Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Navorsingsleierskap en wetenskaps-kommunikasie gaan hand aan hand, sê rektor by eerste mediatoekennings
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie (Martin Viljoen)
Gepubliseer: 12/10/2018

​​Die vraag is nie of jy dit kan bekostig om tyd aan openbare wetenskapskommunikasie te spandeer nie. Dit is of jy dit kan bekostig om dit nie te doen nie!

Dit was die boodskap van prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die Universiteit Stellenbosch (US) tydens die bekendmaking van die name van die eerste ontvangers die Media Toekennings van Uitnemendheid wat erkenning verleen aan 30 van die US voorste media-kommentators en nuusmakers vir  2018

Die toekennings is vroeër vandeesweek (Maandag 13 Oktober) gemaak as deel van die bekendstelling van ʼn spesiale uitgawe van die US se jaarlikse navorsingsverslag, Research@Stellebosch, wat by die Wallenberg Navorsingsentrum by STIAS gehou is.

Die toekennings, 'n inisiatief van die Afdeling Korporatiewe Kommunikasie, is in drie kategorieë gemaak, naamlik nuusmakers, denkleiers en medewerkers – diegene wat bydra om ander kollegas in die media te kry.

“Om ʼn positiewe mediaprofiel te hê, is van kritieke belang om ons visie op institusionele vlak te laat realiseer, maar navorsingsleierskap en wetenskapskommunikasie gaan hand aan hand. Om tyd en moeite in effektiewe kommunikasie te belê, help jou om ʼn beter wetenskaplike te word," het De Villiers gesê.

Met verwysing na studies oor wetenskapskommunikasie het De Villiers gesê dat om navorsing met die publiek te deel, hou voordele vir die US en sy akademici in. “Sigbaarheid in die media help akademici om hul eie navorsingsprofiel te bou. Ons het nou navorsingsbewyse dat ʼn goeie media-profiel – in die massamedia en op sosiale media – jou akademiese netwerke en aanhalingskoerse kan verhoog en dat dit help met beleidvorming."

Hy het ook die belangrikheid om die instelling se navorsing op ʼn toeganklike manier aan die publiek te kommunikeer, beklemtoon en gesê dat dit die publiek inlig, opvoed en inspireer. “Mag hierdie toekennings meer en meer kollegas inspireer om hul werk deur middel van die media te kommunikeer."

Hy het bygevoeg dat die Universiteit die meeste van die tyd onder die top drie universiteite in land is kragtens die totale aantal mediaberigte en die afgelope twee maande nommer een kragtens  navorsingsverslagdoening.

Erkenning

Mnr Martin Viljoen, Bestuurder: Media, het gesê dat die toekennings ʼn simboliese begin is om erkenning te gee aan nie net diegene wat gereeld in die media gefigureer het nie, “maar ook die wat altyd beskikbaar is vir die media – selfs op die vreemdste tye van die dag!"

Hy het gesê dat die proses en kriteria nou verder verfyn moet word. “Vir hierdie eerste toekennings het ons swaar geleun op volume – die aantal kere wat kollegas in die media was – volgens data wat ons van ons mediamonitering diensverskaffer ontvang het. Dit het ons gaan vergelyk met ons lys van kollegas wat altyd bereid is om kommentaar te lewer en met wie onderhoude gevoer kan word.

"In die verfyning van die proses sal ʼn mens byvoorbeeld die belangrikheid van die gee van kommentaar in die moet gaan vergelyk met volledige onderhoud op ʼn nuusprogram op radio of TV om by ʼn telling uit te kom om jou in aanmerking te bring vir ʼn toekenning. Voeg hierby die opweeg van sewe keer in ʼn  provinsiale koerant wees, teenoor een keer in ʼn nasionale koerant, en dit is ʼn taamlike uitdaging. Mens sal dit ook kan oorweeg om die aantal kategorieë te verhoog, om byvoorbeeld tussen kommentators en denkleiers te onderskei. Daar moet ook ʼn manier wees hoe ons die wat altyd vir die media beskikbaar is, erkenning voor kan gee."

Kategorieë

Die Nuusmaker-kategorie het erkenning verleen aan entiteite aan die Universiteit wat baie mediadekking teweeg gebring het. Die ontvangers is die TB-navorsing van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (professore Anneke Hesseling en Gerhard Walzl het die toekenning ontvang), die US-koor (mnr André van der Merwe), die US Regskliniek (dr Theo Broodryk), AgriWetenskappe se Landkuns-projek (prof Danie Brink) en Maties Sport. Die toekenning aan Maties Sport is aan Ilhaam Groenewald, Hoofdirekteur: Maties Sport by die 2018 Maties Sport Toekenningsfunksie op 15 Oktober, oorhandig.

Die Media Denkleier-toekennings het erkenning verleen aan die kollegas wat gereeld kommentaar gelewer het, deelgeneem het aan onderhoude, meningsartikels geskryf het en so heersende denke in ons land help vorm het.

Die ontvangers is: Prof Thinus Booysen (Fakulteit Ingenieurswese), prof Nuraan Davids (Fakulteit Opvoedkunde), prof Faadiel Essop (Fakulteit Natuurwetenskappe), prof Abel Esterhuyse (Fakulteit Krygskunde), prof Johan Fourie (Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe), prof Pumla Gobodo-Madikizela (Navorsingsleerstoel in Historiese Trauma en Transformasie), prof Amanda Gouws (Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe), prof Pieter Gouws (Fakulteit AgriWetenskappe), prof Jonathan Jansen (Fakulteit Opvoedkunde), prof Chris Jones (Fakulteit Teologie), prof Nico Koopman (Viserektor: Sosiale Impak, Transformasie en Personeel), me Irene Labuschagne (Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe), prof Michael le Cordeur (Fakulteit Opvoedkunde), prof Thuli Madonsela (Fakulteit Regsgeleerdheid), dr Morne Mostert (Instituut vir Toekomsnavorsing), prof Piet Naude (Direkteur van die US Bestuurskool), prof Renata Schoeman (US Bestuurskool), prof Erwin Schwella (Skool vir Publieke  Leierskap), dr Nic Spaull (Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe), prof Jantjie Taljaard (Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe), prof Anton van Niekerk (Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe), dr Leslie van Rooi (Senior Direkteur: Sosiale Impak en Transformasie) en prof Jimmy Volmink (Dekaan van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe).

In die derde kategorie is toekennings gemaak aan personeel gemaak wat ʼn betekenisvolle bydrae gelewer om te sorg dat of die Universiteit of ander kollegas gereeld die media haal. (Personeel van die Afdeling  Korporatiewe Kommunikasie het nie in 2018 in aanmerking gekom vir die toekenning nie.) Die ontvangers is me Wilma Stassen, Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe; me Wiida Fourie-Basson, Fakulteit Natuurwetenskappe en dr Marina Joubert, SENWET.

Foto: Prof Jonathan Jansen van die Fakulteit Opvoedkunde was 'n ontvanger van 'n toekenning in die kategorie Media Denkleier 2018 (Foto: Hennie Rudman).