Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
​​​​​​​​​​​​​​​​

Universiteit Stellenbosch-inentingsverklaring

Saam vorentoe: Kies inenting
Sonke siya phambili: Khetha ugonyo
Forward together: Choose vaccination

Ons doen ’n beroep op die mense van die Universiteit Stellenbosch (US) om inenting te kies as ons beste verweer teen COVID-19, ’n ernstige, lewensgevaarlike siekte. Die entstof is die doeltreffendste manier om nie net jouself nie, maar ook jou gesin, vriende, kollegas, medestudente en lede van ons gemeenskap te beskerm.

Die koronaviruspandemie het ons lewens ingrypend verander. Sommige van ons het geliefdes verloor, terwyl ander COVID-19 oorleef het, maar nou die langdurige nagevolge daarvan moet hanteer. Die inperkingsregulasies het ons land ’n finansiële knou toegedien en mense se bestaan in gevaar gestel. Die pandemie het ons ook gedwing om aan te pas by die “nuwe normaal” van die lewe met COVID-19, ’n wrede werklikheid met ’n verreikende invloed op ons daaglikse lewens

Beweeg saam vorentoe

Om alle tersaaklike gesondheid- en veiligheidsmaatreëls getrou na te kom én te kies om die entstof te ontvang is die beste manier om hierdie pandemie én die gevaar wat dit vir ons lewens en bestaan inhou, te bowe te kom.

Ons besef sommige is huiwerig om ingeënt te word. Ons verseker jou egter dat die COVID-19-entstof veilig is, of jy nou Pfizer s’n (dubbeldosis), Johnson & Johnson s’n (enkeldosis) of enige ander goedgekeurde entstof ontvang. Dit is wetenskaplik getoets en deur mediese owerhede goedgekeur, en – nóg belangriker – dit verlaag ongetwyfeld risiko en red lewens.

Entstowwe word ontwikkel om lewensverlies te voorkom, en word reeds dekades lank wêreldwyd met groot sukses vir dié doel gebruik. Inentings verminder nie net die gevolge van infeksie vir diegene wat wél ’n infeksiesiekte opdoen nie, maar verhoed ook in die meeste gevalle dat mense hoegenaamd die infeksie kry. Entstowwe het destyds pokke help uitwis, en keer steeds dat verwoestende virusse soos polio ernstige siekte en sterfte veroorsaak. Die COVID-19-entstof doen dieselfde met die koronavirus.

Kies inenting

As deel van ons verbintenis om hierdie pandemie te beëindig, het die Universiteit ’n inentingsterrein by die Lentelus-klubhuis by die US-sokkerkompleks in Hammanshandweg, Stellenbosch, geopen. Die terrein bedien personeellede, studente en lede van die publiek. Klik hier vir verdere inligting.

Maak gerus gebruik van die inentingsdienste by hierdie sentrum of ’n inentingsterrein nader aan jou, en moedig ander aan om óók die inenting te kry.

Deur inenting te kies, doen jy die verantwoordelike ding en toon jy jou toewyding daaraan om vorentoe te beweeg – vir jouself, jou gesin, jou gemeenskap en ons nasie.

Choose vaccination | Kies inenting | Khetha ugonyo

Hierdie verklaring is op 15 September 2021 deur die Rektoraat van die Universiteit Stellenbosch aanvaar:

  • Prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier
  • Prof Stan du Plessis, Bedryfshoof
  • Prof Nico Koopman, Viserektor: Sosiale Impak, Transformasie en Personeel
  • Prof Deresh Ramjugernath, Viserektor: Leer en Onderrig
  • Dr Ronel Retief, Registrateur
  • Prof Eugene Cloete, Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studie
  • Prof Hester Klopper, Viserektor: Strategie en Internasionalisering
​​​​​
​​​​​​​