​​BOUWERK OP KAMPUS
Universiteit Stellenbosch is konstant besig om die geriewe op kampus vir studente en personeel te verbeter en vir dié doel moet u asb kennis neem dat daar gedurende die akademiese jaar moontlik ook bouwerk in en rondom die inwoningsgeriewe op kampus mag geskied.

Daar is ʼn nuwe huisvestigingprojek in beplanning vir uitvoering gedurende 2017 en die voorgestelde ligging is tans in die Monica-, Harmonie- en Wilgenhof-omgewing maar daar word ook na alternatiewe liggings, bv die Goldfields-huisvestingsterrein gekyk.  

Op die Tygerberg-kampus is daar ʼn huisvestigingprojek in uitvoering met ʼn beplande voltooiingsdatum van Julie 2017. Verder word daar ook deurgaans instandhoudings- en opgraderingsprojekte op die kampusse gedoen, byvoorbeeld die gefaseerde badkameropgraderingswerk wat tans in uitvoering is by Erica en wat tot vroeg in 2017 sal strek. ʼn Soortgelyke projek is tans in uitvoering by Huis Francie van Zijl op Tygerberg-kampus met beoogde voltooiing teen begin 2017. Helshoogte se badkamers kom volgende aan die beurt en sal ook gedurende 2017 op ʼn gefaseerde basis afskop.  

Kleiner projekte word ook by Minerva en Nerina beplan wat gedurende 2017 uitgevoer sal word. 

Daar word ook beplan om gedurende 2017 ʼn bouprojek van stapel te stuur op die Goldfields-huisvestingsterrein wat hoofsaaklik ten doel het om die eetsaal en kombuis asook die toegang tot hierdie fasiliteite te verbeter. 

Aangesien daar op vele terreine op alle kampusse deurlopende bouwerk plaasvind en almal op die een of ander wyse aanvanklik negatief hierdeur geraak word, sal daar nie enige “afslag” ten opsigte van inwoningstariewe oorweeg kan word nie. Die vraag sou dan ontstaan: “Aan wie word afslag gegee en aan wie nie?” Dit sal ʼn onhanteerbare situasie vir die US tot gevolg hê. Studente en hul ouers moet egter verseker weet dat die welsyn, veiligheid en akademiese vordering van studente altyd voorrang geniet en dat die US alles moontlik sal doen om ongerief so ver moontlik te beperk.

Ten tyde van enige bouwerk sal alle moontlike reëlings getref word vir die veiligheid van studente en hulle besittings. Vir groter projekte sal gereelde vergaderings gereël word waarheen verteenwoordigers van die koshuise genooi sal word ten einde op hoogte van sake te bly. Dit sal verseker dat studente so min moontlik verontrief word.

Daar sal nie tydens die eerste eksamengeleenthede enige werk gedoen word wat geraas veroorsaak nie, terwyl daar in die week voor die aanvang van die eerste eksamengeleenthede ʼn beperking op werksure geplaas sal word ten einde inwoners die geleentheid te gee om voor te berei vir die naderende eksamen.
Verder sal alle statutêre vereistes kragtens beroepsveiligheid nagekom word en elke projek se kontrakteurspan en werkers sal duidelik identifiseerbaar wees. Die veiligheid van ons studente is van kardinale belang.

Navrae kan gerig word aan mnr Anton Kriel by ack@sun.ac.za.