Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Inisiatief vir Ontluikende Akademici aanlyn en aan die gang
Outeur: SU International
Gepubliseer: 06/10/2021

Inisiatief vir Ontluikende Akademici aanlyn en aan die gang​

Die Inisiatief vir Ontluikende Akademici ​(oftewel “ESI") in US Internasionaal se Africa Centre for Scholarship (ACS) het in 2020 kwalik sy vere begin regskud om sy beoogde multidissiplinêre gesamentlike skole oor die hele Afrika aan te bied, toe die pandemie tref. Maar danksy behendige voetwerk en aanpasbaarheid het die inisiatief na die kuberruim verskuif en, ondanks die uitdagings van COVID-19, reeds sy eerste drie skole aangebied.

Die ESI beoog om gesamentlike skole saam met 12 vennootuniversiteite van die Universiteit Stellenbosch (US) in nege Afrikalande, naamlik Egipte, Ethiopië, Kenia, Malawi, Nigerië, Rwanda, Senegal, Uganda en Zambië, aan te bied. 'n Aantal van die vennootinstellings maak ook deel uit van die prestigeryke Afrikanavorsingsuniversiteitsalliansie (“ARUA"), wat verdere geleenthede vir samewerking en sterker bande tussen gerekende Afrikavennote skep.

Die inisiatief dien as 'n verlengstuk van die aktiwiteite van die Afrika Doktorale Akademie (ADA), wat óók in die ACS geleë is. Die ADA se Stellenbosch-gebaseerde skole, wat op huidige en voornemende PhD-kandidate, studieleiers en navorsers afgestem is, het sedert 2009 reeds meer as 5 600 mense in 55 lande bereik. Daarbenewens is die ADA se Program vir Gesamentlike Skole in Afrika in 2016 van stapel gestuur om bekostigbare, vaardigheidsgebaseerde leer van gehalte op die terrein van Afrikavennootinstellings te voorsien ten einde akademieskap en loopbaanopleiding te bevorder en te versterk.

Die ESI wil hierdie doel versnel. Die projek konsentreer op twee strome – een vir doktorale studente en 'n ander vir nuwelingpersoneel, wat almal deur hulle instellings as ontluikende akademici beskou word – en bied kursusse oor navorsingsmetodologie, studieleiding, akademiese skryfwerk en publikasie sowel as generiese vaardighede aan, na gelang van die individuele instellings se behoeftes en prioriteite. Kursusse word gesamentlik deur fasiliteerders van die US en van die vennoot- of gasheerinstelling ontwerp. 

Toe die koronaviruspandemie die ESI se planne in die wiele ry om hierdie skole in kontakvorm aan te bied, kon hulle gelukkig leer uit die ervaring van die ADA, wat reeds sedert Julie 2020 sy doktorale skole ten volle aanlyn aanbied. Gevolglik kon die ESI óók na 'n ten volle aanlyn onderrigomgewing oorskakel, en het die inisiatief tot dusver vanjaar reeds suksesvolle aanlyn multidissiplinêre gesamentlike skole saam met Strathmore-universiteit (Kenia, in April), die Universiteit van Lagos (Nigerië, in Mei en Junie) en die Universiteit van Rwanda (in Augustus) aangebied.

Die ESI sal voortbou op die sukses van hierdie eerste drie skole en voortgaan om akademieskap in Afrika te bou, geleenthede vir samewerking te skep, en die US se vennootskappe op die vasteland te versterk. Terselfdertyd ontvang US-studente blootstelling aan nuwe omgewings in Afrika, wat hulle globale vaardighede uitbrei en verrykende kruiskulturele ervarings bied.