Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Oor vierde termyn en vlak 1
Outeur: Prof Wim de Villiers​: Rector and Vice-Chancellor
Gepubliseer: 21/09/2020

​“Kwartaal 4 en vlak 1 begin vandag"

21 September 2020

Beste kollegas en studente

Vandag lui twee nuwe tydperke in – die laaste kwartaal van die akademiese jaar, en vlak 1 van die nasionale staat van inperking in reaksie op die koronaviruspandemie.

Ons is saam met die res van die land bly dat omstandighede dermate verbeter het dat die inperking verslap kon word. Maar ons durf nie oorhaastig reageer nie, want COVID-19 bly ʼn bedreiging.

Na die president se aankondiging verlede week, het die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding instellings versoek om elk eers ʼn risikobepaling te doen voordat personeellede en studente genooi word om terug te keer. Ons het dadelik hiermee begin. ʼn Dringende vergadering van ons Institusionele Komitee vir Bedryfsvoortsetting (IKBV) is vir vandeesweek belê, en ons sal die universiteitsgemeenskap so gou moontlik laat weet wat daar besluit word.

Intussen gaan ons voort met noodafstandsonderrig, -leer en -assessering om te sorg dat ons die akademiese jaar suksesvol voltooi. Ons weet dat die laaste kwartaal gewoonlik besonder druk is, so in hierdie buitengewone omstandighede kan ons verwag dat dit selfs besiger sal wees.

Aan elke student

Dankie dat jy steeds jou bes doen. Uit die terugvoer wat ons ontvang, en te oordeel na assesseringsuitslae tot dusver, lyk dit of studente goed aangepas het by die nuwe omstandighede. Nietemin weet ons dat jy ook voor groot uitdagings te staan kom, maar wees asseblief gerus dat ons fakulteite, departemente, dosente en steunpersoneel ekstra hard werk om jou by te staan.

Baie sterkte – ons is byna daar! Nog net ses weke se lesings bly oor, dan is dit tyd vir die jaareindeksamen.

Die eksamen wat voorlê, en veral om dit aanlyn af te lê, kan besonder spanningsvol wees. Die Sentrum vir Studentevoorligting en -ontwikkeling (SSVO) bied bykomende aanlyn sessies aan om studente vir die eksamen te help voorberei. Stel gerus die SSVO in kennis indien jy daarin belang stel om by enige daarvan in te skakel. Sessies is gratis. Reël ook gerus 'n sessie met 'n professionele voorligter of sielkundige, wat jou sal evalueer om te bepaal watter soort steun jy nodig het.

Vir alle navrae oor akademiese steun, e-pos studysuccess@sun.ac.za of skakel 021 808 4707. Vir alle navrae oor emosionele steun, e-pos supportus@sun.ac.za of skakel 021 808 4994. Klik gerus hier vir verdere inligting oor alle beskikbare SSVO-dienste.

ʼn Ander uitdaging waarmee die land van tyd tot tyd worstel, is beurtkrag. Ons akademiese departemente ondersoek tans meganismes wat studente steeds geleentheid sal bied om modules te voltooi indien hul beplande assesseringsgeleenthede weens beurtkrag in die slag bly. Jou dosente sal jou van reëlings in hierdie verband in kennis stel.

Finalejaarstudente dink waarskynlik in dié stadium aan werksgeleenthede en is dalk bekommerd oor die huidige ekonomiese klimaat. Ek herinner jou graag dat die SSVO se Eenheid vir Graduandi-loopbaandienste daar is om jou te help. Hul doel is om studente met die arbeidswêreld in aanraking te bring, waarvoor hulle uitstekende hulpbronne beskikbaar het (klik hier). Hulle kan jou bystaan om 'n CV op te stel, jou LinkedIn-profiel te optimaliseer en vir onderhoude voor te berei – alles gratis. Ek moedig jou ook aan om op MatiesCareers te registreer om van moontlike werksgeleenthede te hore te kom.

Aan personeellede

Ons het begrip vir die geweldige uitdagings van hierdie moeilike akademiese jaar. Ons weet byvoorbeeld goeie voorbereiding vir aanlyn lesings verg baie bykomende werk van ons dosente. Vir jul volgehoue moeite met die lewering van ons akademiese aanbod het ons die allergrootste waardering. Die meeste studente en hul ouers is ewe dankbaar – daarvan is daar volop getuienis.

Ongelukkig loop ons dosente wél soms onder onregverdige kritiek deur, wat 'n mens moedeloos kan stem. Daar is egter bystand beskikbaar. Gesels met jou departementshoof of dekaan, en moenie huiwer om die Afdeling Menslike Hulpbronne te nader nie. Ek herinner jou graag ook aan die dienste van die Universiteit se welweeskantoor (klik hier). Daarbenewens is ons spesiale webblad oor gesondheid en welwees tot jou beskikking (klik hier).

Ons personeellede in die professionele administratiewe steundienste doen op hulle beurt ook méér as hul deel. Baie dankie daarvoor. Uit al die nuwe benaderings wat ons in rekordtyd moes aanleer, glo ek ons het metodes gevind wat ons voortaan met vrug sal kan gebruik om die Universiteit se dienste selfs verder te verbeter.

Saam vorentoe!

Die geluk by die ongeluk van hierdie moeilike jaar is dat Span US mekaar nog beter leer ken het en nog meer waardeer – daaroor is ek baie bly. Kom ons doen so voort. Vasbyt – daar is lig aan die einde van die tonnel.

Vriendelike groete

Prof Wim de Villiers
Rektor en Visekanselier