Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Raak smoorverlief op plante en die natuur, sê nuwe kurator van die US Botaniese Tuin
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie [Martin Viljoen]
Gepubliseer: 02/10/2018

Dr Donovan Kirkwood is as die nuwe kurator van die internasionaal geakkrediteerde* Universiteit Stellenbosch (US) Botaniese Tuin aangestel. Hy sal vanaf 1 Oktober 2018 die pos beklee.

“Ek's baie opgewonde oor die aanstelling. Ek werk al geruime tyd in die biodiversiteitsbewaringsektor, maar ek geniet dit ook om sommer net vir die lekker plante te kweek. Hierdie werk is ʼn fantastiese kombinasie van twee van my grootste passies," sê Kirkwood.

Kirkwood is ʼn hoogs ervare plantkundige en spog boonop met ʼn sterk akademiese profiel. Hy is ʼn opgeleide ekoloog op die gebied van Kaapse, savanna- en woud-ekosisteme, steekproefneming en eksperimentele ontwerp, sowel as statistiese ontleding en verslagdoening. Hy het sy PhD in 2003 aan die Universiteit van Kaapstad verwerf en sy navorsing konsentreer op populasie-ekologie en die beskrywing van plantegroei, waaronder formele floristiese opnames en ontleding.

“Die US heet dr Kirkwood welkom as nuwe kurator en is baie opgewonde oor sy aanstelling. Die Botaniese tuin is 'n kosbare US bate, as bewaringstuin, as ʼn ruimte vir akademiese navorsing en as lushof vir studente, personeel en die samelewing en sal floreer onder dr Kirkwood se kuratorskap"

As kurator, sal Kirkwood onder meer verantwoordelik wees vir die administratiewe en bedryfsbestuur van die tuin om te sorg dat dit vlot funksioneer, behoorlik in stand gehou word en ʼn lus vir die oog bly. Daarbenewens is die Botaniese Tuin verbind tot bewaringswerk as ʼn vennoot van Botanic Gardens Conservation International (BGCI), en Kirkwood sal dus ook pogings in dié verband help ondersteun en uitbrei. Dit behels ʼn wye verskeidenheid aktiwiteite, van opvoedings- en uitreikaksies tot die kweek van bedreigde plante en die ondersteuning van populasie- of habitatrehabilitasie.

Afgesien van sy beroepservaring en uitgebreide akademiese kennis op plantkundige gebied, het Kirkwood ook etlike jare as ʼn fotojoernalis gewerk en tydskrifartikels geskryf om mense oor meer volhoubare tuinboupraktyke te help opvoed.

Hy glo hierdie vaardighede en ervaring sal hom goed te staan kom om ʼn nuwe hoofstuk vir die Botaniese Tuin te begin.

“Ek wil beslis die nalatenskap van bewaringsprojekte en -vennootskappe voortsit, maar ek wil dit ook vir mense opwindend, visueel aanloklik en opbouend maak om oor die geweldige plantkundige diversiteit van Suid-Afrika, en veral van die Wes-Kaap, te leer. Ek wil spesifiek moeite doen om die publiek aan al ons pragtige dog bedreigde plante bekend te stel, dit binne die konteks van bedreigde habitatte en landskappe te plaas, en raad te gee oor wat ons kan doen om ons erfenis op te pas. Bowenal wil ek net graag hê mense moet smoorverlief raak op plante en die natuur," sê Kirkwood.

  • Botanic Gardens Conservation International (BGCI) het die US Botaniese Tuin in Augustus as ʼn  geakkrediteerde bewaringspraktisyn aangewys (in daardie stadium een van slegs 11 ter wêreld), nadat die Botaniese Tuin ook in Junie algemene BGCI-akkreditasie ontvang het. ​