Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​Stellenbosch University Institutional Audit: 2021-2022

Die Raad op Hoër Onderwys (RHO) is ’n onafhanklike statutêre liggaam wat ingevolge die Wet op Hoër Onderwys van 1997 tot stand gebring is met die taak om die Minister van Hoër Onderwys en Opleiding te adviseer, asook om ’n eksterne gehalteversekeringstelsel vir hoër onderwys met behulp van die staande Hoëronderwysgehaltekomitee (HOGK), te vestig en te bestuur.

In 2021 het die RHO ’n nuwe gehalteversekeringsiklus begin wat voorskryf dat alle openbare universiteite en private hoëronderwysinstellings ’n institusionele oudit moet ondergaan.

Die kampusbesoek vir die Universiteit Stellenbosch (US) se institusionele oudit eweknie-evaluering is vir 31 Oktober tot 4 November 2022 geskeduleer.

SelfevalueringsverslagBestuursopsomming van die Institutionele Ouditverslag​​

Waarom 'n institutionele oudit?

Die institusionele oudit is 'n eksterne gehalteversekeringstelsel wat deur die Raad op Hoër Onderwys gebruik word om te t​oets of 'n universiteit se interne gehaltebestuurstelsel effektief is om studentesukses moontlik te maak.

Soortgelyk aan die Universiteit se interne gehalteversekeringsiklus vir departemente en ondersteuningsdienste, maak die institusionele oudit ook voorsiening vir ’n selfevaluering, gevolg deur ’n eweknie-evalueringsbesoek waar goeie praktyke en verbeteringsareas uitgeken word. Met ’n institusionele oudit word die universiteit in geheel beoordeel.

’n Institusionele oudit word geskoei op die instelling se selfevalueringsverslag, gevolg deur ’n kampusbesoek wat deur ’n eweknie-evalueringspaneel afgelê word.

Hierdie institusionele oudit bied die universiteitsgemeenskap die geleentheid om, soos nodig, die gehalte van studente se belewenis op kampus te oorweeg, veral in die lig van nasionale prioriteite en die bevordering van studentesukses. Daarom word die Universiteit se identiteit, vordering met diversiteit en hoëvlakstrategieë onder die loep geneem.

​Die selfevalueringsproses​

Die proses vir ’n institusionele oudit sluit die volgende in:

  1. ’n Selfevaluering, waar besin word oor vier fokusareas en 16 standaarde;
  2. Tussentydse verbeteringsaksies, geskoei op ons selfevalueringsverslag se bevindinge;
  3. ’n Kampusbesoek, wat in ons geval van 31 Oktober tot 4 November 2022 plaasvind; en
  4. ’n Verbeteringsplan wat die eweknie-evalueringspaneel se bevindinge aanspreek, moontlik opgevolg met ’n vorderingsverslag aan die Raad op Hoër Onderwys.

Elk van die bogenoemde word hieronder in meer besonderhede beskryf:​

Focus area 1 Focus area 2 Focus area 3 Focus area 4

Selfevaluering

Fase 1: 20 Julie 2021 tot​ 30 Junie 2022

1.1 Selfevalueringskomitee

Kort nadat die Raad op Hoër Onderwys die Universiteit se institusionele oudit in die lewe geroep het, is ’n selfevalueringskomitee gestig, met verteenwoordigers van elke fakulteit en verantwoordelikheidsentrum, én twee studente van die Studenteraad.

1.2 Selfevalueringsverslag

Die selfevalueringskomitee het ’n selfevalueringsverslag opgestel wat hier beskikbaar is. Dit het vir twee rondtes van oorlegpleging na fakulteite, studente en die Senaat gegaan voordat dit in Junie 2022 deur die Raad goedgekeur is.

1.3 Bewysportefeulje

Om al die gehalteoordele wat in die selfevalueringsverslag gemaak word, te ondersteun, is ’n bewysportefeulje geskep. Dokumente waarna die selfevalueringsverslag verwys, is in ’n SharePoint-deelspasie opgelaai met hiperskakels.

