AAD
Welkom by Universiteit Stellenbosch

65ste AKADEMIESE JAARDAG

18 - 19 AUGUSTUS 2021 (middae alleen)

​​​​​​​​​​​​​​​​​Kom sluit by ons aan​

Te midde van die wêreldwye Covid 19 pandemie bied die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe van die Universiteit Stellenbosch die Fakulteit se Akademiese Jaardag (AJD) – die 65ste viering daarvan – op die middag van Woensdag 18 Augustus en Donderdag 19 Augustus 2021 aan, weer op ’n virtuele platform.

Alhoewel die wêreld steeds in die greep van die pandemie is, word inentings uitgerol en ons personeel en studente het, sover moontlik in elkeen van ons se eie unieke omstandighede, gewoond geraak aan die “nuwe normale" sosiale afstand en inperkings, afstandsonderrig en virtuele byeenkomste, ingesluit virtuele konferensies. 

Ná die baie suksesvolle AJD wat in 2020 in geheel aanlyn gehou is, het die Fakulteit besluit om die 65ste AJD vanjaar weer op 'n virtuele platform aan te bied. Soos die vorige keer bied die virtuele platform 'n unieke aanlyn byeenkoms waar alle deelnemers mekaar kan ontmoet, kan netwerk, kan saamwerk en geïnspireer kan word deur die uitnemende navorsing wat in die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe gedoen word. 

Alhoewel ons nie vanjaar 'n sentrale tema het nie, word al die aanbiedings wat die personeel, die postdoktorale studente en die studente lewer, as plakkaataanbiedings in die ag tradisionele multidissiplinêre bane aangebied:

  1. Aansteeklike siektes
  2. Nie oordraagbare siektes​
  3. Geestesgesondheid en neurowetenskappe
  4. Geweld, beserings, trauma en rehabilitasie
  5. Moeder  en kindergesondheid
  6. Versterking van gesondheidstelsels
  7. Primêre gesondheidsorg
  8. Peri operatiewe wetenskappe​

Ons vertrou dat die terugkeer na ons hoofnavorsingstemas vir hierdie voorpuntsessies ons navorsers oor die vele dissiplinêre grense heen weer by mekaar sal bring vir die bespreking van belangrike kwessies rondom dié sentrale gesondheidsvraagstukke, wat van kardinale belang vir Suid-Afrika en die res van die wêreld is. 

Ons nooi u uit om by ons aan te sluit vir hierdie uitsonderlike geleentheid op die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe se kalender. Mag dit weer, soos met die vorige virtuele geleentheid, 'n unieke en insiggewende konferensie wees. Ons sien uit daarna om die dag saam met u deur te bring onder hierdie buitengewone omstandighede.

Prof Nico Gey van Pittius
Visedekaan: Navorsing en Internasionalisering​