Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Personeelwelwees gedurende COVID-19 en daarná
Outeur: Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie [Rozanne Engel]
Gepubliseer: 21/07/2020

Met die voortslepende wêreldwye COVID-19-krisis sorg baie akademiese instellings, sowel plaaslik as internasionaal, dat hulle prioriteit gee aan personeellede en studente se welstand en geestesgesondheid.

As deel van die Universiteit Stellenbosch (US) se Mandeladag-aktiwiteite het Matie Gemeenskapsdiens 'n 67 minute lange aanlyn gesprek aangebied oor die tema “Personeelwelwees gedurende COVID-19 en daarná".

Matie Gemeenskapsdiens (MGD) het besluit om US-personeel ter ere van Mandeladag vanjaar 67 minute lank te laat stil word en besin oor hoe die pandemie hulle lewens raak.

Dr Gillian Arendse, voormalige adjunkdirekteur van die US se Sentrum vir Studentewerwing en Loopbaanadvies, het die gesprek gelei. Die paneellede was prof Soraya Seedat, uitgelese professor in Sielkunde en uitvoerende hoof van die Departement Psigiatrie in die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe; dr Lynne Damons, 'n sielkundige en dosent in die Departement Opvoedkundige Sielkunde in die Fakulteit Opvoedkunde, en me Shibu Mamabolo, die hoof van Personeelwelwees.

Prof Ronelle Carolissen, MGD-voorsitter, het die gesprek geopen en deelnemers by die aanlyn geleentheid verwelkom. Sy het klem gelê op die belang van gereelde aanlyn gesprekke om mense in kontak te hou en die uitdagings van hierdie ongekende tyd die hoof te help bied.

Sy het ook besin oor die verlies aan “struktuur en tradisies wat ons nog altyd 'n mate van sekerheid gebied het", en die hoop uitgespreek dat die MGD se programme en gesprekke voortaan sowel personeel as studente met krisishantering, welwees en geestesgesondheid sal help.

Ál drie paneellede het gedurende die aanlyn gesprek vertel hoe die pandemie hulle krisishanteringsvaardighede en geestesgesondheid beïnvloed het, en hulle boonop laat dink het oor wat die belangrikste is in die lewe.

Volgens prof Seedat sukkel baie mense landwyd tans met hulle geestesgesondheid en is dit van die allergrootste belang om in dié tyd veerkragtig te bly.

“COVID-19 raak ons almal, jonk én oud. Dit is belangrik dat ons nie net die COVID-19-infeksiekurwe afplat nie, maar ook die kurwe in geestesgesondheidsprobleme onder personeellede en studente," het Seedat gesê.

Dr Damons glo “daar is verskillende fases van COVID-19-hantering" en het mense aangeraai om van hierdie tyd gebruik te maak om selfondersoek te doen en meer empatie te ontwikkel met ander wat met soortgelyke probleme te kampe het.

“Baie mense beleef nou 'n moeilike tyd omdat hulle nie net veranderinge buite hulle beheer moet aanvaar nie, maar ook gedwing word om hulle lewens en identiteit in oënskou te neem. Dis nóú belangriker as ooit vantevore om ware, opregte bande met ander te hê en alle beskikbare aanlyn platforms te gebruik om deur die COVID-19-pandemie te kom."

Me Mamabolo het gesê die Universiteit bly toegewy aan personeellede se gesondheid en welwees, en het US-werknemers opnuut genooi om van die hulpbronne tot hulle beskikking gebruik te maak.

“Ongelukkig is daar baie personeellede wat nog nie ten volle gebruik maak van al die hulpbronne tot hulle beskikking by die Universiteit nie. Alle personeel het byvoorbeeld toegang tot die Werknemerbystandsprogram, wat in dié tyd van groot waarde kan wees, veral vir diegene wat nou swaar trek," het Mamabolo gesê.

Die MGD sal op 29 en 31 Julie 'n verdere twee geleenthede vir personeellede en studente aanbied.

Daardie geleenthede sal op die kunste, digkuns en musiek konsentreer, en sal webinare en gesprekke insluit.

Klik hier vir meer inligting. ​