Tussentydse verbeteringsaksies

Fase 2: 30 Junie tot 30 Oktober 2022

2.1 Kernbevindinge

Klik op elke blok hieronder om die opsomming van die kernbevindinge van die selfevaluering te sien, soos gegroepeer volgens die vier fokusareas:

2.2 Bewusmaking

Hierdie webwerf stel die selfevalueringsverslag vry aan alle interne rolspelers van die Universiteit, en lig die kernbevindinge en tussentydse verbeteringsaksies uit.

2.3 Tussentydse vorderingsverslag

Sedert die indiening van die Universiteit se selfevalueringsverslag aan die Raad op Hoër Onderwys, het ons alreeds vordering gemaak met sommige van die verbeteringsaksies wat ons vir onsself uitgeken het. Dié aksies sal in ’n tussentydse vorderingsverslag aan die eweknie-evalueringspaneel voorgelê word.

Eweknie-kampusbesoek

Fase 3: Konseptskedule beskikbaar in September met besoek 31 Oktober tot 4 November 2022

3.1 Kampusbesoek

Die kampusbesoek sal mees waarskynlik in hibridiese formaat plaasvind, van 31 Oktober tot 4 November 2022.

Die eweknie-evaleringspaneel sal die US ongeveer ’n maand vooraf van ’n konsepskedule vir onderhoude voorsien en aandui met wie hulle graag op watter tydgleuwe tydens hulle besoek wil onderhoude voer. Die Universiteit sal met die betrokke persone in verbinding tree, hulle oor die proses inlig en versoek dat hulle sorg dat hulle met die selfvalueringsverslag met die oog op ’n institusionele oudit vertroud is. Hier is die konsepskedule (slegs in Engels beskikbaar): Final Site Visit Schedule_SU Audit_19 Oct 2022

Gedurende die kampus besoek staan dit personeel en studente vry om openlik en eerlik op die eweknie-evalueringspaneel se vrae te reageer. Ná ​ afloop van die kampusbesoek sal die paneel mondelinge terugvoer gee voordat hulle ’n skriftelike verslag saamstel waarin hulle aanprysings en aanbevelings sal uitstip waarvolgens die Universiteit kan voortbeweeg.

3.2 Die eweknie-evalueringspaneel

Die Raad op Hoër Onderwys wys die eweknie-evalueringspaneel aan. Klik hier​ om hulle verkorte CVs te sien.

Prof Richard Bernard (voorsitter)

Konsultant hoëronderwysaanstellings in Suid-Afrika

Dr Bulelwa Nguza-Mduba

Waarnemende Rektor: Butterworth-kampus aan die WSU

Prof Somaiya Naidu

Voormalige Viserektor: Buigsame Leer aan die Universiteit van die Suidelike Stille Oseaan

Prof Irene Govender

Professor in inligtingstelsels en tegnologie aan die UKZN

Prof Maropeng M. Modiba

Emeritusprofessor aan die UJ

3.3 Die onderhoudproses

Personeel en studente wat deel is van onderhoudproses moet hulself vergewis van die inhoud en gevolgtrekkings van die selfevalueringsverslag en bewus wees van die bewysportefeulje wat meer besonderhede en bewyse verskaf om die institutionele eise te ondersteun.

Hulle word ook aangeraai om hulle te vergewis van die institusionele inligting wat in die afdeling oor die institusionele profiel in die selfevalueringsverslag​ vervat is.

Verbeteringsplan en Vorderingsverslag​​

Fase 4: ​Die Universiteit Stellenbosch Institutionele Ouditverslag

​Die Universiteit Stellenbosch het die Institusionele Ouditverslag op 28 November 2023 van die Raad op Hoër Onderwys ontvang. Alle belanghebbendes word genooi om die Bestuursopsomming te lees. Dit lig die aanprysings en aanbevelings uit. Die Universiteit sal voorts op die aanbevelings reageer deur ’n verbeteringsplan te ontwikkel en dit teen 30 April 2024 in te dien.​

Klik hier om terugvoer te gee of om navraag te doen oor die US Institusionele Oudit.