Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
SAOG-beurs aan US-student toegeken om ekonomiese integrasie in die streek te bestudeer
Outeur: Tendani Tshauambea
Gepubliseer: 31/03/2023

​Kgomotso Madiba is 'n veelsydige jong vrou wie se identiteit deur sowel haar akademiese as haar nie-akademiese lewe gevorm is. Sy geniet die kunste, geskiedenis, letterkunde, tale en musiek – en jazz is haar gunsteling-genre. Madiba is ook een van die eerste vyf ontvangers van die jaarlikse studiebeurs wat in 2022 deur die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) ingestel is.

Dié navorsingsbeurs is in Februarie verlede jaar gestig ter erkenning en verering van die SAOG-stigterslande vir hul bydraes tot die totstandkoming van hierdie streeksgemeenskap, asook vir hul navolging van 'n soliede streeksintegrasie- en ontwikkelingsagenda. Die beurs is beskikbaar vir nagraadse navorsers in besit van 'n MA-graad (as minimum-vereiste), en wat beplan om hul navorsing of hul studies op doktorale of postdoktorale vlak voort te sit in enige dissipline.

Madiba beskryf haarself as 'n "Universiteit-'hopper'" – sy het haar Sosiale Wetenskappe-graad in Internasionale Studies aan die Universiteit van Pretoria voltooi, en 'n LLB aan die Universiteit van die Witwatersrand. Sy is tans besig met haar Meestersgraad in die Regte (LLM) aan die Universiteit Stellenbosch (US). Sy sê dit was juis te danke aan die US se Regsfakulteit dat sy van hierdie nagraadse beurs uitgevind het.

Haar belangstelling in die regte is geïnspireer deur die positiewe rol wat sy glo dit in die samelewing kan speel. “Die wet bied 'n raamwerk wat ons interaksie met ander en met instellings lei. Ons samelewings ontwikkel voortdurend, vorder, en ondergaan veranderings – of dit nou polities, ekonomies of met waardes en oortuigings is – en die wet verseker dat alle lewendes onder en deur hierdie wysigings verteenwoordig word. Dit bied beskerming en waardigheid aan individuele regte en vryhede, en verseker sodoende 'n billike samelewing," verduidelik Madiba, wat grootgeword het in die dorpie Motetema, naby Groblersdal in Limpopo.

Sy is vir die beurs gekies nadat sy 'n twee-fase-aansoekproses suksesvol voltooi het. Die meriete van haar aansoek het verseker dat sy deur die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding genomineer is om Suid-Afrika te verteenwoordig in die tweede ronde van aansoek-evaluerings tussen die verskillende SAOG-lidlande. Haar aansoek was op die kortlys saam met vier ander kandidate uit die 16 SAOG-lidlande, en saam is hulle die eerste ontvangers van hierdie gesogte beurs.

Madiba erken die geleenthede wat hierdie beurs haar sal bied. “Om 'n ontvanger van die SAOG-beurs te wees, het my as 'n jong Afrika​ vrou bemagtig. Dit is reeds moeilik om beurse te kry om jou opleiding te bevorder, veral in die regsveld. Ontvangs van die beurs is selfbevestigend; dis ook bevestigend van my drome en my selfvertroue, op soveel maniere. SAOG het 'n geloofsprong geneem deur in my te belê," sê sy, “(en dis) goeie ekonomie van hulle kant af, want ek beoog om hierdie geleentheid te gebruik om by te dra tot die verbetering van ons streeksgemeenskap."

Haar Meestersgraad in Internasionale Handelsreg behels die studie van instellings en die samelewing in die SAOG-streek, en sal fokus op die versterking van ekonomiese integrasie hier, met besondere klem op die SAOG-Vryhandelsooreenkoms en die implikasies hiervan op ekonomiese integrasie in die streek.

“Hierdie LLM-kursus het my blootgestel aan die onderwerp van vrye handel en oop markte en hoe dit die lewens van mense in Afrika-lande kan bevoordeel en moontlik bevorder. Uit verdere leeswerk het ek geleer dat plaaslike ekonomiese gemeenskappe 'n veel groter rol te speel het in die implementering van hierdie beleide. Dit het my geïnteresseer en aangespoor om navorsing te doen oor hoe dit gerealiseer kan word. Ek is passievol oor die ontwikkeling van hierdie kontinent, en ek is bereid om by te dra tot die grootsheid daarvan in watter mate ek ook al kan."

Vir Madiba sal die sukses van Afrika nie moontlik wees sonder dat vroue en hul bemagtiging, asook ondersteuningstrukture in plek gestel word om hul deelname aan die ontwikkeling van die kontinent te verseker nie. Madiba glo in die woorde van dr. Ngozi Okonjo-Iweala, die eerste Direkteur-Generaal van Afrika van die Wêreldhandelsorganisasie, dat: “(die) belegging in vroue slim ekonomie is, en om in meisies te belê – om hulle stroomop te vang – is selfs slimmer ekonomie".