Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
SUNFin-span gereed om in Julie 2023 lewendig te gaan
Outeur: Petro Mostert
Gepubliseer: 30/03/2023

​Die Universiteit Stellenbosch (US) sal binnekort 'n nuwe finansiële stelsel hê. Die SUNFin-projek het sy finale fase bereik voordat dit in Julie vanjaar lewendig gaan. 'n Omvattende toetstydperk, wat noodsaaklik is om 'n suksesvolle wolkimplementering van Oracle Cloud Financials (OCF) te verseker, nader sy einde.

“Die SUNFin-span – bestaande uit mense uit verskeie US-afdelings en eksterne vennote – het baie hard gewerk om hierdie kritieke projek op koers te hou. Benewens die naatlose uitvoering van die normale take van die Afdeling Finansies, het hulle baie ekstra ure ingesit om te verseker dat ons ons mylpale bereik," het prof Stan du Plessis, die US se Bedryfshoof, gesê.

“Dit is die enkele grootste stelsel wat die US nog geïmplementeer het. Dit is 'n wonderlike voorbeeld van 'n projek wat toekomsgerig en oplossing-georiënteerd is. Dit het van ons vereis om ons prosesse te hersien en die doeltreffendheid en relevansie daarvan te oorweeg. Dit het ons ook die geleentheid gebied om interne kompleksiteit aan te spreek met 'n moderne wolk-gebaseerde oplossing. Dit is hoe ons die produktiwiteitswinste van digitalisering in ons besigheidsprosesse ontsluit," het Du Plessis gesê.

Aangesien wolkimplementeringsprojekte evolusionêr en geïntegreerd is, moes SUNFin 'n omvattende toetsfase ondergaan. “Die SUNFin-projek het 'n beduidende mylpaal bereik toe die Gebruikersaanvaardingstoetsfase (UAT) begin het. Oor die volgende paar weke sal ons die UAT-fase voltooi en vanaf Mei met gebruikersopleiding begin," sê Manie Lombard, Hoofdirekteur: Finansies.

Lombard het gesê die opleidingsfase sal nou begin, gekoördineer deur Lizzy de Beer, Adjunkdirekteur: Finansiële Stelsels Ondersteuning en Opleiding, in samewerking met die SUNFin-opleidingspan; laasgenoemde bestaan uit die onderskeie vakkenner (SME) van elke besigheidsmodule en hul supergebruikers met kern-finansies ondersteuning. Opleiding sal 'n noukeurig-ontwikkelde opleidingskedule volg en sal in verskeie formate en areas plaasvind: een-tot-een sessies, fokusgroepe en interaktiewe vraag-en-antwoord-sessies is 'n paar metodes wat die opleidingspan sal gebruik om te verseker dat alle gebruikers toegerus en in staat sal wees om die finansiële stelsel optimaal en onafhanklik te gebruik.

“Vanuit 'n tegnologie-oogpunt is dit ons eerste ondernemingshulpbronbeplanning (ERP)-wolkoplossing waar ons toonaangewende is met die nuutste tegnologie wat geïmplementeer word in 'n universiteit van ons kompleksiteit en grootte. Dit is 'n reusesprong wat ons op die tegnologiefront gemaak het," het Denisha Jairam-Owthar, US se Hoofdirekteur: Inligtingstegnologie, gesê.

As deel van die SUNFin-ontplooiing, sal 'n permanente ondersteuningstoonbank vir gebruikers gevestig en bestuur word deur Brendon Grindlay-Whieldon, SUNFin Besigheidseienaar. Saam met webwerf-ondersteuning sal sy span hulp aanbied wanneer nodig. As deel van die ondersteuningstoonbank sal daar ook tegniese ondersteuning van die IT-span wees, wat verantwoordelik sal wees vir die operasionele en tegniese ondersteuning van OCF.

Oor die volgende paar maande sal gereelde kommunikasie via SUNFin-nuusbriewe, die US se webwerf en sosiale media-kanale toekomstige gebruikers van die nuwe finansiële stelsel by die US inlig oor opleidingskedules, implementeringsprosesse en spertye vir die bekendstelling van die nuwe finansiële stelsel. 'n Spesiale e-posadres vir SUNFin – sunfin@sun.ac.za – is beskikbaar vir personeel met vrae oor die projek. Gee asseblief 48 uur vir die SUNFin-span om te reageer.​