Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Groot projek om ongerepte Oos-Kaapse woude te verken
Outeur: Wiida Fourie-Basson
Gepubliseer: 01/08/2016

Die kruipende insekte en klein diertjies wat dikwels endemies is tot die mistige woude van die Oos-Kaap, is die onderwerp van 'n driejaarprojek wat deur Suid-Afrika se Departement van Wetenskap en Tegnologie gefinansier word.

Die voorgenome studiegebied maak deel uit van die Maputaland-Pondoland-Albany Biodiversiteitsbrandpunt en sluit wetenskaplikes in van Stellenbosch Universiteit (SU) en vier ander Suid-Afrikaanse universiteite, sowel as Harvard Universiteit in die VSA en ses museums.

Prof. Michael Cherry, verbonde aan die Departement Plant- en Dierkunde aan Stellenbosch Universiteit en projekleier, sê hulle hoop dat hulle data en bevindings sal lei tot ingeligte besluitneming oor voorgestelde droë gas en titanium-ontginningsbedrywighede in bogenoemde area, sowel as die nuwe dam wat beplan word by Mzimvubu en die N2-Wildekus Hoofpad.

En indien SanParke sou voortgaan met die proklamasie van die Pondoland Nasionale Park, sal die projek behulpsaam wees met die vasstelling van die grense, voeg hy by.

Agteruitgang van woude

Slegs 0,56% van Suid-Afrika se grondgebied word in beslag geneem deur woude, waarvan ongeveer 46% in die Oos-Kaap voorkom. Hierdie woude is buitengewone ryk diversiteitsgebiede. Tot dusver is die dierediversiteit van die Oos-Kaapse woude swak gedokumenteer.

"Oor die afgelope twintig jaar het ons woude al meer onder druk gekom vir vuurmaakhout, boumateriaal, weiding, plante wat versamel is vir medisinale gebruik en plantegroei wat gebrand is om plek te maak vir landboubedrywighede."

Hy verduidelik dat die fragmentasie van woude 'n negatiewe impak het op die vermoë van klein diertjies om tussen lappe woudgrond te beweeg. Soos wat die landskap toenemend gefragmenteerd of vernietig word, is sommige diere nie meer in staat om tussen wouddele rond te beweeg nie en dit het uiteindelik 'n negatiewe invloed op hulle oorlewing.

Die studie sal onder meer die genetiese diversiteit van bevolkings van meer mobiele spesies, soos voëls en vlêrmuise, vergelyk met dié van minder beweeglike spesies soos slakke en die skeerbekmuisie.

DNS- strepieskodering van spesies

Oor die volgende drie jaar sal die span van 20 spesialiswetenskaplikes en 22 nagraadse studente gespesialiseerde tegnieke en instrumente gebruik om elke insek en klein diertjie wat in die woud wegkruip of rondbeweeg, uit te snuffel.

Hulle sal op die uitkyk wees vir bekende insekte, diertjies en voëls soos: die donkerpootbosskeerbek, boomdassies, boskwakers, reënpaddas, kloofpaddas, dwergverkleurmannetjies, Natalse swartslange, Natalse persglansslange, reuse pootlose skinke, langbeenspinnekoppe, varswaterinsekte soos eendagsvlieë, skietmotte, swartvlieg/buffelmuggie, elsvlieë en kewers, sowel as vlermuise, die witkoljanfrederik, lawaaimakerjanfrederik, en selfs die enigmatiese, fluweelwurm wat moeilik opspoorbaar is.

Die hoogtepunt sal natuurlik wees om in hierdie ongerepte woude nuwe spesies te vind wat tot dusver nog nie beskryf is nie.

Die DNS-strepieskodering van medisinale plante wat op moetiemarkte in die omgewing verkoop word, sal nog 'n eerste wees.

"Uiteindelik hoop ons om 'n gedigitaliseerde verwysingsensiklopedie op die been te bring van woudspesies wat belangrik is vir die natuurproduktebedryf in Suid-Afrika, sê prof. Cherry.

Byskrif

Die voorgenome studiegebied maak deel uit van die Maputaland-Pondoland-Albany Biodiversiteitsbrandpunt.  Dit sluit in: die Amathole Newelstreekwoud tussen Fort Fordyce en Pirie; die Transkei Newelstreekwoud tussen Nqadu en Langeni; die Oostelike Newelstreekwoud naby Gomo en Ngele; die Pondoland-eskarpwoud naby Mbotyi en Mkambati; die Transkeikus-eskarpwoud naby Manubi en Dwesa; en die Oos-Kaapse Due-woud naby Umtiza en Nxaxo/Koboqaba.

Meer oor die NNS se program t.o.v. biodiversiteitsinligting

Die primêre fokus van die program is om grondliggende biodiversiteitskennis te genereer, koördineer en beskikbaar te stel. Bogenoemde biodiversiteitskennis moet in ooreenstemming wees met die behoeftes van die samelewing, die Departement van Wetenskap en Tegnologie (DWT) se Wêreldveranderingsprogram en die bio-ekonomie. Die hoofbenadering is om groot, samewerkende of geïntegreerde spanprojekte te finansier wat strook met kennisbehoeftes, of wat deelnemers betrek oor die hele waardeketting, vanaf die ontwikkeling van kennis tot die toepassing daarvan in besluitneming. Die Oos Kaapse woude-projek is slegs die derde groot toekenning wat deur hierdie program gemaak is.

Deelnemende instellings

Die hoofondersoekers op die projek is Prof. Michael Cherry, Prof. Savel Daniels, Prof. Nox Makunga en Dr. Victor Rambau, almal verbonde aan die Departement Plant- en Dierkunde aan die Universiteit Stellenbosch. Samewerkers is afkomstig van die Walter Sisulu Universiteit, Rhodes Universiteit, die Universiteit van Pretoria, die Universiteit van Kaapstad en Harvard Universiteit in die Verenigde State van Amerika. Daar is ses museums betrokke by die projek, waaronder vier van die Oos-Kaap (Amathole, Albany, Port Elizabeth en Oos-London), asook Iziko Museums van Kaapstad en die Durban Museum vir Natuurgeskiedenis. Die res van die span word opgemaak uit medewerkers verbone aan die Suid-Afrikaanse Omgewingsobservasie-netwerk (SAEON), die Landbounavorsingsraad (LNR), BirdLife South Africa, Forestwood CC en die Departement van Omgewingsake.

MikeCherrygroup_2016 002_resized.jpg

Op die foto, van links na regs, Judith Kushata (MSc), Mizzpah Hoffman (Honours), Dr. Victor Rambau, Prof. Michael Cherry, Prof. Savel Daniels, Prof. Nox Makunga en Megan Dreyer (Honours).