Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Neem kennis, nuwe Maties!
Outeur: Sandra Mulder/Corporate Communications Division
Gepubliseer: 21/01/2019

​Die Universiteit Stellenbosch (US) verwelkom vandeesweek (21–25 Januarie) 5 300 nuwelingstudente op die onderskeie kampusse.  

Die Universiteit besef maar alte goed dat baie van die nuwe Maties wat vandeesweek hier aankom, moontlik gedisoriënteerd en verlore mag voel; daarom word hulle aangemoedig om aan die programme en aktiwiteite deel te neem wat daargestel is om die nuwelinge te ondersteun en rigting te gee. Besoek die webwerf by http://www.sun.ac.za/afrikaans/welcome/Pages/Welcome.aspx vir meer inligting.

Aanstaande week se oriënteringsprogramme sal die nuwe Maties ook help om vertroud te raak met die kampus, ander studente, koshuise, klasse en ander verantwoordelikhede en geriewe. Wanneer klasse op 4 Februarie 'n aanvang neem, sal die nuwelinge baie meer op hul gemak met die kampusgemeenskap wees.

Voor dan moet die nuwelinge en hul ouers seker maak dat hulle bewus is van die volgende belangrike inligting:

Registrasie

  • Die eerste ding om te doen, is om vir 2019 te registreer. Daar is twee maniere waarop jy dit kan doen. Die selfregistrasie (aanlyn/e-registrasie) het op 14 Januarie geopen en jy kan op enige rekenaar met internettoegang registreer. Die ander opsie is om self te registreer in die Neelsie-studentesentrum wanneer jy eers op die kampus is. Studente wat nie kan selfregistreer nie, moet van die registrasie met hulpbystand by NARGA op die Stellenbosch-kampus, of by GERGA op die Tygerbergkampus vir studente wat aan die Fakulteit van Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe gaan studeer, gebruikmaak. Klik hier vir meer inligting oor die registrasieproses met hulpbystand.

Studentegelde

  • Die US vereis nie die betaling van registrasiegelde nie, maar die eerste paaiement van die jaarlikse studentegelde is betaalbaar voor of gedurende die registrasietydperk. Studente wat deur die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente (NSFAS) befonds word, word vrygestel van hierdie eerste paaiement. Dieselfde geld vir studente wat ander soorte finansiële hulp ontvang – enige student wat bewys kan lewer van 'n beurs of lening wat uitstaande skuld (indien van toepassing) en die eerste paaiement dek, mag registreer sonder dat 'n betaling vereis sal word. Studente wat geldelike probleme ondervind, maar wat nie vir NSFAS-hulp kwalifiseer nie, sal toegelaat word om reëlings te tref om die eerste paaiement oor drie maande af te betaal. Aansoeke vir NSFAS-hulp vir 2019 het 30 November 2018 gesluit. Klik hier vir meer inligting.

 ​

Aansoeke


  • Studente wat nie plek gekry het om in 2019 te studeer nie, word aangeraai om op die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding se Central Applications Clearing House-fasiliteit (CACH) te registreer. 

    Die CACH-fasiliteit lê die inligting van studente wat nog by 'n universiteit of tegniese en beroepsonderwys- en opleidingskollege (TVET) wil inskryf, vas sonder dat die studente in 'n lang tou by elke instelling afsonderlik hoef te staan, en dit verbeter hul kanse om plek te kry.

     

    Voornemende studente kan toegang tot die CACH-fasiliteit verkry deur 'n SMS met hul naam en ID-nommer na 49200 te stuur, of deur https://cach.dhet.gov.za/ te besoek om hul besonderhede te registreer.

    Aansoeke om in 2019 aan die Universiteit Stellenbosch te studeer, het reeds verlede jaar gesluit en geen nuwe aansoeke word vir die huidige akademiese jaar aanvaar nie. Aansoeke vir die 2020-akademiese jaar open in Maart 2019. 

    Vir meer inligting klik hier.

 

Verwelkomingsgeleentheid vir nuwe studente en ouers

  • Die Verwelkomingsgeleentheid wat Donderdag, 24 Januarie om 16:30 in die Danie Craven-stadion afskop, beloof om 'n prettige geleentheid te wees waar studente onder andere die Universiteit se gelukbringer, Pokkel, sal kan ontmoet. Nadat hulle deur die Rektor en Visie-kanselier, prof Wim de Villiers, en die voorsitter van die Studenteraad (SR), me Carli van Wyk, toegespreek is, sal die nuwe studente saam met studenteleiers op die veld bymekaarkom om 'n reusagtige 2019 te vorm. Die samekoms vir die menslike 2019 sal die nuwelinge se inskakeling by 'n nuwe gemeenskap waaraan hulle vir die res van hul lewens sal behoort, simboliseer. Vir die Verwelkomingsprogram inligting en meer inligting oor die Verwelkomingsgeleentheid, klik hier.

 

Droom-lansering

  • 'n Nuwe toevoeging tot die program is 'n optog om 18:50 deur die nuwe studente vanaf die Danie Craven-stadion tot in Victoriastraat op die kampus as deel van 'n “Droom-lansering" wat die begin van die studente se reis om hul drome te verwerklik, simboliseer. Die optog sal in Coetzenburgstraat afbeweeg, Van Riebeekstraat oorsteek tot in De Wallstraat, dan links in Hofmeyrstraat, regs in McDonaldstraat en links in Victoriastraat draai. Daar sal musiekpunte langs die roete wees.

    Die optog sal in Victoriastraat onderdeur 'n banier met die woorde “Jou Droom begin hier" daarop beweeg tot by Admin B naby Rynveldstraat. In Victoriastraat sal die nuwe studente hul drome wat hulle op kaartjies neergeskryf het, teen die bome vassit. Hierdie drome sal vir twee dae ten aanskoue van verbygangers opgeplak bly. Studente sal na hul koshuise terugkeer nadat hulle hul drome teen die bome opgesit het.

     

“Vensters"

  • Nog 'n hoogtepunt op die verwelkomingsprogram is die jaarlikse “Vensters" wat op Vrydag, 1 Februarie gehou word. Vir hierdie kleurryke buitelugopvoerings werk koshuise en privaat studente-organisasies (PSO's) saam om toeskouers met innoverende en skeppende dansopvoerings rondom 'n sentrale tema te bekoor. Die opvoerings vind met 15-minute tussenposes op tien verskillende verhoë regoor die Stellenbosch-kampus plaas. Dit begin om 18:00 en sal tot 22:00 duur.

 

Kry die Gids vir Nuwelinge 2019-boekie

  • Nuwelinge moet vir seker hierdie gids in die hande kry wanneer hulle registreer of met hul eerste besoek aan hul fakulteite en departemente op die kampus. Die gids bevat onder meer inligting oor die registrasieskedule, vervoer, persoonlike veiligheid, die biblioteek, gratis skryfwenke en wenke oor hoe om water te bespaar.