Biomedical Research Institute
Welkom by Universiteit Stellenbosch

​​Biomediese Na​vorsingsinstituut​


Oprigting van die BMNI​ ​​

Die FGGW se biomediese onderrig-, opleidings- en navorsingswerk is tot op hede in die Fisiologie en Anatomie (FISAN) Gebou verrig. Die FISAN-gebou is in die 1970 opgerig, en ongeveer 30 000 studente het hier in geneeskunde en die gesondheidswetenskappe gestudeer. In die vier dekades sedert die FISAN-gebou in gebruik geneem is, het studentegetalle meer as verdrievoudig en die biomediese vakgebied met verloop van tyd aansienlik verander.

Die FGGW het in daaropvolgende jare voortdurend nuwe tegnologie en toerusting bekom, maar die fisieke infrastruktuur het nie met navorsingsvereistes tred gehou nie. Die huidige gebou is dus nie meer geskik vir die doel nie.

Bouwerk ingevolge die R1 biljoen-projek het in Januarie 2019 begin en word beplan om teen Desember 2022 afgehandel te wees. Die nuwe fasiliteit, wat teen Januarie 2023 volledig in bedryf gestel behoort te wees, sal verskeie soorte navorsingslaboratoriums huisves, asook die volgende:

  • 'n bio-informatika-hub,
  • elektronmikroskoop-laboratoriums,
  • proteomika en FACS-laboratoriums (vir fluoressensie-geaktiveerde selsortering),
  • 'n morfologiemuseum,
  • 'n biobewaarplek,
  • die SUNSkill Laboratorium,
  • 'n eenheid vir kliniese navorsing, en
  • konferensiegeriewe.

Die nuwe BMNI het 'n aantal unieke argitektoniese kenmerke, onder meer die volgende:

  • Volhoubaarheid lê die grondslag vir die ontwerp van die gebou se energie- en waterstelsel, materiaalkeuses, emissies, afvalbestuur, gebruik van natuurlike lig, ventilering en akoestiek.
  • Alles – van aanpasbare opstelling tot die benutting van slimtegnologieë, reënwateropgaring en gemeenskapstoegang tot die fasiliteit – is ontwerp om saam met die gebou te ontwikkel namate die manier waarop ons navorsing doen, in die toekoms mag verander.
  • 'n Slimstelsel vir beligting sal areas opspoor waar natuurlike lig die sterkste is, en daarvolgens aanpas. Gevolglik sal dit minder elektrisiteit vanuit die netwerk onttrek.
  • Die waterstelsel sal aansluit by die kampus se gryswaterplan, wat vir reënwateropgaring en die gebruik van boorgatwater voorsien. Alle toilette sal met niedrinkbare water spoel.