Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US stel nuwe aanlyn-platform vir sosiale impak bekend
Outeur: Jorisna Bonthuys
Gepubliseer: 18/10/2017

’n Nuwe aanlyn-platform is deur die Universiteit Stellenbosch (US) bekend gestel waar dié instelling se sosiale impak aangedui en vertoon sal word. Dit volg op die US se Strategiese Plan vir Sosiale Impak en word beskou as ’n sleutelelement om dit in werking te stel.

Joanne Williams, ’n bestuursinligtingsbeampte vir die Afdeling Sosiale Impak, het hierdie Kennisplatform vir Sosiale Impak bekend gestel op ’n onlangse jaarlikse simposium oor sosiale impak.

“Hierdie aanlyn-platform is ’n kennisbestuursoplossing wat die US in staat sal stel om sy sosiale impak te dokumenteer, te koördineer, asook om samewerking tussen verskillende dissiplines hieroor te steun om die impak daarvan te vergroot. Dit sal ook die universiteit help om te moniteer en evalueer vir terugvoering en verbetering en om terugvoer te gee oor inisiatiewe vir sosiale impak vir besluitnemingsdoeleindes,” het sy gesê.

“Dit sal opwindende inisiatiewe ten toon stel en ook nuwe geleenthede identifiseer vir diegene wat daarby betrokke wil raak. Dit ondersteun en vul dus die werk van die US-personeel betekenisvol aan. Die platform dien ook as ’n sosiale leerruimte wat mense kan inspireer en waar beste praktyke wat betref die sosiale impak van die universiteit, vertoon kan word,” het Williams gesê.

Personeellede kan ’n profiel van hul sosiale impak daarop skep en dit gebruik om ’n portefeulje saam te stel van die sosiale impak van hul werk en inisiatiewe.

Die platform vertoon soortgelyk aan die universiteit se sentrale tuisblad en gebruikers kan met behulp van skakels maklik toegang daartoe verkry. Die platform beskik oor ’n aantal soekfilters, ’n deursoekbare argief, asook ’n aantal visuele elemente wat aandui hoeveel verskillende inisiatiewe (vir sosiale impak) daar in die onderskeie fakulteite plaasvind.

“Die platform sal inisiatiewe vir sosiale impak vertoon, personneellede met mekaar verbind en hulle in staat stel om moontlik nouer saam te werk,” het Williams gesê.

Tans kan net personeellede inligting oor inisiatiewe vir sosiale impakte en geleenthede hiervoor op die platform registreer. Personeel kan aandui hoe hul werk bydra tot die universiteit se sewe ontwikkelingstemas. Laasgenoemde hou almal verband met die Verenigde Nasies se Doelwitte vir Volhoubare Ontwikkeling. Hierdie temas sluit in onderwys vir almal, werkgeleenthede en inklusiewe ekonomiese ontwikkeling, die omgewing en volhoubaarheid, kossekerheid en gesondheid, hulpbronne en infrastruktuur, veiligheid, sekerheid en goeie bestuur, asook sosiale en gender-geregtigheid.

Gedurende die volgende fases van die ontwikkeling van hierdie aanlyn-hulpmiddel sal eksterne vennote, asook studente in staat wees om die platform regstreeks te benut.

Sosiale impak by die US vergestalt in verbonde leer- en onderriggeleenthede, verbonde navorsing, betrokke burgerskap, spesiale programme en vennootskappe. “Die platform skep ’n bemagtigende omgewing om die US se mandaat vir sosiale impak te vergestalt,” het Williams gesê.

Personeel word genooi om hul inisiatiewe vir sosiale impak hier te registeer.

Besoek www.sun.ac.za/si vir meer inligting.