Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Navorsingspublikasie bekendgestel, media-toekennings oorhandig
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie [Alec Basson]
Gepubliseer: 09/10/2018

Die Afdeling Navorsingsontwikkeling aan die Universiteit Stellenbosch (US) het Maandag (8 Oktober 2018) Research@SU100 – 'n spesiale uitgawe van die US se jaarlikse navorsingsverslag (Research @ Stellenbosch University) bekendgestel. Die geleentheid, wat by die Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Navorsing plaasgevind het, het ook as die oorhanding van die US se eerste toekennings vir uitnemendheid in die media gedien.

Research@SU100 bevat 100 navorsingstories as deel van die US se Eeufees, en beklemtoon 100 areas waarin die Universiteit se navorsing oor die afgelope 100 jaar 'n impak gehad het. Sommige van die grensverskuiwende navorsingsonderwerpe wat in hierdie vlagskippublikasie behandel word, sluit in dié oor tuberkulose, voorgeboortesorg, diabetes, voedselsekerheid, hernubare energie, wyn, klimaatsverandering, afvalwater, indringerspesies, seksuele geweld, kunsmatige intelligensie en ekologiese herstel.

Prof Wim de Villiers, US Rektor en Visekanselier, het Research@SU100 as 'n wonderlike publikasie beskryf en gesê dit is 'n viering van die prestasies in een van die instelling se kernprestasie-areas.

“As ons na die navorsingsverslag wat vandag bekendgestel word kyk, is dit duidelik dat ons 'n stewige fondament het waarop ons kan bou vir die pad vorentoe.

“Ons is baie trots op al ons navorsers – 'n groep hoogs talentvolle en toegewyde individue. Die publikasie wat ons vanaand bekendstel, 'Research@ Stellenbosch University', gaan oor die deel van hul werk met die wêreld."

In aansluiting by De Villiers, het dr Therina Theron, Senior Direkteur van die Afdeling Navorsingsontwikkeling, gesê dit is trotse produk, nie net vir die US en haar afdeling nie, maar ook vir die navorsers wat onverpoos werk om die wêreld 'n beter plek te maak en mense se lewens positief te beïnvloed. 

“Hierdie publikasie help ons regtig om die impak van ons navorsing te illustreer en wyer bekendstel. Die impak van die US se navorsing is duidelik wanneer ons deur hierdie publikasie lees."

Theron het genoem dat die publikasie aan die US se vennote en belanghebbendes regoor die wêreld gestuur word. Onder hulle tel staatsdepartemente, wetenskapsrade, industrievennote, belanghebbendes in hoër onderwys en internasionale organisasies.

Die jaarlikse Research@ Stellenbosch University-publikasies het reeds elke jaar oor 'n agt-jaar periode  ACE (Marketing, Advancement and Communication in Education)-toekennings ingepalm.

  • ʼn Virtuele aanlynkopie van Research@SU100 is beskikbaar by https://bit.ly/2QEUGky. Vir ʼn gedrukte weergawe, skakel met Maryke Hunter-Hüsselman, Direkteur: Navorsingsinligting en Strategie, by 021 808 4623 of e-pos mh3@sun.ac.za 

Media-toekennings

Ná afloop van die bekendstelling van Research@SU100, het die US vir die eerste keer erkenning gegee aan 30 van sy top media-kommentators en nuusmakers vir 2018. Toekennings vir uitnemendheid in die media is verleen aan nuusmakers, media-denkleiers, en diegene wat gehelp het om ander kollegas in die media te profileer.NEWS-41.jpg

Onder die nuusmakers was die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW), die US-koor en die US Regskliniek. Van die denkleiers en kommentators wat vereer is, sluit in prof Thinus Booysen (Elektriese en Elektroniese Ingenieurswese), prof Amanda Gouws (Politieke Wetenskap), prof Jonathan Jansen (Opvoedingsbeleidstudie), prof Faadiel Essop (Fisiologiese Wetenskappe) en prof Nico Koopman (Viserektor: Sosiale Impak, Transformasie en Personeel). Wiida Fourie-Basson (Fakulteit Natuurwetenskappe), Wilma Stassen (FGGW) en Marina Joubert (SENWET) het toekennings ontvang vir hul bydrae tot die profilering van ander kollegas in die media.

Prof Wim de Villiers het die eerste ontvangers van die US se media-toekennings gelukgewens en gesê dit belangrikheid om die US se navorsing op toeganglike wyse met die publiek te deel. “Dit sal die publiek inlig, opvoed en inspireer," het hy bygevoeg. 

De Villiers het na studies oor wetenskapskommunikasie verwys en gesê die US en sy akademici kan ook daarby baat wanneer navorsing met die publiek gedeel word.

  • Hooffoto: Voorblad van Research@SU100.
  • Foto 1: Prof Amanda Gouws saam met prof Wim de Villiers by die toekenningsgeleentheid. Fotograaf: Hennie Rudman.