Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Huldeblyk aan dr Alwyn Louw
Outeur: CTL colleagues
Gepubliseer: 28/10/2020
Huldeblyk aan dr Alwyn Louw


Saam met die res van die studente en personeel van die Universiteit Stellenbosch (US) betreur ons by die Sentrum vir Onderrig en Leer (SOL) die afsterwe van ons kollega dr Alwyn Louw.

Alwyn het baie belanggestel in en ’n groot invloed gehad op leer- en onderrignavorsing en -innovasie wat daarop ingestel is om studente se leerervarings te verbeter. Hy was geesdriftig oor studente en ’n buitengewone onderwyser – daarvan getuig die talle kere dat hy die Eerstejaarsprestasietoekenning oor die jare heen ontvang het. Eerstejaarstudente in die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe benoem vir erkenning die dosent wat hulle akademiese sukses tydens daardie dikwels uitdagende eerste studiejaar die meeste beïnvloed het. Dr Louw se geesdrif, insig en ondervinding het talle studente in die verlengde graadprogram se lewens aangeraak en verander.

Oor die jare heen het hy verskeie navorsingskenkings uit die Fonds vir Innovasie en Navorsing oor Leer en Onderrig (FINLO) ontvang, wat van sy toewyding aan hierdie roeping getuig. Hy het dikwels met kollegas saamgewerk en is gretig uitgenooi om aan navorsing deel te neem omdat sy kennis, kundigheid en vrygewigheid hoog op prys gestel is. Op grond van sy sukses met FINLO-projekte het hy dikwels voorleggings by die jaarlikse US Konferensie oor die Akademieskap van Onderrig en Leer (AvOL) gedoen, en sou by vanjaar se virtuele AvOL-konferensie weer die mede-aanbieder van ’n referaat wees – een wat op die kortlys vir moontlike bekroonde voorleggings is.

Hoewel hierdie akademiese eerbewyse noemenswaardig is, sal die meeste van ons Alwyn onthou vir sy warm, vriendelike, gawe, vrygewige en toeganklike persoonlikheid. Hy was iemand wat maklik kon lag en het altyd vriendelik geglimlag en hartlik gegroet; hetsy in die lesingsaal, in die gang of in sy kantoor. Ons sal hom baie mis.