Archive
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Uitnemende​ presteerders ontvang US se hoogste eerbewys
Outeur: Korporatiewe Bemarking/Corporate Marketing
Gepubliseer: 11/12/2015
Die akademikus, digter en dramaturg, prof Adam Small; die ruimtewetenskaplike, dr Japie van Zyl, wat 'n leierskaprol gespeel het in die suksesvolle Curiosity-sending na Mars in 2012; die akademikus, juris, kampvegter vir menseregte en regter van die Konstitusionele Hof, regter Edwin Cameron; en die internasionaal gerekende juris, kampvegter vir vroueregte en geslagsgelykheid en ook regter van die Konstitusionele Hof, regter Kate O'Regan, is Vrydag met eregrade tydens die laaste 2015 Desember-gradeplegtigheid van die Universiteit Stellenbosch (US) vereer.

Prof Small het die graad doktor in die Lettere (DLitt), honoris causa, ontvang vir sy verruiming van die Suid-Afrikaanse letterkunde, sy verryking van Afrikaans, en sy gevoelige dog gesaghebbende verwoording van eens verbode onderwerpe om sodoende as ’n stem vir menige stemlose te dien.

Met vernuwende digbundels soos Kitaar my kruis (1961), Sê sjibbolet (1963) en Oos wes tuis bes, Distrik Ses (1973) help vertel hy die Suid-Afrikaanse verhaal van rasseklassifikasie en -diskriminasie en gedwonge verskuiwings – ’n verlede wat hom nooit mag herhaal nie. Op dramagebied het sy Kanna hy kô hystoe van 1965 so ’n groot impak dat die Letterkundekommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns in 2012 die ongewone besluit neem om dit 50 jaar ná publikasie met die Hertzogprys vir drama te bekroon nadat dit destyds oor die hoof gesien is. Met hierdie en ander dramas het Small ’n kernfiguur in protesteater op die Kaapse Vlakte geword.
Sy aandrang op die gebruik van Kaaps as volwaardige taal om onderdruktes en minderbevoorregtes se ervarings te verwoord, maak hom boonop een van die eerste kampvegters vir die erkenning van die etlike variëteite van Afrikaans wat die taal so ryk en divers maak.

Dr Van Zyl het die graad doktor in die ingenieurswese (DIng), honoris causa, ontvang vir sy bydrae as dryfkrag agter verskeie suksesvolle ruimteprojekte, as Afrika- en Universiteit Stellenbosch-ambassadeur in straks die mees gevorderde tegnologiese omgewing wêreldwyd, en as inspirasie vir jong wetenskaplikes op sy geboortevasteland.

Na sy ingenieursopleiding sluit dié gebore Namibiër hom in 1986 by NASA se vooraanstaande Straalaandrywings laboratorium (JPL) aan, waar hy stelselmatig al hoe meer verantwoorde likheid aanvaar. As mededirekteur vir projek-formulering en -strategie by JPL het hy tans ’n ingrypende invloed op die tegniese aspekte van toekomstige ruimteprogramme in die Verenigde State. Hy het onder meer die radarstelsel help ontwerp waarmee die robot Curiosity in 2012 suksesvol op Mars kon land. Sy uitmuntende werk het hom reeds verskeie NASA-toekennings besorg, waaronder ’n leierskapsprys in 2001 vir sy waardevolle rol in die suksesvolle eerste ruimtesending van die nuwe millennium, waarvan hy aan die spits gestaan het.

As buitengewone professor in die US se Departement Elektriese en Elektroniese Ingenieurswese herbelê dr Van Zyl in die volgende geslag ingenieurs en wetenskaplikes by sy alma mater, en getuig gereeld op wêreldverhoë van die gehalte van sy opleiding by Maties.

Regter Cameron het die graad doktor in die regsgeleerdheid (LLD), honoris causa, ontvang vir sy volgehoue professionele en persoonlike voorspraak vir die erkenning van elkeen se menswaardigheid, vryheid en gelykheid, synde die fundamentele waardes wat hy in Suid-Afrika én ander lande se regsbestel help veranker het.

As juris en persoonlike kampvegter is regter Cameron 'n kernspeler in die Suid-Afrikaanse én wêreldreg, onder meer weens sy besondere rol om seksuele oriëntasie as verbode grond van diskriminasie in die Handves van Regte te laat op - neem, en sy voorspraak vir persone met MIV/vigs.

Nadat dié voormalige Rhodes-beurshouer hom in 1986 by die Universiteit van die Witwatersrand se Sentrum vir Toegepaste Regstudie aansluit, begin spits hy hom op menseregtesake, bepaald werk op MIV/vigs-terrein en as kampvegter teen diskriminasie op seksualiteitsgronde, toe. Hy stel byvoorbeeld die Handves van Regte oor MIV/vigs op en help stig die bekende Aids Law Project. Sy professorale intreerede in 1992, Sexual Orientation and the Constitution, word rigtinggewend vir die grondwetlike beskerming van gay- en lesbiër -regte wêreldwyd. Ook later as regter van die Konstitusionele Hof bewys hy hom as verstandige bewaker van die regoor seksuele oriëntasie, vryheid van uitdrukking en sosio-ekonomiese regte.

As eerste Suid-Afrikaner in ’n hoëprofiel-amp wat openlik oor sy MIV-status en ervaring van antiretrovirale middels (ARV’s) praat, is Cameron se bydrae tot beter ARV-toegang vir alle MIV-positiewe Suid-Afrikaners geloofwaardig en gedug, en was hy ’n kernkampvegter vir ’n rasionele openbare MIV/ vigs-behandelingsplan.

Regter O'Regan is met die graad doktor in die regsgeleerdheid (LLD), honoris causa, vereer vir haar skerp en progressiewe denke en haar onwrikbare toewyding aan die reg sowel binne as buite die Konstitusionele Hof, waardeur sy veral vir vroue en ander kwesbare samelewingsgroepe geregtigheid verseker het.

Vandat sy in 1994 op 37-jarige ouderdom as regter van die Konstitusionele Hof aangestel is tot haar uittrede in 2009 het regter Kate O’Regan haar met toonaangewende uitsprake onderskei. Vir die eerste 13 jaar van die hof se bestaan was sy een van slegs twee vroueregters.

Baie van haar uitsprake het onbillike diskriminasie teen vroue en ander kwesbare groepe help bestry. Sy was medeouteur van die rigtinggewende uitspraak in Prinsloo v Van der Linde, wat die verwantskap tussen die reg op gelykheid en menswaardigheid in Suid-Afrikaanse regspleging veranker het.

​Regter O’Regan geniet hoë aansien buite die Konstitusionele Hof. In 2008 stel die sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies (VN) haar as voorsitter van die Raad oor Interne Geregtigheid aan. Sy dien as ad hoc-regter van die Namibiese Hooggeregshof, voorsitter van die Internasionale Monetêre Fonds se administratiewe tribunaal, en lid van die Wêreldbanksanksieraad.

Die statistikus-generaal dr Pali Lehohla en die legendariese politieke ekonoom prof Sampie Terreblanche het Donderdagoggend (10 Desember 2015) eredoktorsgrade ontvang.
Nagenoeg 5020 Maties is dié week vir hul harde werk met grade en diplomas beloon.​