Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Uitsonderlike internasionale eer vir US Botaniese Tuin
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 07/06/2018

ʼn Besondere eer het die Universiteit Stellenbosch (US) Botaniese Tuin te beurt geval toe dit deur die internasionaal bekende Botanic Gardens Conservation International (BGCI) geakkrediteer is. Dit is slegs die tweede* botaniese tuin in Afrika en die eerste in Suid-Afrika om hierdie eerbewys te ontvang.

Tot op hede (5 Junie 2018) is daar 9 botaniese tuine** wêreldwyd wat akkreditasie ontvang het.

Die BGCI bewaar plantdiversiteit vir die welsyn van mense en die planeet. BGCI-akkreditasie erken prestasies in die bewaring van plante met instansies wat ʼn verskeidenheid bewaringsverwante beleide, praktyke en aktiwiteite uitvoer.

Akkreditasie kan tasbare voordele vir deelnemende tuine inhou  ̶  soos erkenning, eweknie- evaluering, die skep van standaarde vir uitnemendheid en befondsing  ̶  en sal as ʼn motiveerder vir botaniese tuin-leierskap dien.

Die sekretaris-generaal van die BGCI in die Verenigde Koninkryk, dr Paul P. Smith, het die US gelukgewens met die akkreditasie en gesê die US Botaniese Tuin is baie spesiaal omdat dit die enigste botaniese tuin in die Kaapse Flora Streek is wat deur ʼn universiteit bestuur word.

“Met dosyne bedreigde plantspesies wat slegs in jul versameling en in geen ander versamelings wêreldwyd verteenwoordig is, is die US Botaniese Tuin van kritieke belang vir globale navorsings- en bewaringspogings. Sedert julle jul versamelingsdata met ons globale PlantSearch-databasis in 2014 begin deel het, het ons ook beduidende toenames in versoeke vir jul versameling van ander instansies gesien."

Hy het bygevoeg dat die US Botaniese Tuin met verskeie welbekende akademici en navorsingsgroepe binne die US die “perfekte platform" bied om internasionale vennootskappe te bou en verskeie navorsings- en bewaringsprojekte te dryf. “Benewens die versamelings, speel die kundigheid wat in jul Botaniese Tuin en Universiteit opgebou is, 'n groot rol om kapasiteit in ander botaniese tuine te help bou, nie net in jul streek nie, maar ook op die res van die vasteland."

Bewaring van plantspesies op krities bedreigde lys

In reaksie op die akkreditasie, sê die US se Uitvoerende Bedryfshoof, prof Stan du Plessis: “Die akkreditasie is 'n waardevolle internasionale erkenning vir die toonaangewende werk wat by die US Botaniese Tuin gedoen word. Die tuin plaas 'n belangrike fokus op omgewingsbewaring en veral die beskerming en bestudering van krities bedreigde spesies. Hierdie akkreditasie weerspieël ook die groeiende rol wat die tuin speel in die internasionale strewe na omgewingsbewaring. Ons is veral trots dat die tuin een van net twee botaniese tuine in Afrika is wat hierdie akkreditasie ontvang het."

Hy het ook erkenning gegee aan die voormalige kurator van die US Botaniese Tuin, mnr Martin Smit, wat instrumenteel was daarin dat die US hierdie toekenning ontvang het. “Mnr Smit het nie net die navorsingswaarde van die tuin aansienlik verhoog nie  ̶  hy het byvoorbeeld met nuwe standaarde van rekordhouding in die tuin vorendag gekom  ̶  hy het ook grootskaalse projekte geïnisieer. Hieronder tel die herstel van die verwarmingstelsel vir die leliedamme om die spesifieke behoeftes van die reuse-waterlelie, Victoria cruziana te akkommodeer  ̶  met die tuin as die enigste tuin in Afrika, benewens Madagaskar, waar besoekers hierdie unieke lelie kan besigtig. Hy het ook die tropiese glashuis opgeknap en uitgebrei  ̶  nou die tuiste van die wêreld se kleinste waterlelie, Nymphaea thermarum."

Hierdie krities bedreigde waterlelie het 'n dekade gelede uit die Rwandese wildernis verdwyn en daar is net 'n handjievol botaniese tuine wêreldwyd wat daarin geslaag het om hierdie sensitiewe plantjie te vermeerder en te kweek.

Op Smit se inisiatief is die langvergete ondergrondse waterreservoir opgeknap, net betyds om die plante lewendig te hou tydens die huidige droogte.

Die tuin se databasis is gedigitaliseer en die tuin is nou deur middel van die IrisBg-databasis met ander botaniese tuine wêreldwyd verbind. Dit beteken ook dat besoekers meer oor die plante kan leer via die aflaaibare Garden Explorer-toepassing op slimfone.

Die US Botaniese Tuin is die oudste botaniese tuin in Suid-Afrika wat deur ʼn universiteit bestuur word.

Die akkreditasie is geldig vir vyf jaar met die verwagting dat tuine die nodige standaarde sal handhaaf in aktiwiteite spesifiek tot botaniese tuine, soos die dokumentasie van versamelings en ondersteuning van wetenskaplike navorsing en bewaring.

* Die ander een is die Gullele Botaniese Tuin in Etiopië.

** Die geakkrediteerde botaniese tuine (5 Junie 2018) is die Gullele Botaniese Tuin  in Etiopië; die Huntington Biblioteek, Kunsversamelings en Botaniese Tuine, VSA; Jardín Botánico Universitario – BUAP, Puebla, Meksiko; Die Nasionale Botaniese Tuin van Wallis in die VK.; Pha Tad Ke Botaniese Tuin in Laos; die Universiteit Stellenbosch Botaniese Tuin, Suid-Afrika; Universiteit Botaniese Tuine Ljubljana, Slowenië en Wollongong Botaniese Tuin in Australië. 

Foto: Photo:  Me Mbali Mkhize, Botaniese Tuin Assistent,; mnr Willem Pretorius, President van die Vriende van die Botaniese Tuin-vereniging; en mnr Bonakele Mpecheni, Botaniese Tuin Assistent​. Foto deur Stefan Els ​