Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Die US se Eenheid vir Gelykwaardigheid verskuif na die Verantwoordelikheidsentrum: Leer en Onderrig
Outeur: Equality Unit
Gepubliseer: 15/06/2021

​Die Eenheid vir Gelykwaardigheid sal voortaan direk aan die Viserektor​: Leer en Onderrig, prof Deresh Ramjugernath, verslag doen.

Die skuif word gemaak ná deeglike besinning oor die posisionering van die eenheid in die Universiteit, sodat diens en steun ten beste aan personeel en studente gelewer kan word. 

“Ek is baie tevrede met die herposisionering van die Eenheid vir Gelykwaardigheid as ʼn funksionaris wat direk aan die Viserektor: Leer en Onderrig verslag doen. Hierdie institusionele strategie sal die pogings om geslagsgebaseerde geweld (GGG), seksuele teistering en onbillike diskriminasie uit te skakel, en al die ander inisiatiewe wat deur die eenheid bestuur word, versterk, en sal die doeltreffende implementering, monitering en evaluering daarvan in ʼn geïntegreerde plan van aksie aan die Universiteit Stellenbosch (US) moontlik maak,” sê prof Ramjugernath.

Die Eenheid vir Gelykwaardigheid speel ʼn belangrike institusionele rol in die uitlig van en stryd teen onbillike diskriminasie, teistering en GGG, en bied opleiding, ontwikkeling en steundienste vir MIV, seksueel-oordraagbare infeksies (SOI’s), geweldlose genderinteraksie en seksualiteit aan personeel en studente. 

“Die verskuiwing na die Verantwoordelikheidsentrum: Leer en Onderrig sal ons institusionele doeltreffendheid direk beïnvloed en bykomende interaksie en steun aan die personeel, die studenteliggaam, leierskap en verskillende strukture van die US bied. Deur hierdie herbelyning bevestig ons ons toewyding aan die uitwis van ongelykwaardigheid en die behoud van vertroue en geloofwaardigheid aan die personeel en studente van die US,” sê Jaco Greeff Brink, Hoof van die Eenheid vir Gelykwaardigheid. 

Brink voeg by: “Ons werk is gegrond op die Suid-Afrikaanse Grondwet, die Handves van Menseregte en US se beleide oor onbillike diskriminasie en teistering, en MIV/Vigs, sodat ons ʼn besliste bydrae kan lewer, nie slegs aan die US-gemeenskap nie, maar ook deur doelbewus ons breër samelewing te beïnvloed, en deur in ʼn veranderlike, onsekere, komplekse en dubbelsinnige wêreld ʼn bydrae te lewer deur empatie, leierskap, kritiese betrokkenheid, hersiening en nederige selfgelding.”

Die doel met hierdie skuif is om ʼn groter deel van die US-gemeenskap te betrek deur inisiatiewe wat tans ontwikkel word om die funksionering van die eenheid en die dienste wat daardeur gelewer word, te versterk. Die eenheid werk tans aan die uitlig van kuberafknouery deur middel van die veldtog teen kuberafknouery wat op 26 Julie 2021 bekendgestel sal word. Die eenheid doen inligtingstoere na fakulteite en departemente om personeel aan die steundienste tot hulle beskikking bekend te stel.

Die beleid op diskriminasie en teistering, en die beleid op MIV/Vigs word ook tans hersien. Byvoegings hiertoe sal die riglyne vir die werk van die Eenheid vir Gelykwaardigheid, veral ten opsigte van GGG, versterk. Die inwerkingstelling van ʼn aanlyn werktuig vir aanmelding, monitering en evaluering is ʼn prioriteit en sal ʼn deurslaggewende rol speel om te bepaal of die werk wat gedoen word doeltreffend en oor alle US-belanghebbendes geïntegreer is. 

“Gelykwaardigheid is ʼn beslissende grondwetlike beginsel, en die Eenheid vir Gelykwaardigheid aan die Universiteit Stellenbosch speel ʼn institusionele rol. Die ASS het dus besef hoe belangrik dit is om die proses aan te dryf, om aan die eenheid die statuur en belangrikheid wat dit verdien, te verleen,” sê dr Choice Makhetha, Senior Direkteur: Studentesake. 

“Dit is nodig dat die Eenheid vir Gelykwaardigheid direk aan die rektorsvlak verslag doen, sodat besluitneming vinniger kan plaasvind en ook om die instelling vir kritieke gelykwaardigheidskwessies aanspreeklik te kan hou.

“Ons kollegas by die Eenheid vir Gelykwaardigheid lê steeds na aan ons harte op hierdie nuwe reis wat hulle onderneem, en sal steeds ons vennote bly in die pogings om gelykwaardigheidskwessies op te los. Ons wens hulle alle voorspoed toe en ek weet dat hulle die US steeds uitsonderlik goed sal dien,” voeg sy by.

Daar word gehoop dat hierdie skuif die eenheid in staat sal stel om die personeel en studente van die US beter te ondersteun, en om gelykwaardigheid en ʼn transformerende ondervinding vir almal aan die US te bewerkstellig. 

Die Eenheid vir Gelykwaardigheid wil ons spesiale dank uitspreek teenoor dr Makhetha, dr Munita Dunn-Coetzee, ʼn direkteur van die SSVO, en kollegas in die SSVO en die ASS vir hulle uiters waardevolle steun deur die jare. 

Die volgende steundienste is tot die beskikking van personeel en studente

Die Eenheid vir Gelykwaardigheid bied steundienste aan personeel en studente. Dit sluit in toetsing, voorligting en opleiding oor MIV en SOI’s; opleiding en ontwikkeling, voorligting en steun aan LGBTQIA+ individue; steun en opleiding in geweldlose genderinteraksie; en bemiddelingsdienste vir konflikhantering. Personeel en studente kan voorvalle van onbillike diskriminasie en teistering, geslagsgebaseerde geweld en seksuele teistering by unfair@sun.ac.za aanmeld. ʼn Gevallebeampte sal aangewys word om die klagte te hanteer. Vir MIV-verwante dienste, kontak hiv@sun.ac.za. Vir personeel is daar ʼn vertroulike etiek- en aanmeldnoodlyn, wat onafhanklik deur KPMG geadministreer word. Personeel kan 0800 20 45 49 skakel of ʼn e-pos stuur aan fraud@kpmg.co.za.