Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Lewer kommentaar op die institusionele oudit self-evalueringsverslag 2018 – 2021

​Die Raad op Hoër Onderwys (RHO) het ’n nuwe gehalteversekering- (GV-) siklus aangekondig wat vereis dat alle openbare universiteite en privaat-hoër onderwysinstellings in 2022 deur ’n institusionele oudit moet gaan.

Die oorhoofse doel van ’n institusionele oudit, as ’n eksterne GV-meganisme, is om te evalueer en te bevestig of ’n instelling se interne gehalteversekeringstelsel daarin slaag om studentesukses te bevorder, en die effektiwiteit van die akademiese sleutelfunksies, naamlik: leer en onderrig, navorsing, en gemeenskapsinteraksie (sosiale impak), ondersteun.

In ’n ooreenkoms met die RHO, het die Universiteit Stellenbosch (US) ingestem om ’n self-evalueringsverslag (SEV) en ’n bewysportefeulje teen 30 Junie 2022 by die RHO in te dien. Dit sal opgevolg word met ’n eweknie-evalueringsbesoek vanaf 31 Oktober tot 4 November vanjaar.

Ons het ’n belangrike mylpaal in die voltooiing van die eerste konsepweergawe van die Universiteit Stellenbosch se institusionele oudit self-evalueringsverslag (SEV) vir die tydperk van 2018 tot 2021 bereik. Die eerste konsepweergawe van die SEV word nou, vanaf 9 Maart 2022 vir interne oorlegpleging hier vrygestel. Personeel en studente het tot en met 23 Maart 2022 tyd om aan die eerste interne oorlegpleging deel te neem.

Hiermee word almal uitgenooi om kommentaar op die eerste konsepweergawe van die SEV te lewer. Insette kan op die aanlyn-platform wat hier beskikbaar is, ingedien word.

Dankie vir jou insae en deelname!​