekpleister vir studente. Stellenbosch is ongeveer 50 kilometer vanaf Kaapstad en ongeveer 30 km van die Kaapstad Internasionale Lughawe.

Agt fakulteite is op die hoofkampus, met die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe op die Tygerberg-kampus teenaan die provinsiale hosptiaal, en die Fakulteit Krygskunde – enigste van sy soort in Suid-Afrika en een van net twee in Afrika – by die Suid-Afrikaanse Weermag se Militêre Akademie op Saldanha.  Die Universiteit Stellenbosch Bestuurskool (USB) en ander nagraadse bestuurs- en beplanningsprogramme van die Fakulteit  Ekonomiese en Bestuurswetenskappe word op die Bellvillepark-kampus gehuisves.

​​Die vyfde kampus, op Worcester, is in 2012 in gebruik geneem met die opening van die Ukwanda Landelike Kliniese Skool van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe. Studente in Geneeskunde en verwante gesondheidswetenskappe kry die geleentheid om hulle kliniese opleiding op 'n plattelandse platform te voltooi.  Dit is nog 'n voorbeeld van die US se baanbrekerswerk op die terrein van akademiese innovasie. Die kampus huisves ook elke jaar 'n nuwe groep skoolverlaters wat deelneem aan die Universiteit Stellenbosch se  Wetenskap- en Wiskunde-oorbruggingsprogram (SciMathUS). Die program bied vir studente van opvoedkundig-benadeelde gemeenskappe die geleentheid om toegang tot hoër onderwys te verkry.


Polsende studentegemeenskappe


MatiesShopVictoria-116 (1).jpg

Die US is  bekend as 'n  residensiële kampus met 'n aktiewe koshuislewe en daarom is koshuis-inwoning baie gewild onder studente. Omdat die vraag na koshuisinwoning die aanbod ver oorskry, en ook in ooreenstemming met nuwe leerbehoeftes, is die US besig om sy Stellenbosch-kampus in 'n geïntegreerde leer- en leefruimte te omskep. Koshuise en privaatwyke word in klusters gegroepeer, elkeen met sy eie klusterdorpie waar koshuisinwoners en dagstudente kan leer, vergader en kuier. Met die oprigting van nuwe geboue en ook waar bestaande geboue heringerig word, word studentgesentreerde fasiliteite geskep waar studente groepwerk kan doen, kan studeer en toegang kan kry tot die Universiteit se elektroniese netwerke.

Die US se gegradueerdes is  gesog  in die werkplek, maar sy oogmerk is ook om betrokke lands​burgers en verantwoordelike leiers op te lei, wat bereid is om hul kundigheid en vaardighede tot diens van die samelewing te stel. Daarom word studente aangemoedig om deur middel van MAD² (Maak Ander Lewens Makliker viA Liefdadigheid), en Matiegemeenskapsdiens, asook diensleer en gemeenskapsinteraksie binne hulle vakrigtings betrokke te raak. MFM 92.6, die Universiteit se gemeenskapsradiostasie, 'n groot verskeidenheid studente-verenigings en sportkodes, die Studenteraad, huiskomitees en die Frederik Van Zyl Slabbert Instituut vir Studenteleierskaps-ontwikkeling  bied verdere geleenthede vir persoonlike verryking.