Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
TB navorser ontvang UNESCO-MARS toekenning vir ontluikende talent
Outeur: Thato Motlhokodi
Gepubliseer: 18/02/2016

Sy innoverende werk in TB-diagnose het dr Novel Chegou 'n Ontluikende Navorsingstalent-toekenning besorg by die Verenigde Nasies Opvoedkunde-, Wetenskap- en Kultuur-Organisasie en Merck Afrika-navorsingsberaad (UNESCO-MARS) wat in Genève, Switserland gehou is.

Pryse is toegeken aan die top-abstrakte van die 100 deelnemers aan die beraad. Dr Chegou is 'n senior navorser by die DST-NRF Sentrum vir Uitnemendheid in Biomediese TB-navorsing in die Afdeling Molekulêre Biologie en Mensgenetika by die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, en sy navorsing fokus op die gasheerserumproteïne-bioteken vir die diagnose van TB.

"Ons probeer om 'n nuwe diagnostiese instrument vir TB te ontwikkel wat op sorgvlak gebruik kan word, selfs in die verste hoeke van Afrika," sê dr Chegou.

"Dit is verootmoedigend om erkenning te ontvang vir die werk wat jy doen. Maar dit gaan nie net oor my nie, dit was spanwerk en ek is baie dankbaar vir my kollegas. Dit is slegs moontlik omdat ek in hierdie omgewing werk: van die uitstekende kollegas wat monsters versamel in die gemeenskappe, tot by die navorsingsassistente wat in die laboratorium werk, en prof Gerhard Walzl se uitstekende leiding van die navorsingsgroep," sê dr Chegou.

Hy het sy opleiding as 'n mediese laboratorium-wetenskaplike aan die Universiteit van Buea in Kameroen voltooi en in 2005 by die Universiteit Stellenbosch se Immunologie Navorsingsgroep aangesluit waar hy sy BSc Honneurs-graad voltooi het. Terwyl hy aan sy MSc, wat later opgegradeer is na 'n PhD, gewerk het, het hy die bioteken van 'n Quantiferon supernatants geïdentifiseer en gepatenteer wat mikrobakterieë-tuberkulose (MTB) siekte van latente MTB-infeksie kan onderskei.

"Dit was die eerste patent wat ons [proff Walzl en Paul van Helden, drs Gill Black en Chegou] gekry het en ek het sedertdien bygedra tot vier ander patente op diagnostiese biotekens vir TB-siekte," sê dr Chegou.

Foto onderskrif: Dr Novel Chegou het 'n Ontluikende Navorsingstalent-toekenning ontvang by die Verenigde Nasies Opvoedkunde-, Wetenskap- en Kultuur-Organisasie en Merck Afrika-navorsingsberaad (UNESCO-MARS) wat in Genève, Switserland gehou is.

Hierdie artikel het in die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe se digitale publikasie, VIVUS, verskyn. Besoek www.sun.ac.za/FGGWpublikasies om in te teken.