Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Studente: Belangrike inligting oor aanlyn-leer in tweede kwartaal
Outeur: Prof Stan du Plessis: Chair: Institutional Committee for Business Continuity
Gepubliseer: 17/04/2020

17 April 2020

Beste Student

Sedert ons vorige skrywe op 8 April, het president Cyril Ramaphosa 'n verlenging van die tydperk van algehele inperking tot einde April aangekondig om die verspreiding van die COVID-19-virus in toom te hou. Hierdie aankondiging beïnvloed ons almal en ons bedank jou vir jou geduld terwyl ons voortgaan om die uitdagings aan te pak soos hulle daagliks ontvou. Ons doen ons scenario-beplanning by die Universiteit Stellenbosch (US) met die feit in gedagte dat omstandighede mag verander. Ons is egter steeds daartoe verbind om die 2020-akademiese jaar te voltooi en om ons studente hierin te ondersteun.

 Hieronder sal jy die jongste bywerkings oor verskeie sake wat ons studente raak, vind – veral rakende die tweede kwartaal van die eerste semester wat Maandag, 20 April 2020 via ons platform vir aanlyn-leer-en-onderrig, SUNLearn, 'n aanvang neem. Ek wil jou ook verwys na die webblad wat riglyne oor aanlyn-leer verskaf: http://www.sun.ac.za/afrikaans/learning-teaching/student-affairs/cscd/Pages/Guidance-for-Student-Online-Learning.aspx

Aanlyn-leerondersteuning

Meld asb al jou aanlyn-leer en SUNLearn ondersteuningsversoeke by die portaal hieronder aan sodat ons jou ondersteuningsversoeke kan volg en dit doeltreffend kan oplos. Jy sal ook hulpbronne vir selfhelp op hierdie webwerf vind.

Verskaffing van skootrekenaars aan studente sonder toestelle

Gegrond op die terugvoer wat ons ontvang het van 'n aanlyn-opname wat deur sowat 19 000 studente voltooi is, 'n SMS wat gestuur is aan studente wat nie die opname voltooi het nie, terugvoer van fakulteite en oproepe wat die US se Kontak- en Kliëntedienssentrum ontvang het, het die US 'n lys van studente wat net toegang tot 'n selfoon het en/of wat aangedui het dat hulle die US se skootrekenaar-leenaanbod wil benut, saamgestel.

Die US het 1 500 skootrekenaars bekom wat aan sosio-ekonomies benadeelde studente wat geen toegang tot die US se aanlyn-leerhulpbronne het nie, beskikbaar gestel sal word. Volgens hierdie aanbod sal die prys van die skootrekenaar by die studente se rekening gevoeg word, maar weer verwyder word wanneer die student die skootrekenaar aan die einde van die akademiese jaar terugbesorg. 'n SMS sal aan die lys studente gestuur word om hul aanvaarding van die aanbod te bevestig, asook om hul fisieke adresse te bevestig ten einde dit per koerier te laat aflewer. Wanneer dit bevestig is, sal die nodige sagteware op die skootrekenaars gelaai en by ons studente afgelewer word. Hierdie rekenaars sal deur die Universiteit se versekering gedek word, mits studente alle redelike stappe doen om die toerusting te beveilig.

Gratis toegang tot webwerwe

Die jongste inligting oor gratis toegang tot webwerwe en wenke oor hoe om selfoonkostes in toom te hou, is op die riglyne-webblad vir aanlyn-leer beskikbaar. Klik hierOm ons studente te help, het ons 'n vraag-en-antwoord-dokument saamgestel vir maklike verwysing.

Aangepaste 2020-universiteitsalmanak

Dit het nodig geword om die 2020-universiteitsalmanak aan te pas weens die ontwrigtende uitwerking van die COVID-19-pandemie en die daaropvolgende nasionale algehele inperking. Nadat die Uitvoerende Komitee van die Senaat 'n aangepaste raamwerk vir die akademiese kalender goedgekeur het, het die Registrateursafdeling begin om die 2020-almanak vir die res van die jaar hiervolgens aan te pas. Sodra die finale weergawe deur die Uitvoerende Komitee van die Senaat goedgekeur is, sal die aangepaste almanak in die week van 20 April 2020 op die US-webwerf verskyn.

 

Roosters vir klasse, toetse en eksamens

Die roosters vir klasse, toetse en eksamens word tans volgens die aangepaste akademiese kalender geherskeduleer. Raadpleeg asb die personeel- en studente-webportale vir die nodige inligting, asook vir bykomende kennisgewings rakende dit.

 Inligting sal beskikbaar gestel word op die datums hieronder aangedui:

  • Klasroosters vir die res van die jaar het reeds verskyn. Verduidelikende notas volg binnekort.
  • A1 (klastoetse) vir semester 1: 20 April (of so gou moontlik daarna)
  • A2 (eerste eksamengeleentheid) en A3 (tweede eksamengeleentheid) vir semester 1: 30 April (of so gou moontlik daarna)
  • A1, A2 en A3 vir semester 2: 27 Julie op die laatste

 

Hertoelating tot die Universiteit in 2021

Die Universiteit besef ons studente beleef baie uitdagings in die voortsetting van hul akademiese programme tydens die tydperk van algehele inperking en daarna. Hoewel ons verskeie meganismes ingestel het om ons studente gedurende die komende maande te ondersteun om akademies suksesvol te wees, besef ons dat van julle dalk gaan sukkel om die akademiese jaar suksesvol te voltooi.

