Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Meer oor US100 #Move4Food
Outeur: Development & Alumni / Ontwikkeling & Alumni
Gepubliseer: 23/07/2018


1.       Waarom die US100 #Move4Food-veldtog?

Die Move4Food-veldtog spruit uit ons suksesvolle #US99-veldtog, wat daarop uit was om studenteskuld te verlig. Met daardie projek het ons meer as R1 miljoen ingesamel sodat van ons graduandi die arbeidswêreld sonder 'n swaar skuldlas kon betree.

Sedertdien werk ons ten nouste saam met ons studentegemeenskappe om kernbehoeftes op kampus te bepaal waarin ons kan help voorsien. Voedselonsekerheid blyk 'n dringende een te wees.

2.       Is voedselonsekerheid werklik 'n kwessie vir die Universiteit Stellenbosch?

Ja, dit is.

Daar is 'n algemene opvatting dat studente aan die Universiteit Stellenbosch ten volle gefinansier word, maar dit is nié die geval nie.

Ondanks die aankondiging van 'fooivrye onderwys' lei die perke op toelaatbare koste tot finansieringstekorte.

Hierdie tekorte en finansieringsvertragings laat baie studente sonder toegang tot basiese behoeftes soos kos en toiletware. 

As deel van ons Eeufeesaktiwiteite mobiliseer ons dus nou die US100 #Move4Food-veldtog om voedselbanke op Stellenbosch- en Tygerbergkampus te skep. 

Ons doelwit is om 'n volhoubare model te voorsien wat studente waardige, stigmavrye toegang tot noodsaaklikhede bied, en om die kultuur van ubuntu onder ons studente verder te versterk.

3.       Waar pas die Kaapstad-marathon in? (22 en 23 September 2018)

Op 14 Junie was dit nog net 100 dae tot en met die Kaapstad-marathon 2018.

Vanjaar blyk die jaar van eeufeesvieringe te wees: Sanlam vier sy 100ste bestaansjaar, en so ook die Universiteit Stellenbosch. Boonop sou Nelson Mandela vanjaar 100 jaar oud geword het.

In die gees van nalatenskap en van deelname aan positiewe verandering nooi ons graag ons personeellede, studente en alumni om iets spesiaals te doen om Maties hulle akademiese wedloop te help wen. Ons moedig hulle nie net aan om ter wille van die saak te hardloop nie – ons daag hulle ook uit om aan portuurfinansiering deel te neem sodat ons 'n werklik volhoubare oplossing kan skep.

4.       Wat presies is portuurfinansiering?

Portuurfinansiering is eintlik maar skarefinansiering in jou naaste invloedsfeer. As jy jou tot 'n saak verbind en daadwerklik optree, inspireer jy ander om jou.

Jy word iemand met invloed.

Daarom sal mense hulle waarskynlik agter jou skaar, want hulle glo in jou en in wat jy doen.

Hier's 'n voorbeeld van 'n GivenGain-blad van 'n US-personeellid wat die 10 km sal aflê: https://www.givengain.com/a/cherylbenadiemoves4food/.

Alumni het vroeër vanjaar saam met die Rektor aan die Kaapstad-fietstoer deelgeneem om beursgeld in te samel. Hierdie keer voeg die Rektor wéér die daad by die woord en sal hy die Sanlam marathon (42,2 km) aflê om die saak te ondersteun.