Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nagraadse studies rus onderwysers toe om hul beste te wees
Outeur: E Els
Gepubliseer: 31/03/2023

Antoinette van der Hoven het haar meestersgraad in Taalonderrig by Fakulteit Opvoedkunde se gradeplegtigheid in Maart ontvang en sy het haar studies soveel geniet dat sy beplan om in 2024 met haar doktorsgraad te begin.

“Ek wil mense aanmoedig om nagraadse studies by Fakulteit Opvoedkunde te doen. Die nagraadse studiemoontlikhede is van so 'n aard dat dit enige student toerus om die beste moontlike opvoeder in die Suid-Afrikaanse konteks te wees. Ek het selfs my man sover gekry om sy Meestersgraad vanjaar te voltooi!"

Van der Hoven se studie het gefokus op taakgebaseerde taalkunde-onderrig in Afrikaans Huistaal - spesifiek graad 4. Die taakgebaseerde benadering word al vir baie jare in Addisionele Taal-onderrig gebruik, maar is nog nie vir Huistaal-onderrig gebruik nie. Sy het die twee mees bekende Afrikaans Huistaal-handboeke geanaliseer en daarna 'n teoretiese raamwerk opgestel om die taakgebaseerde benadering in die huidige stelsel te inkorporeer.

Uitdagings was volop tydens haar studie. Buiten die COVID-19 pandemie met allerhande uitdagings het Van der Hoven voltyds gewerk terwyl sy haar meestersgraad gedoen het. Sy is 'n deeltydse dosent in die Departement Kurrikulumstudie by Fakulteit Opvoedkunde, Universiteit Stellenbosch. Sy moes ook vir haar eie seun skoolgee tuis en gemaklik word met aanlyn klasgee vir studente. Boonop was beide haar ouers ook baie siek en het talle vriende en kollegas gesterf tydens die pandemie. Die voortdurende vrees en onsekerheid het haar egter motiveer om aan te hou met haar studie.

“Fakulteit Opvoedkunde en Departement Kurrikulumstudies se ondersteuning was ongelooflik! Prof Michele van der Merwe, my studieleier, het behoorlik die ekstra myl saam met my geloop. Ek wil baie beslis in 2024 met my doktorsgraad begin - ek glo vas dat 'n mens nooit te oud is om te leer nie."

Van der Hoven beplan om haar studies en navorsing te gebruik om opvoedkunde-studente toe te rus om die beste moontlike onderwysers te wees.

 

Foto: Stefan Els