Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Veranderinge by Biblioteek na herroeping van Covid-19-regulasies

Ná die herroeping van die oorblywende nasionale Covid-19-regulasies op 22 Junie 2022 en 'n verklaring deur die Viserektor: Sosiale Impak, Transformasie en Personeel op 24 Junie, het die Biblioteek (US Biblioteek sowel as takbiblioteke) besluit om die volgende veranderinge te implementeer:

Aantal kliënte en besprekingstelsel

Vanaf 27 Junie 2022 is daar nie meer 'n beperking op die aantal kliënte nie en die biblioteekgeboue kan tot hul volle kapasiteit gevul word. Die besprekingstelsel is nie meer van toepassing nie, behalwe in die geval van die Innovasieruimte, die Ouditorium en sommige seminaarkamers in die US Biblioteek.

Ontsmetmiddels en sosiale distansiëring

Die Biblioteek sal voortgaan om ontsmetmiddels in biblioteekgeboue te voorsien en kliënte word aangemoedig om steeds, waar moontlik, sosiale distansiëring toe te pas.

US-toegangskaarte

Personeel en studente word daaraan herinner dat hulle nie sonder hulle personeel- of studentekaarte toegang tot die biblioteekgeboue sal kry nie.

Besoekers

Die Biblioteek is besig om 'n nuwe toegangsstelsel vir besoekers (soos alumni, voornemende nagraadse student en skoolleerders) te implementeer. Totdat die nuwe stelsel in plek is het besoekers nie instaptoegang tot die biblioteke nie.

Besoekers mag wel per afspaak die biblioteke persoonlik besoek. Kontak US Biblioteek Spesiale Versamelings, US Biblioteek Kliëntediens, Musiekbiblioteek, Teologiebiblioteek, Ingenieurs- & Bosboubiblioteek, Geneeskunde & Gesondheidswetenskappe Biblioteek of Bellvilleparkkampusbiblioteek om 'n afspraak te maak.

Besoekers wat kwalifiseer vir uitleenvoorregte mag versoek om 'n boek af te haal.

Alle besoekende navorsers en akademici moet vooraf met die fakulteite en departemente wat hulle kom besoek reëlings vir toegang tot die biblioteke tref.

​Klagtes oor geraasvlakke

Ná klagtes oor die hoë vlakke van geraas in die Biblioteek, word personeel en studente herinner om by die Biblioteekreëls te hou. Die Biblioteek het toegewyde stil areas waar gesels nie toegelaat word nie. Hierdie reël sal in die tweede semester streng toegepas word.

Kontak me Delene Pretorius vir meer inligting.