Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Navorsers ondersoek afname in bosvoëls
Outeur: Wiida Fourie-Basson
Gepubliseer: 01/02/2017

Sommige voëlspesies wat in Suid-Afrika se inheemse woude hou, is besig om te verdwyn. Veral die bosvoëls van die Oos-Kaapse inheemse woude word die meeste geraak. 

'n Nuwe studie wat onlangs in Bird Conservation International gepubliseer is, het getoon dat 28 van Suid-Afrika se 57 bosvoëlspesies 'n afname in die omvang van hul verspreidingsgebied ondervind, terwyl 22 spesies se verspreidingsgebied gegroei het en sewe onveranderd gebly het.

Hierdie bevinding is gegrond op 25 jaar se burgerlike wetenskaplike data wat ingesamel is deur die Suider-Afrikaanse Voëlatlasprojek. Die data kan 'n aanduiding gee van die bewaringstatus van 'n spesie, wat afhang van sy bekende verspreidingsgebied en hoe dit aan die verander is. Die eerste opname het tussen 1987 en 1992 plaasgevind en die tweede opname het in 2007 begin en is steeds aan die gang.

Navorsers van die Universiteit Stellenbosch (US) en die Departement van Omgewingsake het data van 57 bosvoëlspesies gebruik om die onderlinge verband te ondersoek tussen ontbossing, spesie-eienskappe, en die gebiedverspreidingsafname van die spesifieke spesies oor die afgelope 20 jaar.

Inheemse woude beslaan minder as een persent van die Suid-Afrikaanse landskap, maar is 'n tuiste vir sowat 14% van ons bosvoëls, waarvan baie endemies is of gebiedsgebonde. Maar hierdie wouddele kom broksgewys voor, met die meeste oorblywende woude wat kleiner is as 1 km2.

Volgens prof. Michael Cherry, 'n gedragsekoloog van die US en een van die mede-outeurs, is hulle veral bekommerd oor die verdwyning van bosvoëls uit inheemse woude in die Oos-Kaap, en veral in die voormalige tuislande Ciskei en Transkei.  Hierdie gebiede maak deel uit van die Maputaland-Pondoland-Albany Biodiversiteitsbrandpunt.

"Gegrond op die data van die Atlas, weet ons dat sommige voëlspesies verdwyn het uit hierdie woude. Maar ons weet nie of dit 'n afname in bevolkingsgrootte impliseer, en of hulle slegs elders heen getrek het nie, sê hy.

"Wanneer 'n woud vernietig word of agteruitgaan, kan die groter en sterker voëlspesies elders heen vlieg om kos en 'n ander heenkome te vind. Maar kleiner voëlspesies kan gestrand wees indien daar nie 'n ander stuk woud binne hulle bereik is nie," sê hy.

Dikwels kom plantasies van uitheemse bome, gewoonlik denne- of bloekombome, in die nabye omgewing van inheemse woude voor. Hierdie bome word aangeplant sodat hulle geoes kan word vir hout of houtpulp.  

Hy sê dat alhoewel sommige bosvoëls in staat is om voordeel te trek uit plantasies, ander soos byvoorbeeld die Rooibektiptol, die Geelkeelsanger en die Oranjelyster weg is uit gebiede waar plantasies toegeneem het.

"Plantasies is ongeskik vir hierdie spesies. Aangesien laasgenoemde voëls gewoonlik nesmaak in die onderbos van inheemse woude, word hulle selfs bedreig in die stukkies woud wat tussen die plantasies voorkom, omdat hulle gevaar loop om deur beeste vertrap te word indien dié daar sou wei. Dit is dikwels die geval aangesien woude gewoonlik nie omhein is nie, tensy hulle binne die grense van 'n nasionale park val," verduidelik hy.

Tans lei prof. Cherry 'n groot navorsingsprojek wat finansieel ondersteun word deur die Foundational Biodiversity Information Programme, en wat sal poog om eerstehands die bevindings van hierdie studie in die woude van die Oos-Kaap te bevestig. Navorsingsgenote sluit vier Suid-Afrikaanse universiteite en ses museums in, asook Harvard Universiteit in die Verenigde State van Amerika.

Gedurende 2016 en 2017 het die groep reeds drie veldwerktoere onderneem na die Amathole- en Transkei-newelstreekwoude en die Pondoland-eskarpwoud, en nog drie veldwerktoere is alreeds in die vooruitsig. Hulle navorsing is nie net gemik op voëls nie, maar ook op ander diergroepe.

"Ons voorspelling is dat, indien voëls – vermoedelik die mees mobiele diertaksa aangesien hulle oor relatief groot afstande tussen woudfragmente kan vlieg – negatief geaffekteer word deur woudagteruitgang, ander dierspesies dan waarskynlik erger geaffekteer sal word," sê hy. 

Inheemse woude word nie slegs deur ontbossing bedreig nie. Woude is ook onder druk van plaaslike landelike gemeenskappe wat woudprodukte versamel vir gebruik as vuurmaakhout, boumateriaal, kos en tradisionele medisyne. "Indien mense en voëls op dieselfde boomspesies as hulpbronne fokus, sál die kwaliteit van hierdie hulpbron vir beide partye verswak," waarsku Cherry.

"Die uitdaging is om 'n woudbestuursbeleid te ontwikkel wat woudagteruitgang sal beperk tot voordeel van beide mens en voël," sluit hy af.

  • Hierdie artikel is in Januarie 2017 in Bird Conservation International gepubliseer. Die outeurs is Tessa Cooper en Michael Cherry van die Departement Plant- en Dierkunde by die US, en Andrew Wannenburgh van die Departement van Omgewingsake.

 

Op die foto bo: Spesies wat direk geraak is deur 'n verlies aan inheemse woude sluit hierdie Witkoljanfrederik (regs) in wat deur navorsers gering is tydens hulle laaste veldwerktoer na die Transkei-newelstreekwoude. Spesies wat op dieselfde wyse geraak word, is: die Afrikaanse sperwer, di Dubbelbandslangarend, die Rooibektiptol, die Bosuil en die Natallyster (regs). Foto: Jake Mulvaney.

 

Kontakbesonderhede

Prof. Michael Cherry

E-pos: mic@sun.ac.za

Sel: 072 687 5845


Me. Tessa Cooper

E-pos: tessjunec@yahoo.com

Sel: 073 1842 402

 

Uitgereik deur Wiida Fourie-Basson, Fakulteit Natuurwetenskappe, Universiteit Stellenbosch, science@sun.ac.za   021 808 2684   071 0995721