Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nobelstigting se Nobelsimposia vir die eerste keer in Afrika
Outeur: Stellenbosch Institute for Advanced Study/ Stellenbosch University
Gepubliseer: 20/10/2022

​Nobel in Afrika is 'n inisiatief van Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Navorsing (STIAS) in vennootskap met die Universiteit Stellenbosch (US) en word onder die beskerming van die Nobelstigting en die Koninklike Sweedse Wetenskapsakademie en met finansiering van die Knut & Alice Wallenberg-stigting aangebied. Die inisiatief maak STIAS die eerste instelling buite Skandinawië wat die Nobelsimposia namens die Nobelstigting aanbied sedert die simposiumreeks in 1965 van stapel gestuur is.

Die eerste simposium in die reeks word van 24 tot 28 Oktober by STIAS op Stellenbosch aangebied. Dit handel oor Fisika, en meer spesifiek oor die onderwerp “Voorspelbaarheid in die wetenskap in die era van kunsmatige intelligensie".

Die Nobelsimposia is gewoonlik geslote sessies waar van die voorste wetenskaplikes ter wêreld oor nuwe navorsingsontdekkings en ontwikkelings op hulle gebied beraadslaag. Die Fisikasimposium wat STIAS en die US sal aanbied, sluit egter 'n uitreik-element in waarvoor deelnemers ook openbare lesings by universiteite en navorsingsinstitute deur die hele land sal aanbied as 'n manier om wetenskap vir 'n groter gehoor toeganklik te maak. Die openbare uitreiklesings is afgestem op akademiese universiteitspersoneel en studente om die volgende geslag vakkundiges op die vasteland te inspireer, terwyl dit ook die algemene publiek van die jongste wetenskaplike ontdekkings sal bewus maak.

In gesprek met internasionaal bekende en gerekende wetenskaplikes en wêreldwye agente vir verandering, beoog die Nobel in Afrika-simposia om die wetenskap te vier en deurbrake aan die akademiese, openbare en privaat sektore in Suid-Afrika en Afrika bekend te maak. Die doel is om 'n internasionale forum te bied om oor innoverende, gevorderde akademieskap te gesels, en te toon hoe belangrik wetenskaplike navorsing vir die toekoms van die vasteland en die wêreld is.

STIAS skenk spesiale aandag aan Afrika en is op lang termyn daartoe verbind om toekomstige geslagte vakkundiges en intellektuele leiers op die vasteland te ontwikkel en te ondersteun. Ons etos is om voortgesette gesprek tussen die blinkste denkers in Afrika en hulle eweknieë elders ter wêreld in die hand te werk.

183ste NOBELSIMPOSIUM: Fisika – uitreikprogram

Verskeie openbare uitreiklesings sal sowel voor as na die Fisikasimposium plaasvind. Raadpleeg die volledige uitreikprogram hieronder:

18 Okt, 17:00–18:30, Universiteit van Wes-Kaapland
Openbare uitreiklesing deur Yin-Zhe Ma (Universiteit van KwaZulu-Natal)

20 Okt, 13:00–14:00, Universiteit van Kaapstad
Openbare uitreiklesing deur Viatcheslav Mukhanov (LMU, München)

20 Okt, 18:00–19:30, Universiteit Stellenbosch
Openbare uitreiklesing deur Erik Aurell (KTH Koninklike Instituut vir Tegnologie)

21 Okt, 16:30–19:00, Nelson Mandela Universiteit
Openbare uitreiklesing deur Neil Turok (Universiteit van Edinburgh), met 'n inleidende praatjie deur Thifhelimbilu Daphney Bucher (Kaapse Skiereiland Universiteit vir Tegnologie)

21 Okt, 11:00–12:00, Afrika Instituut vir Wiskundige Wetenskappe (AIMS)
Openbare uitreiklesing deur Francesco Petruccione (Universiteit Stellenbosch)

24 Okt, 16:30–18:00, Universiteit Stellenbosch
Openbare uitreiklesing deur sir Michael Berry (Universiteit van Bristol)

31 Okt, 13:00–14:30, Universiteit van KwaZulu-Natal
Openbare uitreiklesing deur Neil Turok (Universiteit van Edinburgh) en Armita Nourmohammad (Universiteit van Washington)

31 Okt, 18:00–19:50, Universiteit van KwaZulu-Natal
Openbare uitreiklesing deur Mogens H. Jensen (Universiteit van Kopenhagen) en Angelo Vulpiani (Nasionale Instituut vir Kernfisika, Rome)

1 Nov, 10:00–12:00, Universiteit van KwaZulu-Natal
Openbare uitreiklesing deur Erik Aurell (KTH Koninklike Instituut vir Tegnologie) en Luca Gammaitoni (NiPS-laboratorium, Universiteit van Perugia)

2 Nov, 16:00–17:00, Universiteit van die Witwatersrand
Openbare uitreiklesing deur Armita Nourmohammad (Universiteit van Washington)

MEER OOR STIAS

Die Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Navorsing (STIAS) is op die historiese Mostertsdrift-landgoed op Stellenbosch, Suid-Afrika, geleë. Dit is in 1999 kragtens 'n besluit van die Raad van die Universiteit Stellenbosch tot stand gebring, en het in 2007 'n outonome navorsingsorganisasie geword wat as 'n artikel 21-maatskappy (sonder winsoogmerk) geregistreer is. STIAS bied 'n genootskapsprogram wat kruisdissiplinêre navorsing bevorder. As die eerste van sy soort in Afrika, is STIAS op soortgelyke institute elders ter wêreld geskoei. In hierdie kreatiewe denkruimte word toonaangewende navorsers en intellektuele van oor die hele wêreld ondersteun om innoverend te dink en aan volhoubare strategieë vir die wêreld se uitdagings te werk, met spesiale aandag aan Afrika, dog nie uitsluitlik nie.

 

Vir meer inligting, kontak:

Noloyiso Mtembu

Woordvoerder: Nobel in Afrika-inisiatief

noloyiso@sun.ac.za of 082 389 3370