Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Afdeling Sosiale Impak op soek na personeelvrywilligers om matriekvakke vir volwasse leerders aan te bied
Die Afdeling Sosiale Impak bestuur ’n matriekprogram vir volwassenes wat nie matriek op skool geslaag het nie en ouer is as 21. Dit is bekend as die Senior Sertifikaat en is soortgelyk aan die Nasionale Senior Sertifikaat. Honderde mense in die gemeenskappe in en om Stellenbosch besit nie ’n matrieksertifikaat nie, wat verhoed dat hulle werk kry, verder studeer of in hulle huidige werk vorder.
 

Altesaam 89 leerders het die eksamen in 2017 afgelê, en dubbel soveel inskrywings (170) is vir die siklus 2017/18 ontvang. Ingevolge ’n samewerkingsooreenkoms met die WCCETC (die Wes-Kaapse gemeenskapsonderwys-en-opleidingskollege) van die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding bied die WCCETC ses vakke aan. Hulle betaal onderwysers om die klasse weekliks in die Lückhoff-skoolgebou in Banghoekweg, Stellenbosch, aan te bied.

Ons het egter tans ’n aantal leerders wat twee uur onderrig per week vereis in die vakke in die tabel hieronder om die eksamen in Junie 2018 te kan slaag.

matric_afr.png 

Die klasse sal ’n aanvang neem sodra ’n onderwyser beskikbaar is. Ons is op soek na dosente en nagraadse studente wat bereid is om die vakke hierbo aan te bied vanaf 1 April 2018 tot 31 Mei 2018, vir TWEE uur per week, elke week van die maand, buiten reses. Vakmateriaal, vorige eksamenvraestelle en ’n kurrikulum sal voorsien word. Ons doen 'n beroep op Fisiese Wetenskappe en Wiskunde-vrywilligers. Onderwysers sal ook terugbetaal word vir fotostate, of krediete sal op hulle US-personeelkaarte gelaai word. Ongelukkig is geen betaling beskikbaar nie, maar onderwysers sal ’n klein weeklikse toelaag ontvang vir vervoer- of ander koste waaroor daar ooreengekom is.

Klasse vind plaas in die Lückhoff-skoolgebou, maar kleiner klasse kan aangebied word op ’n plek wat die bepaalde onderwyser pas. Ons doen dus ’n beroep op personeellede wat vaardig is in die gelyste vakke hierbo om twee uur per week aandklasse aan te bied.

As u daarin belang stel om ons met hierdie verdienstelike saak te help, kontak Grace Bruintjies gerus by graceb@sun.ac.za of 021 808 3640.