Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nobel-simposiumaktiwiteite kom na Afrika
Outeur: Corporate Communication and Marketing | Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 27/10/2022

Vir die eerste keer in die geskiedenis sal die Nobel-simposiums buite Swede gehou word – en dit sal in Stellenbosch georganiseer word as as ʼn vennootskap tussen die Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Studies en die Universiteit Stellenbosch.

Het jy geweet dat die Nobelprys vir Fisika in die vroeë 1930's etlike jare lank nie amptelik toegeken is nie – die langste vredestyd-onderbreking in die geskiedenis van dié toekenning? En het jy geweet dit het gebeur omdat dit, ironies genoeg, een van die opwindendste en revolusionêre tydperke in fisika was – die geboorte van subatomiese fisika?

Toe die prys wel uiteindelik in 1933 toegeken is (nadat dit in 1932 uitgestel is), het dit gegaan aan die wetenskapsupersterre Werner Heisenberg, Erwin Schrodinger en Paul Dirac.

Hierdie fassinerende feite is in sy gasrede by die bekendstelling van die Nobel in Afrika-inisiatief oorgedra deur prof Mats Larsson, Direkteur van die AlbaNova-universiteitsentrum en wetenskaplike historikus.

Dis die eerste keer sedert 1965 dat ʼn Nobel-simposium – die byeenkoms van die grootste denkers, navorsers en akademici in die wêreld – buite Skandinawië plaasvind: en dit gebeur in Suid-Afrika. Danksy ʼn doelgerigte poging deur die Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Studies (STIAS), die Knut en Alice Wallenberg-stigting, die Nobel-stigting, die Koninklike Sweedse Wetenskapakademie en die Universiteit Stellenbosch (US), het jare van beplanning en inspanning eindelik vrugte gedra.  

Prof Edward Kirumira, Direkteur van STIAS, het die afgevaardigdes verwelkom en gesê in hierdie geval kan aan STIAS as ʼn Afrika-vuurmaakplek gedink word – ʼn “plek van samekoms waar wyshede gedeel en aan die volgende generasie oorgedra word". Hy het erkenning verleen aan die deelname van universiteite regoor Suid-Afrika aan die inisiatief. Hy het voorts die vennootskap uitgelig tussen STIAS en die US as gashere van dié “gewigtige" geleentheid, wat hy hoop “net die begin is van ʼn opwindende, internasionale, wedersyds betekenisvolle inisiatief wat lank genoeg sal duur sodat ons Afrika-skoliere wat tans vroeg in hul loopbaan is, ʼn Nobel-prys kan najaag".  

Prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die US, het die eerste swart Nobelpryswenner uit Afrika, Wally Soyinka, aangehaal: “Niemand is ryk genoeg om gister te koop nie. Maar as jy hard genoeg woel, kan môre joune wees."

“Afrika woel nou al jare lank," het De Villiers gesê. “Navorsers en denkleiers van ons vasteland het hand en tand geveg om ruimtes in die akademiese wêreld in te neem en om hul stemme te laat hoor. En met die Nobel in Afrika-simposiumreeks wat na Stellenbosch en na Afrika kom, word ons stemme hard en duidelik uitgebasuin."

De Villiers het gesê die Nobel in Afrika-uitreikprogram – ʼn reeks lesings dwarsdeur Suid-Afrika wat wetenskap na ʼn wyer gehoor neem – “stem so mooi ooreen met die US se visie om inklusief te wees en om kennis in diens van die gemeenskap te bevorder".

Peter Wallenberg Jr, voorsitter van die Wallenberg-stigtings, het die storie vertel van hoe sy pa se tyd in Afrika as verkoopspersoon vir Atlas Copco tot ʼn lewenslange liefde vir die vasteland gelei het en uiteindelik – in vennootskap met die US – tot die totstandbrenging van STIAS. Die Wallenberg-stigtings is van die mees passievolle en ruimhartige ondersteuners van wetenskap ter wêreld en borg die Nobel-stigting al bykans 100 jaar lank. Dit is derhalwe ʼn kardinale rat, indien nie die enjin nie, van die intellektuele en filosofiese masjien wat die Nobel-simposiums na Afrika gebring het.

Victor Helgesen, Uitvoerende Direkteur van die Nobel-stigting, het die internasionalisering van die Nobelprys geloof en het roerend herinner aan die mag van inspirasie en demonstrasie om ware en progressiewe verandering teweeg te bring. Dr Judith Omumbo van die Wetenskap vir Afrika-stigting het oor die dringendheid en uniekheid van wetenskaplike navorsing op die vasteland gepraat, asook oor die groot vordering wat gemaak word om aan hierdie behoefte te voldoen en die hupstoot wat hulle danksy die Nobel in Afrika-inisiatief sal kry.

Die Nobelprys is argumentshalwe die bekendste en mees prestigeryke erkenning wat vandag aan enige individu of organisasie gegee word. Dit dui op grootsheid en vier die wetenskaplike reuse wat op die skouers gestaan het van diegene wat hulle vooraf gegaan het. Met die Nobel in Afrika-inisiatief wat uiteindelik op dreef is, is daar ʼn beter kans as ooit tevore dat hierdie toekomstige reuse van Afrika afkomstig sal wees.

Klik hier om meer te lees oor die uitreikprogram van die Nobel-simposium in Fisika 2022.