 Daarom het die Universiteit besluit om alle studente wat in 2020 ingeskryf het, hertoegang tot hul akademiese programme in 2021 te gee – dit wil sê, ongeag van hul akademiese prestasie, sal hierdie studente nie uitgesluit word van die voortsetting van hul akademiese programme aanstaande jaar nie. Hierdie reëling geld nie vir studente wat in vorige jare akademies uitgesluit is nie – hierdie studente moet steeds aansoek doen vir hertoelating tot die Universiteit in 2021. 

 

Herplasing in universiteitskoshuise in 2021

Akademiese prestasie (HEMIS) as 'n kriterium sal, in ooreenstemming met die bostaande besluit oor akademiese hertoelating in 2021, nie studente uitsluit vir die herplasing in voorgraadse en senior koshuise op die Stellenbosse kampus in 2021 nie. Herplasing in koshuise is egter nie van toepassing wees op studente wat hul maksimum verblyf in 'n koshuis oorskry het nie. Op die Tygerberg-kampus sal derdejaar-inwoners in junior koshuise soos gewoonlik vir plasing in die senior koshuise moet aansoek doen.

Heraansoeke vir koshuise sal middel-Mei op die studente-portaal open en op 31 Julie sluit. Die Koshuisplasingsbeampte sal 'n herinnering hieraan aan alle studente in koshuise stuur. Neem asb kennis van die sperdatum en verseker dat jy betyds aansoek doen. Meer inligting oor die herplasing van studente in koshuise sal verskaf word sodra ons die toepaslike aansoekinligting beskikbaar het.

 Wat eerstejaarplasings betref, sal die Universiteit voortgaan met verblyfaanbiedinge in September wanneer meer inligting oor koshuiskapasiteit beskikbaar is.

Gefasseerde inwerkingstelling van onderrig en leeraktiwiteite op kampus vir studente

Een van die moontlike scenario's wat ná die tydperk van algehele inperking kan volg (wat tans tot 30 April 2020 geskeduleer is), kan 'n sogenaamde fase van “slim inperking" wees wat sakeondernemings en moontlik ook universiteite sal toelaat om hul dienste op 'n verantwoordelike manier wat die risiko's van COVID-19-infeksies beperk, te hervat.

Die oorkoepelende strategie van die US bly om aanlyn-leer vir ten minste die res van die tweede kwartaal van semester 1 van 2020 te verskaf, en om assesserings (toetse en eksamens) ook aanlyn te doen. Fakulteite het egter reeds begin om programme en modules te identifiseer waar studente sekere akademiese aktiwiteite op ons kampusse moet verrig. Ondersteuningsdienste ontwikkel tans maatreëls om die US se leergeriewe op só 'n manier te gebruik en te onderhou dat dit behoorlike sosiale afstandskepping en genoegsame sanitasie toelaat om die verspreiding van die virus te voorkom wanneer ons studente hul aktiwiteite op die kampus hervat.

Die inligting oor watter studente toegelaat sal word om na die kampusse terug te keer en teen wanneer, sal bekend gemaak word sodra ons 'n duidelike aanduiding kry van die volgende nasionale maatreëls om die huidige gesondheidspandemie te beperk.

Gefasseerde terugkeer van sommige studente na US-koshuise

Ongeag die spoed waarteen die akademiese programme van aanlyn-aanbieding na onderrig op kampus terugkeer, mag dit in uitsonderlike gevalle nodig wees om beperkte groepe studente na hul US-koshuise te laat terugkeer ná die verstryking van die nasionale tydperk van algehele inperking. Dit kan byvoorbeeld studente insluit wat nie die nodige rekenaartegnologie of internetverbinding tuis het om aanlyn te studeer nie, of studente wat noodsaaklike kliniese en praktiese werk in hospitale en US-laboratoriums moet doen.

Baie beplanning vind tans plaas oor hoe om studente veilig te akkommodeer en terselfdertyd noodsaaklike voedsel- en skoonmaakdienste te verskaf. Terugkerende studente sal na verwagting aan COVID-19-toetsing en tydelike kwarantynmaatreëls onderwerp word en hul beweging uit en binne koshuise mag beperk word. Spesiale reëlings sal getref word om na ons studentegemeenskappe onder hierdie ongewone lewensomstandighede om te sien. Die US se aksies sal deur die nasionale COVID-19-reaksieregulasies gelei word en studente sal mettertyd ingelig word oor wie mag terugkeer en teen wanneer.

Dit is belangrik om kennis te neem dat studente nie na koshuise moet terugkeer alvorens hulle nie amptelike kommunikasie hieroor ontvang het nie – hierdie uitnodiging van die US aan studente mag dalk selfs eers verskeie weke ná die beëindiging van die nasionale tydperk van algehele inperking volg. Gedurende die huidige tydperk van inperking tot einde April bly die nasionale ramp-regulasies van toepassing en studente sal nie in koshuise toegelaat word om persoonlike besittings of studiemateriaal te gaan haal nie.


Kortings op klas- en koshuisgelde

Die Universiteit Stellenbosch oorweeg tans die volle uitwerking van COVID-19 op klas- en koshuisgelde. Ons is bewus van die finansiële druk wat ons studente en hul gesinne gedurende hierdie moeilike tydperk beleef. Aangesien daar baie onsekerhede is, was ons nog nie in staat om 'n akkurate waardebepaling te doen nie, maar ons sal met studente en hul ouers kommunikeer sodra besluite hieroor geneem is.

Ek wil voorstel dat jy die eerste twee weke van die tweede kwartaal gebruik om jouself vir aanlyn-leer voor te berei en om die verskillende ondersteuningsdienste wat ons aan ons studente bied, te gebruik. Al die nodige inligting is op die COVID-19-webblad beskikbaar.

Ek wens jou alles van die beste toe vir die tweede kwartaal.

Prof Stan du Plessis

Voorsitter: Institusionele Komitee vir Sakevoortsetting