Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US Botaniese Tuin - een van die beste botaniese tuine in die wêreld
Outeur: Corporate Communications Division
Gepubliseer: 15/08/2018

Die Botaniese Tuin van die Universiteit Stellenbosch (US) het pas akkreditasie van die Botanic Gardens Conservation International (BGCI) ontvang as ʼn botaniese tuin wat praktiese bewaring toepas – ʼn sg Accredited Conservation Practitioner. Die US Botaniese Tuin is die enigste tuin in Afrika en een van slegs 11 tuine in die wêreld om hierdie gesogte toekenning te ontvang.

Die US Botaniese Tuin het in Junie die BGCI se algemene akkreditasie ontvang. Dit was toe slegs die tweede botaniese tuin in Afrika, die eerste in Suid-Afrika en een van slegs nege ter wêreld om geakkrediteer te word.

Die BGCI internasionaal bekend vir sy bewaringaksies vir plantdiversiteit vir die welsyn van mense en die planeet.

Die BGCI Bewaringspraktisynsakkreditasie erken uitnemendheid in plantbewaringsbeleid, -praktyk en -opvoeding, en akkrediteer botaniese tuine wat plantbewaringsaktiwiteite van plaaslike, nasionale of globale belang verrig.

“Hierdie toekenning verteenwoordig ʼn addisionele vlak van akkreditasie bó die Junie-akkreditasie en is in spesifieke erkenning van die waardevolle bewaringswerk wat die US Botaniese Tuin tans doen, die goed ontwikkelde bewaringsgerigte tuinbestuursdokumentasie, asook samewerking en skakeling met plaaslike en internasionale bewaringsnetwerke wat in onlangse jare gevestig en ontwikkel is," verduidelik mnr Peter Kruger, waarnemende kurator van die US Botaniese Tuin.

“Die akkreditasie bevestig die Tuin se status as ʼn internasionaal-erkende fasiliteit," het prof Louise Warnich, Dekaan van die Fakulteit Natuurwetenskappe aan die US, gesê, terwyl prof Karen Esler, Hoof van die Departement Bewaringsekologie en Entomologie, bygevoeg het dat dit ʼn duidelike demonstrasie is van die waarde daarvan om in die Tuin te belê.

Die toekenning is uit erkenning vir die tuin se betrokkenheid by projekte soos spesiespesifieke bewaring, byvoorbeeld die teel en verspreiding van die krities bedreigde inheemse poeierkwaslelie (Haemanthus pumilio) en die eksotiese miniatuur waterlelie Nymphaea thermarum wat in die natuur uitgesterf het. Die tuin is ook betrokke by habitatbewaring deur die kultivering van talle bedreigde spesies renosterveldplantegroei, skaars sukkulente Karoo-spesies en plaaslik-bedreigde endemiese vleilandspesies.

Skakeling met ander organisasies en instansies is gevestig deur personeelbetrokkenheid binne bewaringsnetwerke soos die Fynbosforum. Bewaring van hulpbronne soos doeltreffende waterverbruik in die tuin, asook die opgaar van reënwater vir besproeiing, het bygedra tot die akkreditasie.

Die akkreditasie is geldig vir 'n periode van 5 jaar, hernubaar op voorwaarde dat die huidige standaarde van die tuin gehandhaaf word.

Kruger sê: “Gegewe die ligging van die tuin binne die kern van die uiters biodiverse Kaapse Floristiese Streek, asook die ondersteuning van ʼn wêreldklas-instelling soos die Universiteit Stellenbosch, behoort heel moontlik te wees om hierin te slaag."

“BGCI-bewaringsakkreditasie sal bydra tot die erkenning wat die tuin onder owerheidsinstansies kan geniet,", sê dr Stuart Hall, ʼn hortoloog verbonde aan die US Botaniese Tuin. “Akkreditasie sal hopelik ook die moontlikhede vir befondsing verbeter ten einde die Tuin se vermoë om bewaringsdoelwitte te bereik, verder te ontwikkel."

Die bekende Eden-projek in Cornwall, Engeland, het ook die toekenning ontvang, tesame met tuine in die Verenigde State, Nederland, Mexiko, Slowenië en Australië.


  • Klik hier vir ʼn artikel oor die US Botaniese Tuin se Junie-akkreditasie.

MEER OOR DIE US BOTANIESE TUIN

  • Die US Botaniese Tuin is die oudste botaniese tuin in Suid-Afrika wat deur ʼn universiteit bestuur word.
  • Die tuin se databasis is gedigitaliseer en die tuin is nou deur middel van die IrisBg-databasis met ander botaniese tuine wêreldwyd verbind. Dit beteken ook dat besoekers meer oor die plante kan leer via die aflaaibare Garden Explorer-toepassing op slimfone.