Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Opedag lok duisende voornemende studente
Outeur: Ronél Beukes
Gepubliseer: 23/02/2019

Duisende voornemende Maties en hul ouers het Saterdag (23 Februarie) gedurende US se Opedag op die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe toegesak om meer uit te vind oor loopbaanmoontlikhede en kursusse.

Die Fakulteit het 28 inligtingsessies deur die dag gehou oor onderwerpe wat gewissel het van 'n oorsig oor die fakulteitsaanbod tot 'n studenteperspektief, waar senior studente oor hul ondervindings gesels het. Aanbiedings oor rekeningkunde, ekonomie, logistiek, statistiek, bedryfsielkunde, volhoubaarheid en die sakewêreld (waarby entrpreneurskap, bemarking en beleggings ingesluit was) is deur die betrokke departemente en skole van die Fakulteit gelewer.

Volgens die dekaan, prof Ingrid Woolard, was sy beïndruk met die getal besoekers en die ingeligte vrae wat hulle aan die einde van haar aanbiedings gevra het. "Ons is baie tevrede met hoe die dag verloop het."

Besoekers aan die Opedag het die geleentheid gehad om meer as 100 stalletjies te besoek waar hulle inligting oor loopbane, studierigtings, beurse en lenings asook akkommodasie kon kry. Dit sluit in die 10 akademiese fakulteite, die onderskeie departemente, die verskillende US-ondersteuningseenhede soos Beurse en Lenings, Studentegelde, Maties Sport en Akademiese Ondersteuning sowel as Maties se studenteliggame waaronder die Studenteraad (SR), die koshuise en verenigings.

  • Het jy dalk die Opedag misgeloop? Besoek gerus http://www.maties.com vir meer inligting oor die aansoekproses, beurse en lenings, studentegelde, akkommodasie, ens.

  • Hooffoto: Studente en hul ouers het die Van der Sterr-kompleks besoek waar hulle met dosente gesels het en inligtingsessies bygewoon het. Ander foto's: EBW-Studentekomiteelid Mandi Watkins (in die middel) gesels met voornemende studente; en dosente van die Departement Ondernemingsbestuur beantwoord voornemende studente se vrae.

Dosente_opedag2019.jpgMandiWatkins.jpg