Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Pasop vir bedrieglike finansiële skemas

​Beste studente

In hierdie onseker tyd loop ons 'n groter gevaar om die teiken van onbevestigde inligting, fopnuus, uitvissingspogings en bedrieglike finansiële skemas te wees. Sosialemedia-kanale is op 'n ongeëwenaarde vlak deurtrek van hierdie soort bedrywighede.

Om een voorbeeld te noem: 'n WhatsApp-boodskap wat teen die einde van verlede jaar die rondte gedoen het, het nou weer opgeduik. Dit moedig mense aan om hulle geld in 'n “WhatsApp-stokvel" te belê. Die Nasionale Stokvelvereniging van Suid-Afrika (NASASA) het mense daarteen gewaarsku en dit met 'n piramiedskema vergelyk. Tradisionele stokvelle wat met eerlike bedoelings bedryf word, is aanvaarbaar in Suid-Afrika. Piramiedskemas, daarenteen, is nié.

'n Piramiedskema is 'n sekere soort bedrogspul. Dit is op deelnemerwerwing gegrond, en beloof groot winste as meer mense gewerf word om daaraan deel te neem. 'n Piramiedskema is nie op 'n vaste grondslag gebou van beleggings wat inkomste vir beleggers kan oplewer nie. Daarom stort dit in duie wanneer daar nie meer nuwe lede gewerf word nie. Die oorspronklike “beleggers" kan aansienlike finansiële voordeel trek deur munt te slaan uit deelnemers wat laer op die piramiede lê. Hierdie soort skemas is onwettig in Suid-Afrika; bly weg daarvandaan.

In die jongste boodskap waarmee studente geteiken is, is aansluitingsgeld van R200 gevra, met 'n beloofde R1 200-kontantuitbetaling sodra die groep 11 lede sterk is. Dit is maklik vir ons om agterna te sê slagoffers moes verstandiger gewees het, maar ons is nie daarop uit om slagoffers te blameer nie. Daarom waarsku ek julle vooruit, vir wanneer julle gekonfronteer word met so 'n geleentheid om geld te maak: Piramiedskemas is onvolhoubaar.

Beskerm jouself 

Bedrieglike skemas kan allerhande vorme aanneem, maar daar is sekere waarskuwingstekens waarvoor 'n mens kan uitkyk:

  • Beloftes van 'n onredelik hoë wins op jou belegging.
  • Beloftes om oornag wins of inkomste te verdien volgens jou vermoë om deelnemers te werf.
  • Uitbetalings kom uit die beleggings wat nuwe deelnemers maak, nie uit egte wins nie.
  • Die skema is gebou op werwing sonder dat werklike lede ooit bymekaarkom.
  • Daar is geen fisieke adres of landlyn nie. Die afgelope tyd word slegs WhatsApp gebruik.
  • Jou kan nie vra dat jou belegging terugbetaal word nie.

Buiten piramiedskemas is daar 'n hele aantal ander, soortgelyke skemas wat effens anders werk:

  • Daar is byvoorbeeld Ponzi-skemas, 'n beleggingskema wat groot opbrengs op beleggingsbedrae beloof en lyk asof dit 'n doodgewone beleggingsdiens is. Maar geen beleggings word gemaak nie.
  • 'n Veelvlakkige bemarkingskema (VBM) is soortgelyk aan 'n piramiedskema, maar behels die verkoop van die een of ander produk. VBM's is kontroversieel, en sommige daarvan kan as piramiedskemas beskou word. Deesdae maak sulke skemas beloftes wat kriptogeld en handel in buitelandse valuta behels.

Voordat jy 'n belegging van enige aard maak, doen moeite om soveel inligting moontlik oor die skema te bekom, byvoorbeeld deur die persoon te leer ken wat jou die beleggingsgeleentheid bied, seker te maak dat 'n betroubare beleggings- of finansiële firma betrokke is, en die advies van 'n geregistreerde beleggings- of finansiële konsultant te bekom.

Beskerm asseblief jouself en jou finansies.

Vriendelike groete
Dr Choice Makhetha
Senior Direkteur: Afdeling Studentesake

(Vrywaring: Die Universiteit Stellenbosch (US) is nie 'n geregistreerde finansiëlediensverskaffer nie, en die inhoud van hierdie boodskap moenie as finansiële advies aan studente of enige ander lede van die US-gemeenskap beskou word nie.)

Bronne: