Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US gebruik GoPro-kamera as opvoedkundige instrument tydens operasies
Outeur: Corporate Communication and Marketing / Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 13/11/2020

GoPro-kameras is nie net uitstekend om aksiesport, buitelug-avonture en sinsbegogelende vertonings op film vas te lê nie. Hulle kan ook as 'n opvoedkundige instrument vir chirurgiestudente gebruik word.

Dit is een van die vernaamste bevindinge van 'n onlangse studie by die Universiteit Stellenbosch (US).

“Drabare GoPro-kameras maak die opneem van chirurgiese prosedures uit die chirurg se oogpunt moontlik vir bykomende opvoedkundige doeleindes. Hierdie opnames kan deur studente as aanvullende materiaal vir self-leer en hersiening gebruik word, asook vir die uitbouing van videobiblioteke vir navorsing en assesserings," sê prof Karin Baatjes van die afdeling vir Chirurgie by die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe aan die US. Sy het saam met Alex Keiller van die US se Sentrum vir Leertegnologieë, Alwyn Louw* van die US se Sentrum vir Gesondheidsberoepe Onderwys  (SGBO) en Marietjie van Rooyen van die Universiteit van Pretoria die uitvoerbaarheid van die gebruik van die GoPro HERO-kamera getoets om operasies by die Tygerberg Akademiese Hospitaal vir opvoedkundige doeleindes op te neem.

Die bevindinge van hul studie het onlangs in The Clinical Teacher verskyn.

“Daar bestaan beperkte hulpbronne vir die opleiding van chirurgiese snykundige tegnieke. Dit sluit beperkte opleidingstyd, onbestendige blootstelling aan prosedures gedurende kliniese rotasie en onvoldoende geleenthede om weer na prosedures buite die teater te kyk. Verder kyk die student ook uit 'n ander hoek na die prosedure as die opererende chirurg.

Ons het dus besluit om die GoPro-kamera in intydse teatertoestande te evalueer om die praktiese aspekte daarvan as 'n opvoedkundige bykomstigheid vir chirurgie te bepaal.

“Hierdie toestelle is klein, liggewig, sterk en is draagbare of kan op voorwerpe gemonteer word. Dit neem hoë-definisie video's deur 'n wyehoeklens wat chirurge in staat stel om prosedures maklik in die teater en kleiner prosedures in die spreekkamer op te neem."

Agt operasies is deur drie chirurge wat 'n kop-gemonteerde GoPro-kamera gedra het, uitgevoer en hierdie opnames het gedurende operasieprosedures op die standaard weeklikse teaterlys plaasgevind om nie die werksvloei te vertraag, of om teatertyd of die pasiënte se toestand in gedrang te bring nie.

Volgens Baatjes bied die opnames aan studente die geleentheid om uit die chirurg se oogpunt na die prosedures te kyk sonder om met steriliteit, die duur van die prosedures of die teateromgewing in te meng.

“Kliniese personeel het geen inmenging met opererende steriliteit, die duur van die prosedures of met die funksionering van die teater ondervind nie. Tegnies was die gehalte en beeldveld voldoende.

“Die opnames van chirurgiese prosedures op die GoPro-kamera as 'n opvoedkundige toevoegsel is praktiese en gebruikersvriendelik, en dit meng nie in met kliniese pasiëntesorg nie. Die video's het kruisdissiplinêre moontlikhede vir opleiding binne die geneeskunde."

Baatjes sê die opnames word in MP4-formaat gedoen en kan dus op verskeie platforms gebruik word.

Sy benadruk dat hoewel studente die video's as aanvullende materiaal vir selfleer en hersiening kan gebruik, moet dit nooit aktiewe deelname aan operasies vervang nie.

Baatjies noem ook dat sommige van die nadelige aspekte was dat chirurge die kamer se kopband te nou en die kamera swaar gevind het. Die battery moet tussen lang prosedures herlaai word..

“Nie alle operasies is geskik vir opname nie en nie alles pasiënte het toestemming gegee dat hul prosedures gedokumenteer kon word nie, wat 'n klein reeks video's tot gevolg gehad het."

Baatjes sê nuwe modelle van die kamera is ligter en het 'n langer batterygebruiksduur, wat die probleme wat gedurende die studie ondervind is, kan verlig.

Sy voeg by dat hulle in die volgende fase op die inwerkingstelling van die opleidingsvideo's in die chirurgiese kurrikulum gaan fokus.

*Dr Alwyn Louw is ongelukkig onlangs oorlede. Klik hier vir 'n huldeblyk deur die US se Sentrum vir Onderrig en Leer.

  • Bron: Baatjes KJ, Keiller AV, Louw AJ, Van Rooyen M. Point-of-view technology to teach surgery. The Clinical Teacher. 2020;00:1–5. https://doi.org/10.1111/tct.13272 ​​