Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Help US100 #Move4Food en ondersteun ons Maties
Outeur: Development & Alumni / Ontwikkeling & Alumni
Gepubliseer: 23/07/2018

Almal dink elke dag aan kos.

“Wat sal ek vandag maak om te eet?", “Watter kruideniersware moet ek koop?" en “Tyd om weer op dieet te gaan" is gedagtes wat ons almal goed ken.

Tog is dít nie die tipe kosgedagtes van 'n student wat met die harde werklikheid van voedselonsekerheid te kampe het nie.

“Ek hoop my vriend sê ek kan van sy middagete kry", “Hoe gaan ek vandag my gedagtes by my lesings bepaal?" en “Niemand gee om nie" – dis wat honger studente op universiteitskampusse landwyd dink. En die Universiteit Stellenbosch (US) is geen uitsondering nie.

“Matiewees is 'n ongelooflike ervaring – en ons wil hê alle studente moet toegang tot dieselfde geleenthede hê. Geen student op kampus behoort sonder kos of basiese behoeftes te wees terwyl hulle hier is nie," sê Ben Moolman, huidige Studenteraadsverteenwoordiger vir strategiese inisiatiewe en leierskapsontwikkeling.

“Ons wil 'n volhoubare oplossing skep vir studente op kampus. En hoewel die behoefte veel verder strek as kos, is kos die dringendste een," voeg hy by.

Die veldtog #Move4Food is 'n studente-inisiatief wat voedselbanke op Stellenbosch- en Tygerbergkampus wil skep. Die projek mik hoog met 'n insamelingsteiken van R10 miljoen (kontant en goedere) om te sorg dat geen US-student vir die volgende drie jaar 'n leë maag hoef te ervaar nie.

Met die onlangse aankondiging van fooivrye onderwys is die algemene opvatting dat studente in nood finansiële steun ontvang wat ál hulle universiteitskoste dek. “Dis ongelukkig nie die geval nie," sê Karen Bruns, Senior Direkteur: Ontwikkeling en Alumni-betrekkinge.

“Daar is perke op elke kostekomponent, soos klasgeld, huisvesting en kostoelaes. Dus ontstaan daar tekorte waarvoor die student self aanspreeklik is. Die grootste behoefte is aan die begin van die jaar, wanneer studente nog wag dat hulle finansiering goedgekeur word, en net voor die eindeksamens, wanneer kosgeld opdroog," verduidelik Bruns.

Sal jy ons help #Move4Food?

Wonder jy hoe jy kan help? Dis maklik – trek jou tekkies aan!

Die US het kragte saamgesnoer met die Sanlam Kaapstad-marathon, wat op 22 en 23 September​ plaasvind, om personeellede, studente, alumni en vriende van die Universiteit aan te spoor om steun vir voedselbanke op ons Stellenbosch- en Tygerbergkampus te werf.

Maak só om in te skryf:

  • As jy reeds jou kaartjie vir die marathon gekoop het, kan jy vir Maties se #Move4Food-span inskryf deur 'n e-pos na ontwikkeling@sun.ac.za te stuur.
  • As jy nog nie jou kaartjie het nie, bied ons jou 25% afslag op inskrywings vir die wedlope van 42,2 km en 10 km. Kaartjies vir die 5 km en veldloop is ook beskikbaar. 
    • Stuur 'n e-pos na ontwikkeling@sun.ac.za en kry 'n koeponkode waarmee jy op die webtuiste van die Kaapstad-marathon kan registreer. 
    • Sodra jy geregistreer het, sal jy verdere inligting ontvang oor hoe jy onder jou vriende en familie kan geld insamel om mede-Maties ook húlle “wenstreep" te help oorsteek.

So, of jy nou die wedloop van 10 km, die volle marathon van 42,2 km of korter roetes aflê, kom wys wat in jou steek, en help mede-Maties om dieselfde te doen!

Kom ons #Move4Food en stop voedselonsekerheid op kampus.​