Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Aktuariële Wetenskapstudent ontvang Adrian Gore Genootskapstoe-kenning
Outeur: Daniel Bugan
Gepubliseer: 04/08/2022

Glory Ngwenya, 'n aktuariële wetenskapstudent, is die ontvanger van Discovery se Adrian Gore Genootskapstoekenning vir 2022. Dit is die heel eerste keer dat 'n Matie hierdie toekenning wen.

Ngwenya is gekies uit die top Aktuariële Wetenskap-honneursstudente van vier universiteite – die Universiteite van Stellenbosch, Kaapstad, die Witwatersrand en Pretoria – wat meegeding het. Die toekenning is vernoem na Discovery se befaamde stigter en uitvoerende hoof, mnr. Adrian Gore.

Die Adrian Gore Genootskap, wat nou tien jaar oud is, word jaarliks aan die top aktuariële wetenskapstudente wat uit die vier mededingende universiteite gekies word, toegeken. Die program is ontwerp om vinnige loopbaangroei vir die ontvanger binne die aktuariële wetenskapveld moontlik te maak.

Tydens haar deelname aan die drie jaar lange genootskapsprogram sal Ngwenya deur Gore en van die beste aktuarisse in die bedryf gementor word. Sy sal verder ondersteuning ontvang om as aktuaris te kwalifiseer, asook bykomende opleidingsgeleenthede. Die program skop in 2023 af.

Ngwenya, wat tans besig is met haar BComHons-graad in Aktuariële Wetenskap, sê dit is 'n eer om dié toekenning te ontvang.

“Dis 'n eenmalige geleentheid en een wat ek nooit gedink het moontlik was nie. Ek hoop dat ek, as die eerste Matie-wenner, toekomstige Stellenbosse studente kan inspireer om die beste van elke geleentheid te maak en alles te gee, selfs wanneer dinge onmoontlik lyk."

Die aspirant-aktuaris sê sy wanneer sy eers kwalifiseer, wil sy graag haar vaardighede as aktuaris verbeter om positief by te dra tot die lewens van diegene rondom haar.

Sy het bygevoeg: “Ek is ook uiters dankbaar vir die ondersteuning en leiding wat ek tydens my studies op Stellenbosch ontvang het. Ek het baie dinge geleer, beide binne en buite die klaskamer, wat gehelp het om die persoon te vorm wat ek vandag is."

Gore het die volgende oor die wenner gesê: “Glory beskik oor merkwaardige intelligensie gekombineer met 'n ratse verstand, wat haar die vermoë gee om reguit tot die kern van 'n saak deur te dring. Sy het 'n goeie geskiedenis van leierskapprestasie, en 'n ware ambisie om die wêreld 'n beter plek te maak. Sy het ons beïndruk met haar vermoë om die omvang van komplekse probleme te begryp, maar ook met haar analitiese en strategiese benadering om oplossings te vind. Dié oplossings het sy dan op 'n welsprekende en selfversekerde manier en terselfdertyd met nederigheid en balans vir die gehoor aangebied."

Prof Ronel du Preez-Snyman, visedekaan (leer en onderrig), het gesê: “Ons is vol vertroue dat Glory 'n trotse ontvanger van hierdie toekenning sal wees en dat Discovery en die bedryf as 'n geheel sal voortgaan om erkenning te verleen aan die uitnemendheid van ons gegradueerdes ."

Om deel te neem aan die program, moet kandidate akademies briljant wees, leierskapspotensiaal toon, glo in Discovery se missie om mense gesonder te maak, en bewys lewer dat hulle Discovery se waardes uitleef. Kandidate moet ook 'n stel uitdagende kognitiewe toetse voltooi en aanbiedings oor moeilike onderwerpe aan senior bestuur maak met baie min tyd vir voorbereiding.

  • Foto (verskaf):  Glory Ngwenya

​​