Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
​Opleiding oor beroerte-ondersteuning dringend nodig in landelike gebiede
Outeur: Dr Alec Basson
Gepubliseer: 28/10/2020

Wanneer ons Wêreldberoerteweek (28 Oktober–3 November) en Wêreldberoertedag (29 Oktober) vier, moet ons ook dink aan beroertepasiënte, hul versorgers en gemeenskapsgesondheidswerkers (GGW's) in Suid-Afrika se landelike gebiede wat dikwels 'n gebrek aan die nodige ondersteuning om gestremdheid te hanteer.

“Beroertepasiënte, hul gesinsversorgers en GGW's in gebiede met min hulpbronne beskik nie oor die kennis en opleiding oor beroerte, die risikofaktore, oorsake, simptome, komplikasies, herstel en behandeling nie. Hulle het ook nie toegang tot behoorlike rehabilitasiedienste nie, sê Elsje Scheffler, 'n PhD-student in die afdeling Huisartskunde en Primêre Sorg by die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch.

Onder leiding van prof Bob Mash van dieselfde afdeling, het Scheffler 'n studie gedoen om die ondervinding en waarneembare behoeftes van beroertepasiënte, hul versorgers en GGW's in die Breedevallei-subdistrik in die Wes-Kaap te beskryf. Daar is geen beroerte-eenhede nie en toegang tot en ondersteuning deur formele rehabilitasiedienste is beperk. Die navorsing was deel van 'n groter studie om 'n tuisgebaseerde beroerterehabilitasieprogram in die Kaapse Wynland-distrik te ontwikkel. Die bevindinge van die studie het onlangs in die African Journal of Primary Health Care & Family Medicine verskyn.

“Dit is 'n baie ernstige kwessie, gegewe dat die Wes-Kaap die hoogste voorkoms van beroertes in die land het en beroertepasiënte word ontslaan en huis toe gestuur na onopgeleide gesinsversorgers," sê Scheffler.

“Die beroertepasiënte, gesinsversorgers en GGW's met wie ons gepraat het, het gesê hulle moet dikwels maar op hul eie stoom leer om die situasie te hanteer. Hulle het ook 'n oorweldigende behoefte aan emosionele ondersteuning, kennis en vaardigheidsopleiding uitgespreek."

Scheffler sê beroertepasiënte smag na volle herstel en het nie voorsien om met 'n gebrek te moet saamleef nie. “Dit dui op ontkenning en 'n gebrek aan kennis oor die gevolge van beroerte en die moontlikheid van herstel."

Scheffler wys daarop dat die organisering van gesondheids- en rehabilitasiedienste nie aan die behoeftes van beroertepasiënte, versorgers en GGW's voldoen nie.

“Hierdie mense moet beperkte diensverskaffing en lang wagtydperke vir afsprake hanteer. Dit word verder vererger deur ontoeganklike, duur en onbeskikbare vervoer.

“Hulle wil almal toegang tot terapeutiese dienste en rehabilitasie-oefeninge hê, want hulle beskou dit as die sleutel tot herstel."

Volgens Scheffler bestaan daar 'n werklike behoefte aan kennis oor die bestuur van inkontinensie, gegewe beroertepasiënte se fisieke toestand, hul angs, verleentheid en besorgdheid, asook toiletgeriewe wat dikwels onvoldoende is.

“Omvattende inkontinensiebestuur, insluitende veral die assessering en hantering van blaas- en opelyffunksies, medikasie, opelyf- en blaasopleidingsprogramme, voorskrifte vir inkontinensiedrag en -produkte, asook toiletprodukte, kan help om versorgers se spanning en druk te verlig wanneer hulle na beroertepasiënte moet omsien."

Scheffler wys daarop dat die gebrek aan hulpmiddels nie net 'n uitwerking op inkontinensiebestuur het nie, maar alle versorgingstake en verlengde afhanklikheid, insluitende beweeglikheid, kommunikasie, eet, drink en selfsorg bemoeilik.

Sy voeg by dat versorgers baie min of geen opleiding gehad het nie en GGW's nie oor die nodige kennis en vaardighede beskik nie.

“Versorgers van beroertepasiënte voel hulle is nie voldoende toegerus om komplikasies soos pyn, styfheid, bloedsuikervlakke en aanvalle te bestuur nie. Die GGW's se siening was dat versorgers en beroertepasiënte dikwels onseker was oor hoe om hul medisyne te gebruik."

Scheffler meen die las om na beroertepasiënte om te sien, het stres, vrees, angs en frustrasie by versorgers veroorsaak en hulle kon nie alleen genoegsame oorsig verskaf nie.

“Die GGW's het 'n gefragmenteerde gesondheidsorgstelsel ondervind wat nie beroertepasiënte, versorgers en GGW's ondersteun nie. Ons het ook gevind die GGW's se rehabilitasie-omvang van uitvoering en hul rol is nie goed gedefinieer nie, wat teenstrydige verwagtinge van beide versorgers en GGW's tot gevolg het."

Scheffler voeg by dat die GGW's ook aangedui het dat hul rol nie deur gesondheidsorgpraktisyns erken word nie en dat hulle nie as deel van die span beskou word nie, en dus nie oor behandelingsbeplanning gekonsulteer of ingelig word nie.

Sy sê hul studie het die behoefte aan 'n toepaslike opleidingsprogram beklemtoon wat GGW's sal toerus om versorgers op te lei en te ondersteun.

“Hierdie tipe program moet op praktiese versorgingstake, inkontinensiebestuur, die verskaffing van psigososiale ondersteuning en hulpprodukte, asook die identifisering van risikogesinne fokus."

Met behoorlike opleiding kan die GGW's lewensnoodsaaklike ondersteuning aan beroertepasiënte en hul gesinsversorgers verskaf, voeg Scheffler by.

  • Bron: Scheffler, E, & Mash, R, 2020. Figuring it out by yourself: Perceptions of home-based care of stroke survivors, family caregivers and community health workers in a low-resourced setting, South Africa. African Journal of Primary Health Care & Family Medicine 2020;12(1). 12(1): doi.org/ 10.4102/phcfm.v12i1.2629  

SLEGS VIR MEDIANAVRAE

Elsje Scheffler
Afdeling vir Huisartskunde en Primêre Sorg
Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe
Universiteit Stellenbosch
Sel: 082 401 5013
E-pos: escheffler@sun.ac.za

UITGEREIK DEUR
Martin Viljoen
Bestuurder: Media
Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking
Universiteit Stellenbosch

E-pos: viljoenm@sun.ac.za